Molefe blameer vir Optimum-myn se ondergang

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, getuig voor die Zondo-kommissie van staatskaping. (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency)

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, het Woensdag die skuld vierkantig op voormalige Eskom-hoof, Brian Molefe, gepak dat Optimum Coal Mine uit Glencore se hande gestoei en aan die Gupta-familie oorhandig is.

Dit was nadat Optimum Coal Mine, wat steenkool aan Eskom se Hendrina-kragstasie in Mpumalanga voorsien het, probeer het om op ʼn swaarkry-klousule te steun toe hy gesukkel het om steenkool te voorsien in ooreenstemming met die steenkoolvoorsieningsooreenkoms wat hy met Eskom gehad het.

Glencore, wat Optimum Coal Mine by BHP Billiton oorgekoop het, het ʼn verlies aangeteken van R166,40 per ton steenkool wat hy aan Eskom voorsien het. Dit het neergekom op ongeveer R120 miljoen per maand.

Die maatskappy het versoek dat daar heronderhandel word oor die bepalings van die vasteprys-kontrak sodat die maatskappy ʼn wins kan maak, maar in plaas hiervan het Eskom vir Glencore swaar boetes opgelê nadat die kragvoorsiener geëis het dat hy terugbetaal word vir 16,5 miljoen ton steenkool wat hy by Optimum gekoop en na bewering nie gebruik het nie.

Ephron het gesê Glencore het probeer om met Eskom te vergader sodat die bepalings van die vierde addendum van die kontrak heronderhandel kon word. Dié addendum het die prys en kwaliteitspesifikasies van die steenkool wat deur Optimum Coal Mine gelewer is uiteengesit.

Hy beweer Molefe het sonder enige geldige redes volstrek geweier om die ooreenkoms met Glencore te herbeding nadat hy in April 2015 die leisels by Eskom oorgeneem het.

Ephron sê nadat hulle in Mei 2015 aan Eskom geskryf het, is Glencore ʼn paar weke later ingelig dat Eskom nie bereid is om te heronderhandel nie en dat die kontrak voortduur in sy huidige formaat. Hy beweer ondanks die feit dat ander wysigings in 2011 en weer in 2013 goedgekeur is, is heronderhandeling van die vierde addendum uitgestel tot 2015 toe Eskom se tenderraad dit na Molefe verwys het, wat dit onmiddellik verwerp het.

Brian Molefe.

“Ons het ʼn vergadering met Eskom by Megawatt Park gehad. Ivan Glasenberg en Brian Molefe was albei teenwoordig. Ons wou gehad het Eskom moet sy verpligtinge in die steenkoolvoorsieningsooreenkoms, en die verdere bepalings in die vierde addendum, nakom. Ek weet nie hoekom Brian Molefe geweier het nie. Hy het net vir ons gesê die wysigings in die nuwe ooreenkoms kan nie goedgekeur word nie,” het Ephron gesê.

“Dit was soos om met ʼn baksteenmuur te onderhandel. Dit was nie ʼn bespreking nie, dit was ʼn posisie. Ons het mense by Eskom hieroor uitgevra en hulle was net so verward soos ons. Ek het verstaan dat Molefe by ʼn raadsvergadering ingestem het om beheer te neem van die besprekings met Glencore.”

Molefe het op 10 Junie 2015 formeel die skikkingproses tussen Eskom en Optimum beëindig, wat die steenkoolmyn in onsekerheid gedompel het terwyl aandeelhouers kop uitgetrek het en die myn uiteindelik in sakeredding geplaas is.

Die Gupta-familie se Tegeta Resources het Optimum Coal Mine in 2016 vir R2,15 miljard by Glencore gekoop nadat Eskom ʼn twyfelagtige voorafbetaling van R586 miljoen vir steenkool aan die maatskappy voorgeskiet het. Dit was presies die bedrag wat Tegeta gekort het om sy aankoop van die steenkoolmyn te finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

KP ·

Wonder of Molefe al sy onwettige pensioen uitbetaling aan Eskom pensioenfonds terug betaal het?????
Die hof het dit mos n bevel gemaak.

Hoep-Hoep?? ·

Gaan Molefe vir die mense wat nou nog en al maande sonder inkomste sit , huwelike daardeur opgebreek het, mense hulle eiedomme verloor het, mense en veral kindertjies wat honger gelei het en skool toe moes gaan sonder ‘n broodjie – sal hy nou enige hulp en omstandighede verander?? of dink hy as hy “huil” sal alles maar net weer reg wees???

AP ·

Nee groot meneer sit lankal iewers oorsee en span uit op n eiland

Chris Ws ·

Ek wonder ook of hy sy geld terug betaal het soos die hof beveel het?Almal is doodstil daaroor!Brain behoord eintlik agter tralies NA hy die geld terug betaal het want hy het immers grootskaalse bedrog gepleeg.Waars jy nou Ramaphosa??Gaan jy teen hom optree of nie?Indien nie hoort JY agter tralies!

Bul ·

Hoekom klink iets nie reg mbt Glencore nie? Die wereld se grootste kommoditeitshandelaar. Hulle moes tog die wetenskaplike en regsasvies kon inwin om te bewys hulle kool is volgens standaard….?? Of het almal vergeet Cyril en Glasenberg is groot vriende inteendeel Cyril het op die raad gedien …iewers ‘n slang in die gras.

LouE ·

Is dit nou dieselfde Molefe wat so gesnik het op TV toe hy onregverdig ontslaan is? Gee asseblief vir die man ‘n tissue aan!

Elbie Naude ·

Viva, ‘n Kolonel in vandag se weermag wat met R30,000,000 pension sit, sal mos nie gou gearresteer word nie.

Steve Smit ·

Weereens, jy kan nie entiteite aan identiteite gee wat nie weet wat hulle doen en dan n sukses verwag nie…..

Gerhardb ·

My opinie, al hierdie mense wat geimpliseer word en hand in die sak gehad het met die Guptas, Myne, Eskom, SAL, Denell en die hele spul. Behalwe die feit dat hulle agter tralies hoort, moet Al hulle bates op beslag gele word as ook hulle pensioene, en hulle rekeninge moet toegemaak word. Daardie opbrengs moet terug betaal word in die instansies….

AP ·

Verseker is molefe skuldig , hoort definitief agter tralies , hy is daar met opset geplaas deur zuma om alles goed te keur / deur te voer , dis omtrent dit. Geen wonder die anc het aangedring op swart beheer/bestuur , was maar net om te skep !!!

Marinda ·

Ek sê weer, die wiel is rond en dit draai stadig, maar dit draai.

Henk ·

Hoekom is die zuma gupta molefe motsoeng ens gangsters nog nie in aanhouding nie?

Andre ·

As gekyk word na die bedrae wat bewillig is van onse Cyril se swaer Patrice en waartoe alles lei, wees verseker binne 5 jaar as Cyril se termyn gaan eindig dan sal Eskom verkoop word aan die hoogste bieer en Patrice en Cyril sal n paar miljard vir Eskom betaal en dan sit hulle met die hele ekonomie in hul hande, die is sakemanne wat weet hoe om n sitsuasie te manipuleer. Julle kan die maar teen die swartbord gaan skrywe, Cyril en Motsepe sal die eienaars word van Eskom binne die volgende 5 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.