Molefe ‘moes nooit Eskom-pensioenlid gewees het’

Brian Molefe

Die hoof van Eskom se pensioen-en-voorsorgfonds het Vrydag erken Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, was nooit geregtig op ʼn pensioen van die kragvoorsiener nie aangesien hy op ʼn vaste vyfjaarkontrak aangestel was.

“Hy moes ten eerste nooit ʼn lid van die fonds gewees het nie,” het Sibusiso Luthuli, uitvoerende hoof van die Eskom-pensioen-en-voorsorgfonds, aan die parlementêre komitee wat sake by Eskom ondersoek, gesê.

Op ʼn vraag van Nthuthuzelo Vanara, die leier van die ondersoek, het Luthuli bevestig Eskom het die indruk gewek dat Molefe ʼn permanente aanstelling gehad het voordat die opdrag gegee is dat hy buitengewone pensioenvoordele op 50-jarige ouderdom moet ontvang.

“Met ander woorde, jy het uit goeder trou opgetree nadat die indruk by jou gewek is dat mnr. Molefe ʼn permanente werknemer was? En ons weet nou dat daardie indruk nie korrek was nie. Met ander woorde, Eskom het ʼn wanvoorstelling van die feite aan die pensioenfonds gemaak, of hoe?”

Luthuli het geantwoord die fonds het geen rede gehad om die inligting te betwyfel wat deur die destydse Eskom-voorsitter, Ben Ngubane, aan die fonds gegee is nie. Hulle het gevolglik die reëls van die fonds normaalweg toegepas.

Hy het vroeër verduidelik hoe Eskom opdrag gegee het dat ʼn bykomende 156 maande bygevoeg word by die werklike 16 maande wat Molefe in diens van Eskom was, wat hom toegelaat het om op 50 jaar af te tree met dieselfde voordele wat hy sou ontvang het indien hy tot op 63 jaar by die maatskappy aangebly het.

Die fonds is ook opdrag gegee om alle boetes te laat vaar met die ooreenkoms dat Eskom die fonds sal vergoed.

Volgens die fonds se berekeninge moes Molefe dus ʼn pensioenuitbetaling van ongeveer R26 miljoen ontvang het, maar dit het tot R30,1 miljoen gestyg om twee redes. Eerstens, die fonds het sy berekeninge gedoen met die aanname dat sy salaris onveranderd gebly het en dat sy gade vyf jaar jonger is as hy.

Die berekeninge moes daarna weer gedoen word met sy salarisverhoging in ag genome, asook die feit dat sy vrou “aansienlik jonger” is en in geval van sy dood moet die pensioen vir haar voorsien.

Molefe het gekies om ʼn derde van die pensioen kontant te neem, en ʼn maandelikse uitbetaling uit die oorblywende tweederdes, wat hom ʼn bruto pensioeninkomste van R110 000 gegee het.

Molefe is einde 2016 onder ʼn wolk by Eskom weg nadat ʼn ondersoek deur die destydse openbare beskermer, Thuli Madonsela, hom by verdagte transaksies tussen die kragvoorsiener en die Gupta-familie betrek het.

Die raad het hom sy vorige pos by Eskom teruggegee ʼn jaar nadat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, die pensioenuitbetaling verwerp het, maar ʼn ministeriële taakspan het kort daarna aanbeveel dat hy van die pos onthef word nadat die pensioenkwessie en sy heraanstelling openbare opslae gemaak het.

Die ondersoek deur die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings na Eskom se sake het vandeesweek begin. Dit is gedeeltelik deur Madonsela se bevindinge gedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

zoom zoom ·

Vanwaar Sy claim to fame. En hoekom was dit nooit genoem nie. Hy moet maar sy aandele by die zuptas loop haal.

Eish ·

Die een skande op die ander.
Hoop die jollie patrollie kry end.

pieter ·

AS JY KREMENEEL OPTREE VERBEUR JY JOU REGTE OF LIEG EK OOK NOU.

Korrupsie? ·

Korrupsie? Natuurlik!! Soos ‘n kanker loop dit deur- en omtrent met alles, veral waar geld by betrokke is.

Frikkie (Nie pienk) ·

Eish!! Jammer Luthuli was nie my pensioenfonds se hoof nie. Werk 16 maande en kry 13 jaar se pensioen. En die fonds het geen rede gehad om die inligting te betwyfel nie?? Eish!!

Gert ·

Sluit almal toe. Anmin aanstellings brief. Trek dit af van sy pensioen.

Doreen van Rooyen ·

Nou waar is die interne besigheidsprosesse, standaard praktyk dat ‘n lid nie toegelaat word tot die pensioenfonds of voorsieningsfonds sonder bewys van geskrewe kontrak. So mnr van die pensioenfonds it takes two to tango.

PJC ·

Pensioenfondse het ń volledige rekord van wie die bydraers tot die fonds is en hoeveel elke persoon elke maand bydra. So iemand lieg nog steeds om nie aandadig te wees nie.

HPV ·

Ongelooflike wanbestuur en selfveryking wat mens woedend maak. Dit hou net aan en aan. Niemand kan hulle stuit nie. Die Grondwet het ernstige tekortkominge danksy FW de Klerk, Roelf Meyer en kie. Vraag aan FW en Roelf, Wanneer gaan ons die teenwigte sien? Al wat ons die afgelope jare sien is wigte en gewigte wat al swaarder word. Bring nou asseblief die teenwigte!

Koos ·

Korrek! n Absoluut vrot Grondwet in teenstelling wat almal altyd oor roem! Waar op aarde het jy gesien dat n president soveel mag kan he?

Grassie ·

Hier is sonder twyfel ‘n misdaad gepleeg. Die gemeenregtelike definisie van bedrog lui soos volg: ” Bedrog is die wederegtelike, opsetlike verdraaiing van die waarheid wat werklike of potensiële benadeling vir ‘n ander party inhou,” In hierdie geval is die waarheid ernstig verdraai ten gunste van Molefe en tot nadeel van die pensioenfonds. Almal wat daarby betrokke was het ‘n misdaad gepleeg en behoort krimineel aangekla te word. Ons sal maar moet wag en kyk wat gebeur maar ek het nie veel hoop nie. Ek wonder hoeveel ander pensioenfondse, insluitende die Staatsdienspensioenfonds, word op dieselfde manier ingeloop sonder dat ‘n haan daarna kraai.

Cherokee ·

Waarom is daar nie ‘n korrupsieklag gelê? Grassie stem ook saam dat dit is bedrog in oordrewe vorm.

Elisabeth Kruger ·

Miljoene word in Eskom spandeer en hier in Sabie sit ons nou al van die 9de Okt elke aand in die donker. Moeders kan nie vir hul Kinders kos maak nie, en kinders kan nie vir eksamens leer voor 19h30 wanneer die krag weer aangaan nie. Water is af as die krag ag is. Maar Molefe kan sekerlik sy kinders uitvat vir etes elke aand met daardie maandelikse inkomste.

Cherokee ·

Watter maandelikse inkomste, Elisabeth?
En om jou te troos… hy het getry maar nie geslaag. Juis dìt is waarom ek in die voorafgaande kommentaar vra of daar en indien nie waarom daar nie (reeds) ‘n klag van korrupsie gelê is.

Boet Fasie ·

Nou weet julle hoekom Eskom elke jaar so groot prys verhoging wil he, die arme voos verbruiker moet net aanhou betaal vir al die soustrein reiers

Boet Fasie ·

Nou weet julle hoekom Eskom elke jaar so groot prys verhoging wil he, die arme voos verbruiker moet net aanhou betaal vir al die soustrein ryers

CHRISTA ·

Dis wonderlik!! Jy werk nie eers vir 1 1/2 jaar nie maar kry 15 JAAR se pensioen? G’n wonder Eskom het gevou nie!!

Domvraag ·

Is hierdie nie bedrog nie. Een dat hy nooit lid moes wees. Twee dat die formule gemanipuleer is om n groter pensioen te kry. Drie dat sy kontrak na 5jaar sou eindig en nie aangaan tot 63. Vier dat Lynne Brown gesê het dat hy nie die 30miljoen sou kry nie.
Word niemand vervolg vir die bedrog nie ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.