Molefe moet miljoene terugbetaal

Brian Molefe

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag beveel dat Brian Molefe, die omstrede voormalige hoof van Eskom, die R11 miljoen wat hy reeds ontvang het as deel van sy pensioenuitbetaling by die kragvoorsiener moet terugbetaal.

Die DA en die vakbond Solidariteit het die hof genader vir ʼn beslissing dat Molefe se pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen onwettig was en tersyde gestel moet word. Molefe het reeds R11 miljoen van hierdie geld ontvang.

Die DA en Solidariteit het aangevoer aangesien Molefe slegs ʼn vaste vyfjaarkontrak met Eskom aangegaan het, is daar geen manier dat hy geregtig is op ʼn uitbetaling van Eskom se pensioenfonds nie.

Solidariteit het die uitspraak verwelkom en gesê geregtigheid het geseëvier. “Die hof het daarmee bevestig dat korrupte aktiwiteite vir net so lank weggesteek kan word,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Hermann het gesê dié saak moes nooit eens in die hof beland het nie. “Dit is ʼn kwade dag wanneer hoëprofiel-Suid-Afrikaners hof toe moet gaan om korrupte aktiwiteite te probeer verdedig. Molefe se onregmatige pensioenuitbetaling voldoen aan die klassieke definisie van korrupsie.”

Hy het gesê die uitspraak is ’n belangrike slag wat in die stryd teen korrupsie geslaan is, maar dat dit nie die einde van die pad is nie. “Die uitspraak berei ook die weg voor vir strafregtelike vervolging,” het hy bygevoeg.

“Die direkteur van openbare vervolging het in reaksie op Solidariteit se hofstukke reeds onder eed bevestig dat moontlike strafregtelike oortredings deur Molefe ondersoek gaan word.”

Hermann sê voorts dat Solidariteit die direkteur van openbare vervolging aan sy woord gaan hou en beplan om binne twee weke voorleggings oor die gronde vir strafregtelike vervolging van Molefe te doen.

Hy het gesê Solidariteit sal verdere kommentaar lewer sodra hy die uitspraak bestudeer het.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Karel ·

Die ‘kolonel’ het probleme indien hy al van die ‘geskenk’ spandeer het ??

Drome drom ·

Ek wag in spanning, laat weet my aSSEBLIEF as daar ‘n SENT van MOLEFE in enige rekening terugbetaal word . ek sal Maroela dophou!

Piet Pompies ·

Hierdie is ‘n model uitspraak wat enige politikus wat bedrog gepleeg het nou regop laat sit want vervolging en hof koste kan van die beskuldigde verhaal word indien hy skuldig bevind word. Die kwessie van appel aanteken en belasting betalers betaal die hof en verdediging se onkoste, al word die beskuldigde skudig bevind, is nou op ‘n einde, pappa moet nou self betaal.

Ekke ·

Wees gewaarsku julle klomp korruptes. Die spook het begin loop……

Jacques venter ·

Help my asseblief.

Is die direkteur van vervolging, Shaun Abrahams?

Eddie ·

Molefe is goed geskool in streke en dit sal moeilik gaan om die geld van hom terug te kry !

Koos1 ·

Dit is so alte vir my asof SA besig is met ‘n tweede Waarheid en Versoenings Kommisie.Daar is soveel ondersoeke en verhore aan die gang, as als op een plek was dan sou dit so iets moet heet. Eskom, SASSA, Life Esemedi om nie eers te praat van alle hofsake teen hoë profile mense nie. Hier kan ‘n boek oor geskryf word met so ‘n titel: “SA’s inheritance of Jacob Zuma : What the SA public had to bear”

Asjas ·

Daar is sooooo baie om te skryf en dit gaan alles hare laat rys.
Part 1 of a Thrillargy …

E ·

Stem saam Koos, maar waar is Zuma? Ons hoor niks van hom nie. Die vuur brand om almal behalwe hy. Hoekom?

Max ·

Ek sou nooit die oneerlike gedrag van n kolonel verwag het nie. Nou ja ,ons is in n spliternuwe korrupt RSA !

Jacques Venter ·

Koos1
Ek stem saam
Wat van “The Woeful legacy of Jacob Appeal Zuma”?

Hennie ·

En intussen het Molefi maklik R55 000 per maand aan rente op hierdie geld verdien, na belasting. Wat daarvan, waarom word rente nie gehef nie??

Anoniem ·

Hy behoort ook die rente op daai R11m terug te betaal. Dit beloop duisende rande.

Piet Pompies ·

Pensioen wat as volg uitbetaal, 1/3 is kontant, eerste R500K is belastingvry, die res van die kontant word belas teen die belasting betaler se gemidelde % persoonlike belasting. Die 2/3 word maandliks betaal vir solank as die persoon of sy vrou lewe.

Alida ·

Lekker cry baby. Betaal maar en stuur vir ons bewys van betaling asb.

Adolf Richter ·

Brian wat sonder enige weermag ondervinding aangestel is as Kolonel: Daar is weer n duistere plan daar agter. Ek voorspel hy gaan binnekort bevorder word na Brigadier, dan Generaal. Hierdie skuif deur die ANC het definitief een of ander duister doel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.