Mogale City ‘sleep voete’ met aanstel van nuwe burgemeester

Die ANC-beheerde Mogale City-stadsraad in Krugersdorp is doelbewus besig om ʼn vergadering vir die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester te vertraag, sê Tjaart Steenkamp, ʼn VF Plus-raadslid in die raad.

Hy beskryf dit as ʼn “strategiese skuif om te verhoed dat opposisiepartye die leisels oorneem”.

Burgemeester Patrick Lipudi is op 12 Januarie dood en sy burgemeesterkomitee is dus ontbind. Ingevolge wetgewing moet die pos binne 14 dae gevul word.

Steenkamp sê twee ander ANC-raadslede is weens omstandighede nie in staat om die raadsvergadering by te woon nie. Dít sou ʼn veelparty-vennootskap moontlik maak.

“Sonder ʼn burgemeester kan die stadsraad nie sekere uitvoerende magte uitoefen nie, wat ʼn verlammende uitwerking op die funksionering van munisipale administrasie het. Dit kan noodsaaklike dienslewering aan die gemeenskap nadelig beïnvloed,” sê Steenkamp.

Jaarverslae kan onder meer nie voorgelê word nie, begrotings kan nie opgestel word nie en planne staan stil.

Steenkamp sê die VF Plus doen nou ʼn dringende beroep op die Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, om onverwyld in te gryp sodat die pos gevul kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.