Molefe moet R11 miljoen binne 10 dae terugbetaal

Brian Molefe Foto: ANA

Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het tien dae kans om die R11 miljoen terug te betaal wat hy reeds uit ʼn onregmatige pensioenuitbetaling ontvang het.

Só het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag beveel. Die hof het beslis Molefe is nie geregtig op enige pensioenvoordele van die kragvoorsiener nie en moet daarom die geld terugbetaal wat hy reeds ontvang het van die R30 miljoen pensioenuitbetaling wat aan hom toegeken is.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die heraanstelling van mnr. Molefe as die groep uitvoerende hoof by Eskom in stryd is met die wet, dus ongeldig is en gevolglik ter syde gestel moet word,” het regter Elias Matojane uit die uitspraak van ʼn volbank hooggeregshofregters voorgelees.

“Ons het ook bevind mnr. Molefe was nooit geregtig om enige pensioenvoordeel van die Eskom-pensioenfonds te ontvang nie en enige betaling wat as deel van hierdie voordele gemaak is, was onwettig.”

Die DA en die vakbond Solidariteit het die hof genader vir ʼn beslissing dat Molefe se pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen onwettig is en tersyde gestel moet word. Die DA en Solidariteit het aangevoer aangesien Molefe slegs ʼn vaste vyfjaarkontrak met Eskom aangegaan het, is daar geen manier waarop hy geregtig kan wees op ʼn uitbetaling uit Eskom se pensioenfonds nie.

Molefe is onder ʼn donker wolk by Eskom weg nadat hy in Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se verdoemende staatskapingverslag geïmpliseer is.

Die DA se James Selfe het die hofuitspraak verwelkom en gesê dit is ʼn oorwinning vir die Suid-Afrikaanse publiek. “Hierdie uitspraak is nie die einde van Molefe se moeilikheid nie. Die DA het in die verlede strafregtelike aanklagte teen Molefe aanhangig gemaak en dit is nou tyd dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) optree en hom vervolg,” het hy gesê.

Hy het gesê die DA sal seker maak dat Molefe wel die geld binne die tien dae spertyd terugbetaal.

Die ANC se studiegroep oor openbare ondernemings het ook die hofuitspraak verwelkom en gesê die ANC is reg bewys deur hierdie hofuitspraak omdat die party nog altyd van mening was dat die besluit om Molefe weer by Eskom aan te stel roekeloos was en nie in die beste belang van die kragvoorsiener nie.

“Ons mening was nog altyd dat mnr. Molefe by Eskom bedank het, hoewel hy later andersins beweer het. Ons het daarom gesê mnr. Molefe kwalifiseer nie vir ʼn pensioenuitbetaling van Eskom nie, aangesien hy ʼn kontrakwerker was,” het Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die studiegroep, in ʼn verklaring gesê.

“Hierdie uitspraak beklemtoon net weer die noodsaak van ʼn parlementêre ondersoek na die stand van die bestuur by Eskom. Dit is baie duidelik dat daar ʼn erosie van goeie bestuur by ons kragvoorsiener is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Marius ·

Lekker kry vir jou en sluit die toe wat dit aan hom gegee het ook en hy moet sy werk verloor in die weermag.

Rupert Ashford ·

Die ANC is darem maar histeries snaaks partykeer…

So maak mens ·

Sien is glo en bewyse is wragtig!!!
Laat hulle dit openbaar maak of hy dit terug betaal het.
Net soos Zuma wat ook moes “kamma” terug betaal het op sy paleis, maar geen bewysstukke is gelewer. WYS DIT!

zoom zoom ·

Die man hey baie ure ingesit by eskom om die zuptas en guptas te help om hulle sakke te vul. Hy verdien dit om sy deel wat maar net R30 miljoen is te kry. Hoop hy gaan appel aanteken en die saak verder vat. Dan kan ons sien hoe die groep mekaar in die rug gaan steek.

Cherokee ·

Die standaard is dat ⅓ van die totale pensiensom geneem kan word in kontant.
11m is alles behalwe ⅓ van 30.1m. Benewens dit het hy reeds ‘n skaflike rente ontvang op 11m indien dit nie reeds geblaas is nie. Die Eskomiete behoort nie toe te laat dat hul pensioenskema so verinneweer word nie.

Lynette ·

Dit is net bietjie meer as n derde maar aangesien hy glad nie geregtig is op n pensioen nie, wat is die doel van jou opmerking Cherokee?

Cherokee ·

Dit wat ek sê behoort tog duidelik te wees Lynette want ek het dit duidelik gestel. Dit sou dui op nòg ‘n oortreding benewens diefstal van die groot bedrag indien die toegelate persentasie uit totale som oorskry is. So eenvoudig soos dit.

VanAfrika ·

Die Here slaap nie, Hy doen altyd sy werk, daai spiritual sambok slaan seer

Lynette ·

Wat daarvan? Hy het dit nog nie gekry nie en gaan dit nou ook nie meer kry nie.

zoom zoom ·

Die R19 miljoen sal hy ontvang deur die SA weermag waar hy nou n belangrike pos beklee. Of dalk is hy daar vir dieselfde rede as wat hy by eskom was. Wie weet wat laai hulle in zuma se air force one vliegtuig.

Oom Piet ·

Ek sou sê hy moet rente ook betaal op die geld wat hy gekry het, hy het vir ‘n hele ruk gebruik gehad van die geld.

Lindie Lourens ·

Ek dink daar is nou ‘n paar mense wat maar lig slaap. Die tou trek al stywer.

Saartjie ·

Ek hoop dit moet terug betaal word met rente en al……..los maar vir hom n twintigrandjie vir tissues???

Chris Ws ·

Molefi kon nie die betaling uit Escom se pensioenfonds aan homself goedgekeur en gematig het nie.Die persone verantwoordelik daarvoor moet toegesluit word vir diefstal!Heel moontlik is hier omkopery by betrokke!Die saak moet Valke toe gaan.

LB S ·

Ek dink ons kan maar daardie miljoene op ons maag skryf en afvee. Hy het dit seker lankal uitgegee of iewers weggesteek in ‘n Switserse bankrekening. Ek hoop hulle neem onmiddelik beslag van sy bates.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.