Mogoeng sê oor probleme by Wes-Kaapse regbank

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het aanbeveel dat ʼn tribunaal aangestel moet word om klagtes van growwe wangedrag teen die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe te ondersoek.

Die hooggeregshof is in chaos gedompel nadat adjunk-regterpresident Patricia Goliath in Januarie klagte teen Hlophe ingedien het. Hierin het sy onder meer beweer dat hy ʼn mederegter aangerand en toegelaat het dat sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, wederregtelik besluit wie as waarnemende regters in die afdeling kan dien.

Hlophe het op sy beurt klagte teen Goliath aanhangig gemaak.

Minstens tien regters het vroeër beëdigde verklarings ingedien ter ondersteuning van Goliath se klagte voor die regterlike dienskommissie (RDK) oor die aanranding van regter Mushtak Parker.

Mogoeng se kantoor het Vrydagaand in ʼn verklaring gesê hy het persoonlik ingegryp, omdat versuim om dit te doen, “sal beteken die saak sal vir lank of vir ewig bly sloer”.

“Dit is ondenkbaar dat ʼn regterpresident, maak nie saak hoe kwaad hy of sy is nie, geweld sal pleeg teen ʼn ander persoon, wat nog te sê van ʼn mederegter binne ʼn instansie wat bestaan om misdaad uit die samelewing te roei,” het Mogoeng gesê.

Hy het bygevoeg dat, indien Hlophe Parker deur ʼn gesprek en met behulp van ander regters oorreed het om sy weergawe van die aanranding, wat na bewering in 2019 plaasgevind het, te verander, kan dit beskou word as “optrede só ernstig dat dit teenstrydig is met alles waaroor regterskap gaan – integriteit, eerlikheid en geregtigheid”.

Die tribunaal sal ook Goliath se klag ondersoek dat Hlophe neerhalende taal teenoor haar gebruik het en sy mag misbruik het.

Mogoeng het Hlophe se klag teen Goliath ten volle verwerp.

Alhoewel adjunkhoofregter Raymond Zondo, as waarnemende voorsitter van die regterlike dienskommissie (RDK), Goliath se klag na ʼn paneel regters, naamlik JA Zondi, JA Dambuza en DJP Mojapelo verwys het, is hulle “gediskwalifiseer om die saak aan te hoor omdat hulle voorheen betrokke was by die saak”.

Mogoeng het bygevoeg nadat hy die klagte oorweeg het, is hy oortuig dat die klagtes teen Hlophe ’n tribunaal regverdig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Raak onstlae van zuma se groot vriend hy dink hy kan maak nes hy wil.

Nie Verbaas

Dit sal ook net stil stil onder die mat ingevee word.

JohanR

This guy has been a law unto himself for years. The Western Cape deserves better!

Juffrou

Baie dankie. Uiteindelik optrede. Voordat dit ook onder die mat ingevee word. Verwyder hom! Mense vertrou op die Regsbank en dan word dit bederf met dié vent.