Moja Love-aanbieder in hof oor poging tot moord

Xolani Maphanga (Foto: X/#PutSouthAfricansfirst)

Xolani Maphanga (39), die aanbieder van die Sizok’thola-program, wat op kanaal 157 op DStv uitgesaai word, en Bongani Mkhabela (33), ʼn lyfwag vir die program, asook direkteur en eienaar van die Tshenolo-privaatondersoekmaatskappy, is Dinsdag borgtog van R5 000 elk in die Soshanguve-landdroshof toegestaan.

Die twee staan ​​tereg op drie aanklagte van poging tot moord en betreding.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê daar word beweer dat die twee op 14 Maart saam met ander bemanningslede van die Moja Love-kanaal by die klaer se huis in Soshanguve toegeslaan het.

“Hulle het dwelms gesoek wat volgens hulle deur die klaer verkoop word. Toe hulle nie die dwelms kon kry nie, het die twee glo begin om ʼn vrou – wat ook ʼn klaagster in die saak is – met ʼn sambok aan te rand. Hulle het haar glo ook met ʼn skokgeweer geskok en haar broer – die vermeende dwelmsmous – probeer versmoor. Die vrou het drie dae ná die voorval die saak by die polisie aangemeld.

“Maphanga en Mkhabela het hulle verlede Dinsdag aan die polisie oorgegee nadat ʼn lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik is,” sê Mahanjana.

Die twee het egter in die hof deur middel van ʼn beëdigde verklaring ontken dat hulle die misdrywe gepleeg het en gevra om op borgtog vrygelaat te word.

Die staat het nie hul vrylating op borgtog teengestaan ​​nie, maar het wel gevra om voorwaardes te stel. Hulle mag nie direk of indirek met die getuies kommunikeer nie en moet een keer per week by hul naaste polisiestasie aanmeld.

Borgtog ​​is toegestaan en die saak is tot 21 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vermeende dwelmsmous is in Julie verlede jaar dood kort ná ʼn filmspan van dieselfde program (Sizok’thola) hom oor sy beweerde betrokkenheid by dwelmhandel ondervra het.

Robert “Kicks” Varrie het onder geheimsinnige omstandighede gesterf ná spanlede van die program – in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum – tydens ʼn dwelmklopjag op 19 Julie 2023 op sy huis in Katlehong toegesak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ek het nog nooit sin gekry in dwelms nie. Is dit nie genoeg om elke more wakker te word, die voels te hoor, die son op jou vel te voel, of die reen te hoor val? Dan oor die brekfis tafel na jou familie te kyk en net dankbaar te wees. Nou moet ek gaan soek vir ‘n aar vat nog nie platgeval het om ‘n naald in te druk, of ‘n klomp duur wit poeier my neus op te suig! Maar ek geniet ‘n lekker koue 500ml, of twee bier nou en dan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.