Mokoka, Steyn blink uit in Kaapstad-marathon

Gerda Steyn in 2019. (Foto: Skermskoot/Twee Oseane)

Reën en sopnat paaie in die Moederstad kon nie keer dat die Suid-Afrikaner Stephen Mokoka soos in 2018 die Kaapstad-marathon wen nie. Dit was sy sesde oorwinning in 16 marathons.

Mokoka se wentyd was 2:09:58. Die Ethiopiër Gebru Redahgne was tweede, sestien sekondes agter Mokoka, met Tebello Ramakongoana van Lesotho derde.

Nagenoeg 9 000 hardlopers van reg oor die wêreld het vanjaar aan dié marathon deelgeneem. Die meeste van hulle was Suid-Afrikaners, meestal van Kaapstad self, berig Cape Talk.

Mokoka het kort voor die 40 km-merk druk op die ander atlete geplaas en een kilometer voor die eindstreep het hy van hulle af weggebreek. Daar was geen kans dat hulle hom sou keer om sy tweede Kaapstad-marathon te wen nie.

In die vroue-wedloop het die Keniane Lucy Karimi en Lydia Simiyu die ander atlete afgeskud met net 2,5 km oor tot by die wenstreep. Simiyu was eerste oor die eindstreep in 2:25:41. Suid-Afrika se Gerda Steyn was vierde, 41 sekondes agter die wenner. Sy het sterk in die voorste groep gehardloop en probeer om die ander atlete af te skud, maar die Keniane het vasgebyt en was uiteindelik te sterk vir haar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Wat ‘n wonderlike wedloop om aan deel te neem. Geluk aan die wenners.

piet ·

Kyk, hierdie Keniane hardloop jou gou kis. As jy die Ethiopiers ook nog bykry, kan jy maar vergeet van top 10 in die vroue wedlope.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.