‘Molefe binnekort finansiesminister’ sê Malema

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom

Indien Julius Malema reg is, sal die omstrede voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, binnekort as minister van finansies aangestel word.

Malema het in ʼn reeks twiets op sy amptelike Twitter-profiel beweer hy het inligting ontvang dat pres. Jacob Zuma beplan om Pravin Gordhan die trekpas te gee en Molefe in sy plek aan te stel. Mcebisi Jonas, Gordhan se adjunk, gaan ook glo afgedank word.

Malema beweer die ANC se top ses is reeds bewus van hierdie planne. “Die top ses respekteer Zuma se reg om ministers aan te stel en af te dank. Amptenare dink egter nie dit is ʼn goeie idee nie,” het Malema getwiet.

Hy het ook gesê Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het Gordhan Dinsdag tydens ʼn vergadering ingelig dat die besluit geneem is om die kabinet te skommel.

“Volgens bespiegeling sal die twee môre (Woensdag) afgedank word, ná oom Kathy (Ahmed Kathrada) se begrafnis. Zuma wil seker maak die begrafnis word nie as ʼn grondslag gebruik vir ʼn veldtog teen hom nie,” het Malema gesê.

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Daar word die afgelope tyd wyd bespiegel dat Gordhan binnekort sy pos gaan kwyt wees, veral nadat Zuma Gordhan en Jonas Maandag beveel het om onmiddellik van Londen na Suid-Afrika terug te keer. Niemand wou tot dusver nog redes verskaf hoekom Gordhan en Jonas so inderhaas moes terugkeer nie.

Joernaliste het gister buite Luthuli Huis in Johannesburg saamgedrom in die hoop op meer inligting, maar tevergeefs. Gordhan het later gistermiddag by die hooggeregshof in Pretoria opgedaag, waar die hofsaak wat hy teen die omstrede Gupta-familie gebring het, aangehoor is. Op ʼn vraag van joernaliste of hy steeds die minister van finansies is, het hy slegs “ja” geantwoord.

Prof. Dirk Kotzé, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Kathrada se dood sal waarskynlik ʼn invloed hê op Zuma se besluit om nou ʼn kabinetskommeling aan te kondig, aangesien die ANC veronderstel is om nou vir ʼn tydperk te rou. Vir Zuma om nou ʼn kabinetskommeling aan te kondig, kan dus as ʼn gebrek aan respek teenoor Kathrada gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

WitBlits ·

Jy hoef nie ‘n malema te wees om te weet dit gaan gebeur nie en dit sal ‘n wonder wees as numba1 respek het vir enige iets, want sover word die nasie geminag in alles wat hy doen!

My tweesent bydrae ·

Daar gaan sekerlik n groot opskop by die Saxonwold Shebeen wees as dit gebeur .

Bloues ·

Hoe spoediger ons besef dat ons nie meer geag word as goeie burgers nie , hoe beter.
Maak vrede daarmee en gaan aan met jul lewens. Geen mens kan dit verander nie.

Wouter ·

As Pravin terug geroep is soos hulle sê hoe sou hy dan gister by sy Hofaansoek kon wees as hy nog oorsee was? Ek ruik iets wat nie lekker ruik nie.

snoefie ·

kan glo hy gaan skoonskip maak maak van die staatskas. kyk hoe het hy AFKOM se wins skoingemaak en omgekeer. pappie. hier kom n ding. vir malema as opposissie van die land se amptelike party is hy goed ingelig en stress al Zuma se ideals na. kan dit blote toeval wees? dalk is hy geoormerk as mcebisi Jonas se opvolger.

Tienkie ·

Regte sirkus!! Wag nou net dat tent moet intuimel!! Hoop nie ons sal te lank moet wag nie!!

Rynhardt ·

Geen verrassing oor Molefe, getroue vriend van Guptas! Hy en Eskom het vir twee jaar n verslag geheim gehou oor hul knoeiery teen jan publiek.Daai inligting moet navore kom sodat publiek kan sien hoe hul uitgebuit was met kragonderbrekings! SA word tans deur twee groepe besit.Die een groep, die Guptas besit die een helfte van SA, terwyl China die ander helfte besit!

Zelieka Saunders ·

Met Molefe in beheer van finansies gaan die hele SA ‘load shedding’ hê. En ek praat nie net van elektrisiteit nie. Dit gaan soveel newe efekte hê. Van epidermiese preporsies! Weereens bewyse dat ANC geen probleem het om die ondergang van SA te verseker nie! Genoeg om van siek te word!! Blerrie onetiese, ongeletterde en onprofesionele idiote!!

Linette ·

O, hier kom ‘n ding! Molefe as Minister van Finansies sal Nummawan ongekontroleerde toegang gee tot die geldpotte van SA. Die Guptas sal kan voortgaan met hul onderduimse bedrywighede. Dit is alles ‘n marionet-spel. Hoekom, dink julle, is Molefe al amper 2 maande gelede as minister (sonder portefeulje) by die kabinet ingelyf? Kathrada se ontydige dood het nou ‘n baie tydelike demper op die proses geplaas om Nummawan en sy vrinne kans te gee om die proses om die vingers in die geldlaai te steek, aan die gang te sit, maar dit sal ook oorwaai. SA is nie alleen op die rand van ineenstorting nie, ons is rééds OOR die rand en klou nog net met ‘n laaste paar vingers vas voor ons onsself in ons desmoerendags val!

John ·

Die hofuitspraak ten gunste van die Guptas sou Zuma seker ‘n hefboom kon gee om van Gordhan ontslae te raak, maar sake lyk beroerd vir die giftige menere en hul advokaat wat rondspring soos ‘n vis op droe grond. Die prez kan of nou roekeloos optree of sy kans afwag tot die einde van die jaar se indaba… of op iets heel erger hoop…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.