Molefe se appèlaansoek binnekort aangehoor

Brian Molefe Foto: ANA

Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se appèlaansoek teen die bevinding oor sy heraanstelling en pensioenuitbetaling sal Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregdienste by Solidariteit, het gesê volledige argumente van beide partye sal aangehoor word.

Dit volg nadat Molefe op 31 Januarie sy aansoek om verlof tot appèl ingedien het ten einde die hofbevinding teen hom te laat omkeer. Die bevinding was dat hy die geld wat hy reeds deur ʼn onregmatige pensioenuitbetaling van die kragvoorsiener ontvang het, moet terugbetaal.

“Dié hofuitspraak wat op 25 Januarie gelewer is, het beslis dat sy heraanstelling en pensioenuitbetaling van sowat R11 miljoen onregmatig was.”

Van der Bijl het gesê dat Solidariteit die aansoek teenstaan.

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis Molefe is nie geregtig op enige pensioenvoordele van die kragvoorsiener nie en moet daarom die geld terugbetaal wat hy reeds ontvang het van die R30,1 miljoen-pensioenuitbetaling wat aan hom toegeken is.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die heraanstelling van mnr. Molefe as die groep- uitvoerende hoof by Eskom in stryd is met die wet, dus ongeldig is en gevolglik ter syde gestel moet word,” het regter Elias Matojane uit die uitspraak van ʼn volbank hooggeregshofregters voorgelees.

“Ons het ook bevind mnr. Molefe was nooit geregtig om enige pensioenvoordeel van die Eskom-pensioenfonds te ontvang nie, en enige betaling wat as deel van hierdie voordele gemaak is, was onwettig.”

Die vakbond Solidariteit en politieke partye het die hof genader om te versoek dat Molefe se pensioenuitbetaling ter syde gestel word.

“Môre [Dinsdag] is bloot Molefe se poging om die onafwendbare uit te stel. Ons vertrou dat die regter nie geregtigheid sal vertraag deur die appèl toe te staan nie,” het Van der Bijl gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Manie ·

Miskien moet hy maar weer sy traan kraantjie oopmaak. Miskien kry die regter hom jammer want min mense op straat lyk my kry hom jammer

Oom Kalahari ·

Lynne Brown wat die heraanstelling gedoen het moet ook aangekla word.

JM ·

Daar is bitter min gewone werkers wat hulle lewe lank by een plek werk om vir so ‘n pensioen te kwalifiseer

SjN ·

Die persone wat die berekeninge gedoen het en die wat dit gemagtig het moet ook vervolg word.

Hendrik ·

Nou net gehoor dat die kolonel die geld moet terugbetaal nadat hy sy verlof tot appel verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.