Molefe strafregtelik aangekla

Dirk Hermann spreek joernaliste toe. Foto: Facebook.

Solidariteit het vandag strafregtelike klagte teen die voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, en die voormalige voorsitter van Eskom, Ben Ngubane, by die SAPD, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, dui die feite daarop dat Molefe en Ngubane saamgespan het om ʼn onregmatige transaksie saam te stel wat R30 miljoen pensioengeld onwettig aan Molefe toegeken het.

Solidariteit vra dat Molefe en Ngubane van onder meer bedrog aangekla word omdat Molefe verryk is deur ʼn onregmatige handeling tot nadeel van Eskom.

“Die klagte fokus spesifiek op bedrog omdat Ngubane en Molefe ʼn onwettige skema ontwerp het om Molefe te verryk. Dit volg die klassieke definisie van bedrog,” het Hermann buite die Garsfontein-polisiestasie aan joernaliste gesê.

Solidariteit vra ook dat die twee aangekla word ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, die Maatskappyewet, die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Skuldigbevindings kan tot tien jaar tronkstraf lei.

Volgens Hermann kan daar ʼn prima facie- strafregtelike saak uitgemaak word teen Molefe en Ngubane. Solidariteit vra dus dat die Valke die saak ondersoek en die bewerings in die hof getoets word. Klagte is ook by die SAPD en die NVG ingedien.

Dirk Hermann spreek joernaliste toe. Foto: Facebook.

Solidariteit vra verder dat ander hooggeplaastes by Eskom soos Anton Minnaar, die bestuurder wat verantwoordelik is vir die uitvoerende span, asook lede van Eskom se vergoedingskomitee en direksie, ondersoek word omdat hulle nie hul regsplig om onregmatige aktiwiteite te openbaar nagekom het nie.

Solidariteit se klagte volg onder meer op ʼn verdoemende uitspraak deur ʼn volbank regters in die Noord-Gautengse hooggeregshof wat strafregtelike vervolging regverdig.

Die hof het onder meer verwys na die openlike gulsigheid en gebrek aan integriteit en skaamte van die leierskap in Eskom.

Die hof het ook bevind dat die onwettige pensioenskema doelbewus deur Eskom en Molefe uitgedink is.

Die hof het beveel dat alle geld wat ingevolge die onregmatige pensioenskema aan Molefe uitbetaal is, terugbetaal moet word.

Die klagte moet ook gesien word teen die agtergrond van die bewerings in die openbare beskermer se verslag oor staatskaping waarin Molefe onder verdenking geplaas word in verdagte transaksies met Tegeta Explorations and Resources wat noue bande het met die Gupta-familie en Duduzana Zuma, pres. Zuma se seun.

Foto: Verskaf.

Volgens Hermann is dit duidelik uit die verloop van gebeure dat Molefe en Ngubane saamgewerk het om die onregmatige uitbetaling doelbewus te beplan. Die finale goedkeuring is onder die handtekening van Ngubane gegee ingevolge ʼn artikel wat nie van toepassing was nie.

“Hulle het al twee geweet Molefe kom nie in aanmerking vir die uitbetaling deur die pensioenfonds nie, maar het doelbewuste wanvoorstellings gemaak,” het Hermann gesê.

Hermann voer aan dat Molefe en Ngubane wesenlik verantwoordelik was vir die rekenkundige integriteit van ʼn openbare instelling. Volgens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur is daar van hulle verwag om met omsigtigheid met die bates van Eskom om te gaan en met getrouheid, integriteit en eerlikheid op te tree.

Volgens die Maatskappyewet is ʼn persoon skuldig aan ʼn oortreding indien hy betrokke was by enige handeling met ʼn bedrieglike doel.

Die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite bepaal verder dat dit strafbaar is om jou gesag te misbruik om ʼn onregverdige uitkoms te bereik.

“Om die geld terug te betaal is die regte ding, wat Molefe steeds nie wil doen nie, maar dit is nie voldoende nie. ʼn Terugbetaling maak nie strafregtelike klagte ongedaan nie. Die feit dat Molefe aansoek gedoen het om verlof tot appèl het ook geen invloed op die strafsaak nie,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Hulle kla elke week iemand aan of by die Brooklyn of Garsfontein polisie stasie en sê asb wat het al ooit van die sake geword?

GE ·

Hulle doen ten minste IETS. Wat het jy gedoen uit jou gemaklike leunstoel. Die aanklagte staan. Kanse is dat met Zuma uit die pad en al die mense wat hom en sy kronies beskerm het, al die vorige klagtes nou ook bygewerk en oorhandig sal word vir vervolging. Gerrie Nel is nie meer ‘n staatsaanklaer nie en hy kan dus nie inmeng by enige strafregtelike klagtes anders as ‘n “vriend” van die hof nie. Mense moet dalk ophou “moan” en dalk self probeer opstaan vir hulle regte en veral vir geregtigheid. ‘n Hulporganisasie en Unie soos Solidariteit/Afriforum is nie daar om vir “almal” in die bresse te probeer tree nie. Hulle is nie ‘n politieke party nie. Vra liewer wat het enige van die politieke partye gedoen. Absoluut niks. Hulle is te bang hulle verloor steun.

mossie ·

Ja, asb wat word van die klagtes – want daarna gebeur niks nie- of neem dit soveel tyd?
Waarom is Gerrie Nel ook so stil?
Wat het van hom geword?

Anoniem ·

Goeie vraag, waar is Gerrie Nel? Besig om ons aan die neuse rond te lei want niks gebeur nie!

Frikkie Geld en huis ·

Adv Nel is iewers besig met iets. Moenie dat jou bekommer nie. Solidariteit gaan hom defnitief nie met ‘n goeie salarispakket aanstel en dan toesien dat hy leeglê nie.

Alida ·

Ella ek stem saam. Die wat so klippe gooi doen NIKS. Hierdie prosesse neem baie tyd maar ons sal daarvan hou om deurentyd op hoogte gehou te word.

DewaldS ·

My getalle kan ‘n klein bietjie uit wees, maar ek verstaan Afriforum het naby 200 000 betalende lede en Solidariteit so 215 000. DIt beteken ‘n lede-inkomste van so tussen 40 en 50 miljoen rand per maand. Moeilik om te kan sê of hulle genoeg doen…

TLC ·

Wel ek het my bydra gestop wat ek al jare aan afriforum betaal en by wollies animal project skenk daar kry ek baie meer genot uit om te weet dit gaan aan 4 pote wat dit baie nodiger het

@DewaldS ·

Ek kan nie dink dat jy dink dat Solidariteit en Afriforum net EEN aksie het en dit is om Molefe aan te kla nie. Solidariteit moet daagliks sy lede in die werksplek en by die CCMA en Arbeidshof verdedig, daar kom nie net duisende oproepe in nie, maar ook duisende mense wat in hulle werksplek regshulp verlang. Helpende Hand reik uit na armes en Afriforum vat baie sake soos Afrikaans in die Universiteite en godsdiens in skole aan, en maak tot slaggate reg. Iemand moet daarvoor betaal, ook vir die sekuriteitsfirmas wat julle kinders veilig hou tydens optogte voor skole. Daar is honderde mense wat by die twee organisasies werk, so as jy die salarisse aftrek, hoeveel dink jy is daar oor? Regsprosesse neem natuurlik ook baie tyd, dit is nie iets wat jy kan afjaag en more die resultate van kry nie. So voordat jy jou mond nou weer uitspoel oor Solidariteit en Afriforum VRA eerder WAT JY KAN DOEN VIR JOU LAND!

Alida ·

Gelukkig vir elke een wat bydrae stop kom daar 200 nuwes by. Kry vir julle.

Gerrit ·

Hulle het n besigheid geword wat wins na jaag boer by die polisie stasies om mense aan te kla met die media wat altyd toevallig daar is om te berig hoe hulle vir die afrikaner baklei

Koos ·

Wat het geword van al die klagtes wat by die mense regte komisie gelê is n groot media konferensie word gehou om Mugabe se vrou te vervolg maar die boer Benson van Brits sit in aanhouding onregverdig en niemand help hom nie nee die klomp moet hulle preoriteite regkry of die geld gaan baie minder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.