Molefe moet opdok, eis Solidariteit

Brian Molefe

Solidariteit het Dinsdag, kort nadat die hooggeregshof in Pretoria Brian Molefe se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys het, ʼn skrywe aan Molefe se regspan gerig.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê in dié skrywe versoek die vakbond geskrewe bevestiging dat Molefe, voormalige hoof van Eskom, in die lig van die hof se uitspraak, die bevel sal gehoorsaam en die geld wat hy onregmatig bekom het teen Vrydag 20 April om 11:00 sal terugbetaal.

Volgens Hermann het Molefe homself doelbewus ten koste van Eskom en die belastingbetalers verryk, en nou het die tyd aangebreek dat hy “moet betaal vir sy korrupte dade”.

“Ons versoek is eenvoudig en duidelik, en as hy versuim om ons skriftelik van sy samewerking in kennis te stel, sal ons nie skroom om verdere regstappe teen hom te doen nie,” het Hermann gesê.

Maroela Media het vroeër berig Molefe het op 31 Januarie sy aansoek om verlof tot appèl ingedien ten einde ʼn hofbevinding teen hom te laat omkeer. Die bevinding was dat hy die geld wat hy reeds deur ʼn onregmatige pensioenuitbetaling van die kragvoorsiener ontvang het, moet terugbetaal.

Dié hofuitspraak wat op 25 Januarie gelewer is, het beslis dat sy heraanstelling en pensioenuitbetaling van sowat R11 miljoen onregmatig was.

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis Molefe is nie geregtig op enige pensioenvoordele van die kragvoorsiener nie en moet daarom die geld terugbetaal wat hy reeds ontvang het van die R30,1 miljoen-pensioenuitbetaling wat aan hom toegeken is.

Solidariteit het reeds ook strafregtelike klagte teen Molefe en die voormalige voorsitter van Eskom, Ben Ngubane, gelê en wag vir verdere optrede deur die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.