Molefe se pensioen ‘is sy pot goud’

Brian Molefe in die hof. Foto: ANA

Die vakbond Solidariteit het Woensdag aan die hooggeregshof in Pretoria gesê die proses waartydens Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, ʼn pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen ontvang het, is nie te goeder trou gedoen nie en het bloot verseker dat hy “met die pot goud” wegstap.

Adv. Anton Katz het aan ʼn volbank regters in die volgepakte hof gesê die uitbetaling aan Molefe is gedoen met die voorneme om te mislei om te verseker dat Molefe ʼn massiewe bonus ontvang. Katz het gesê indien die hof bevind Molefe is weg by Eskom weens sy gewillige bedanking, moet hy die geld terugbetaal wat aan hom as ʼn pensioen uitbetaal is.

“Indien daar bevind word dat mnr. Molefe in November 2016 uit vrye wil bedank het, dan is dit voor die hand liggend dat hy [die geld] moet terugbetaal. Dit is so eenvoudig soos dit. Daar kan geen argument daaroor wees nie. Ons verstaan nie dat mnr. Molefe enige argument teen daardie voorstel het behalwe tegniese argumente nie,” het Katz gesê.

Katz het aan die hof gesê sy kliënt, Solidariteit, is ʼn vakbond wat 7 000 lede het wat vir Eskom werk. Die DA en Solidariteit het saam die hof genader om te versoek dat daar beveel word dat Molefe se R30 miljoen-pensioenuitbetaling onwettig was en ter syde gestel moet word.

Die partye wil ook hê Molefe moet die R11 miljoen terugbetaal wat hy volgens berigte reeds ontvang het as deel van die uitbetaling.

Molefe hou vol daar is vroeë aftrede aan hom toegestaan, ten spyte van die feit dat hy in die openbaar aangekondig het hy het bedank ʼn dag nadat sy naam in die openbare beskermer se staatskapingverslag opgeduik het.

Die hoëprofielsaak word vandag voor regter Elias Matojane, regter Hans Fabricius en regter Segopotje Mphahlele aangehoor.

Molefe was Woensdagoggend in die hof en het aandagtig na die verrigtinge geluister. Die saak, wat vandag begin het, is vir drie dae op die hofrol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Mag geregtigheid tog in die geval seëvier en momentum opbou vir die sake wat gaan volg.

Veritas ·

Eish jy slaan die spyker op die kop. Al wat nodig is om die staatskaping en gepaardgaande korrupsie hok te slaan, is vir een saak om deur ‘n hof verhoor te word. ‘n Skuldigbevinding gaan die deure oopmaak vir honderde ander gevalle om hof toe geneem te word. Op hierdie stadium blyk dit die enigste roete te wees om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red.

Chris Ws ·

Brian jy het geen skaamte in jou nie.Om te WEET jy was skelm en nog so vroom te sit en luister verg goeie toneelspel.Jy is in die verkeerde beroep – word ‘n akteur,jys reeds ‘n dekselse goeie een!

Justice ·

Indien hy nie `n verlof vorm ingevul het nie was Kol. Molefe nog boonop op AWOL tydens die hofverigtinge .

Genieve ·

Wat het hy in die 6maande gedoen by Eskom??? en wil weg stap met R30 miljoen???
Mnr en dis vir niks doen nie..geregtigheid moet geskied.

Jordaan ·

Hy het dan in trane voor die hele volk gebieg en gese hy bedank? Daar kan mos nie enige vermoede wees dat iemand so tekere gaan as hy op pensioen gaan nie (sal veral nie huil as mens weet watter tipe bedraggie wag nie)

Hester ·

Ek wil net iets probeer verstaan was die man nie as kontrakteur aangestel nie, dan is hy mos nie geregtig op eninge pensioengeld nie? Kan enige iemand vir my verduidelik of versteaan ek dit verkeerd?

Elizabeth ·

Wat van al die ander??? Ek hoop hulle gaan ook verhoor word. Daar is miljarde wat aan die belastingbetaler geskuld word. Laat dit seblief terugkom sodat ons kinders kan werk kry.

Nita ·

Ek wou ook graag n werk gehad het wat R30 miljoen pensioen betaal vir nie eers 5 volle jare se werk nie. So word die belastingbetalers se swaarverdiende geld, by die miljarde rande vermors. Dis hoe Molefe en sy soort die gaping tussen ryk en arm, wyer en wyer,rek. Vergeet van nou af om die apartheidsregering vir armoede te blameer. Die ANC het miljarde rande gehad om arm mense se lot te verlig. Maar dit het hulle nie gepas nie.

GVOL ·

Almal weet daar gaan niks van kom. Wil eintlik vloek. Ons gaan maar weer net betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.