Mokoka pronk wéér in Kaapstad

Stephen Mokoka (middel) het die Kaapstad-marathon vir die derde keer gewen. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Stephen Mokoka het sy derde Kaapstad-marathon gewen nadat hy hakskene vir Ethiopië se Derseh Kassie en Dagnachew Maru gewys het.

Die 37-jarige langasem het die wedloop van 42,2 km in ʼn tyd van 2:09:58 gewen, terwyl Kassie ʼn minuut of wat later in sy spore gevolg het. Hy het in die proses die wentjek van R250 000 ontvang.

Mokoka het verlede jaar ook met die louere weggedraf, terwyl hy in 2018 die Kaapse marathon in ʼn rekordtyd van 2:08:31 voltooi het.

Net terloops, die 50 km-wêreldrekord het ook agter sy naam gestaan nadat hy die Runified Breaking Barriers Ultra-marathon in die Oos-Kaap in ʼn spogtyd van 2:40:13 gewen het.

Daar was vandag vyf Suid-Afrikaanse mans onder die tien topatlete.

In die vroueafdeling het Meseret Meleka van Ethiopië oortuigend gewen. Haar tyd van 2:24:02 is boonop ʼn nuwe rekord en benewens die prysgeld van R250 000 het haar blitsige pas ook vir ʼn meevallertjie van R100 000 gesorg.

Tecla Kirongo (2:27:56) van Kenia was tweede, terwyl Stella Marais die eerste Suid-Afrikaanse vrou by die eindpunt was. Sy het agtste in ʼn tyd van 2:38:34 geëindig.

Onder die rolstoelatlete het Aaron Pike koning gekraai.

Die Amerikaner het die afstand in 1:40:15 afgejaag, terwyl Suid-Afrika se Ernst van Dyk tweede met sy tyd van 1:44:02 was.

Pike was vol lof vir die organiseerders en die roete wat die atlete gevolg het.

“Die roete was fantasties. As ʼn mens van padtoestande praat sou ek sê dat dit beter as Boston en New York is.”

  • Uitslae:

Mans:

  1. Stephen Mokoka (Suid-Afrika) 2:09:58
  2. Derseh Kassie (Ethiopië) 2:11:26
  3. Dagnachew Maru (Ethiopië) 2:11:52
  4. Raymond Choge (Kenia) 2:11:55
  5. Samuel Moloi (Suid-Afrika) 2:14:39
  6. Blessing Waison (Zimbabwe) 2:15:10
  7. Winfred Mutiro (Zimbabwe) 2:16:09
  8. Philani Buthelezi (Suid-Afrika) 2:16:55
  9. Bonginkosi Mavuso (Suid-Afrika) 2:17:12
  10. Raydon Balie (Suid-Afrika) 2:18:45

Vroue:

  1. Meseret Meleka (Ethiopië) 2:24:02
  2. Tecla Kirongo (Kenia) 2:27:56
  3. Judith Cherono (Kenia) 2:30:32
  4. Zinashwork Ambi (Ethiopië) 2:34:02
  5. Webalem Ayele (Ethiopië) 2:34:22
  6. Medina Armino (Ethiopië) 2:36:01
  7. Rebecca Korir (Kenia) 2:36:45
  8. Stella Marais (Suid-Afrika) 2:38:34
  9. Jenet Mbhele (Suid-Afrika) 2:41:36
  10. Happiness Mkhize (Suid-Afrika) 2:46:29

Rolstoelatlete – mans:

  1. Aaron Pike (VSA) 1:40:15
  2. Ernst van Dyk (Suid-Afrika) 1:44:02
  3. Martin Soria (Mexiko) 1:46:43

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.