Molefe weer by Eskom aangestel: ‘Bespotting van OB-verslag’

Brian Molefe

Eskom se besluit om Brian Molefe weer aan te stel as die hoof van dié maatskappy maak ʼn bespotting van die verdoemende staatskapingsverslag van die vorige Openbare Beskermer (OB) oor sy verhouding met die Guptas.

Só sê Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus. Hy sê die boodskap wat hiermee uitgestuur word, is duidelik dat die regering besluit het dat die bewerings wat in die verslag teen Molefe gemaak word, nie verder ondersoek gaan word nie, aangesien hy nie sou kon terugkeer met die wete dat ʼn ondersoek op hande is nie.

Die OB-verslag het onder meer bevind dat Molefe en Ajay Gupta mekaar 58 keer gebel het tussen Augustus 2015 en Maart 2016 en dat selfoonrekords hom in die omgewing van die Guptas se woning Saxonwold geplaas het kort voordat ʼn Gupta-maatskappy ʼn kontrak van R600 miljoen van Eskom losgeslaan het.

“Daar kan sekerlik nie twyfel wees dat Eskom ʼn boodskap van pres. Jacob Zuma gekry het dat Molefe nie ondersoek gaan word soos die OB aanbeveel het nie. Die aanbevelings in die verslag kan net verander word deur ʼn hof. Die president moet dit nou reeds deeglik besef.

“Molefe het hiermee die ondubbelsinnige boodskap gekry dat hy gevrywaar sal word. Die beweringe teen hom is nog nie ondersoek nie.”

Volgens die VF Plus is dit deel van die Zuma-kamp se poging om sy politieke en ekonomiese greep op die land te verstewig.

“Die afgelope jare is gekenmerk deur uiters swak korporatiewe bestuur by Eskom, en om dit te kroon die verdoemende verslag oor sy bestuurshoof se aandeel in wat die OB staatskaping noem,” het Alberts bygevoeg. “Nou kry hy net die groen lig om met sy vernietigingswerk voort te gaan. Dit is ʼn klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner en ʼn blatante, openlike poging van die betrokkenes om voort te gaan met die proses van staatskaping en om Eskom verder leeg te melk in die proses.”

Alberts het gesê die VF Plus sal die verwikkelinge rondom Eskom en Molefe met valkoë dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leendert ·

En as ons etikette om hul nekke hang, dan is ons rassiste, maar wie gee om, ons huppel en dartel blymoedig voort.

Steenkool ·

Die VF Plus moet n bietjie die vergelyking tussen die beurtkrag dae en die steenkool kontrakte ondersoek. Dit is my mening dat daar n baie groot verband tussen die twee is.

Yster ·

En nou verstaan ek dat baie mense nie hulle tv lisensie betaal nie. Want SAUK gee nie om vir geld nie. Doen wat hulle wil. Gerrie Nel hier is n lekker uitdaging vir jou.

Manie ·

Die ou skelm is te dikvellig om self te loop. Hy het nog n werkie om af te handel in Eskom veral as dit by kontrakies kom. Ek sal graag wil sien met n ondersoek wat het gebeur met beurtkrag. Ek se Eskom het self die krag afgesit om mense te dwing om die duurder tariewe te aanvaar

realis ·

Nee wag nou. Die man moet nog sy R30 miljoen pensioentjie kom af werk.
Wees nou redelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.