‘Molestering-voorvalle’ by laerskool is opgemaak, hoor hof

hof-hamer

Argieffoto

Die regsverteenwoordiger van die veiligheidsbeampte van die AB Xuma Primary School in Johannesburg wat daarvan beskuldig word dat hy leerders seksueel aangerand het, het Maandag aan die hooggeregshof in Palm Ridge gesê sy kliënt is in ʼn lokval gelei en valslik betrek.

Lumka Xoxo het tydens die kruisondervraging van Maria Mthimkhulu, die skool se hoof, gesê onderwysers en ouers was verdeel oor die behoefte aan ʼn veiligheidswag en gevolglik is Johannes Molefe onder verdenking geplaas om soos die skuldige te lyk.

Molefe staan tereg op drie aanklagte van verkragting en 11 van seksuele aanranding.

Xoxo het dit aan Mthimkhulu gestel dat ʼn man aangedring het om toegang tot haar kantoor te kry twee weke voor die bewerings teen Molefe aan die lig gekom het.

“Soveel dinge het by die skool gebeur. Ek kan nie onthou nie,” het Mthimkhulu gesê.

Xoxo het dit aan Mthimkhulu gestel daar is kameras in die skool en niemand kan leerders molesteer sonder dat dit op kamera vasgevang word nie.

“Ja, daar is kameras,” het sy geantwoord.

Regter Peet Johnson het gevra of die kamers die hele speelterrein en die buitegebied dek. “Ja, hulle wys waar die kinders speel,” het Mthimkhulu gesê.

Sy sê sy was in die kantoor waar die skerms van die veiligheidskameras is en kon sien wat gebeur buite.

“Is die beeldmateriaal opgeneem?” het Johnson gevra. “Ja, daar is vir my gesê die kameras neem alles op wat buite gebeur,” het Mthimkhulu geantwoord.

Sy sê niemand het egter die beeldmateriaal nagegaan nadat die bewerings aan die lig gekom het nie, want “alles het so vinnig gebeur”.

Xoxo het dit vroeër aan Mthimkhulu gestel daar is ʼn kind se naam op die lys van beweerde slagoffers, maar dié kind het aan die polisie gesê daar het niks met haar gebeur nie. Xoxo het Mthimkhulu gevra wat het van die ander kinders geword wat nié getuig nie.

“Ek weet nie, want die ouers het nie teruggekom na my toe nie. Aanvanklik, toe hierdie saak in die media ter sprake gekom het, was daar 87 kinders,” het Mthimkhulu gesê.

Xoxo het aangevoer die lys van kinders wat “seksueel aangerand” is, is “opgemaak” en dat daar net lukraak op name besluit is vir dié lys.

Die skoolhoof het gesê die skool is verdeel in ʼn juniorfase- en seniorfase-afdeling. Sy sê daar word toesig oor die juniors gehou omdat hulle nie wil hê die junior leerders moet by die ouer kinders kom nie.

“Oor middagete sal onderwysers stoele sit waar hulle kan dophou dat kinders nie seerkry nie.” Sy het erken daar word nie altyd oor die kinders toesig gehou nie.

Die saak sal vandag voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Skroef ·

Ai, was die kinders dan nie deur n mediese dokter ondersoek nie? Ek hoop die VALS klagte kan bewys word en dar die veiligheidswag sy miljoene kry. Indien dit valse klagte was, verdien hy dit. Die misdaad teen kinders is vir die res van ons n baie emosionele saak. Die kinders behoort n agfedankde loesing te kry omdat hulle so blatant lieg. SIES!

RHG ·

Kleintjies word maklik voorgesê en verstaan glad nie die gevolge nie. Ek hoop dis alles onwaar. Ek was nogal skepties oor die groot aantal kinders en het gewonder waar op ‘n skoolterrein iemand dit ongesiens sou kon doen. Kinders is gewoonlik ook onder een of twee onderwysers se toesig na skool, totdat hulle opgelaai word.
Dit is vir seker elke man se nagmerrie om van so iets beskuldig te word.

Trinity ·

“Soveel dinge het by die skool gebeur, ek kan nie onthou nie.” Die stelling laat ‘n mens wonder wat alles by die skool aangaan. Hoe kan ‘n mens nie onthou as iemand aandring op toegang tot die hoof se kantoor nie? As die aantuigings waar is, sou dit nie ‘n standaard reaksie gewees het om dadelik na die beeldmateriaal te kyk nie? Dit klink nie asof die hoof weet wat op haar terrain aan gaan nie.

Geregtigheid ·

Dis so gerieflik om te se: Ek kan nie onthou nie. Ek ruik n rot. Hier gaan meer verkeerde dinge of praktyke wat nog nie tot die oppervlak gekom het nie. Lieg vang altyd sy baas! Maar die ergste, n skoolhoof wat lei aan geheue verlies. Ek wonder wat is die kwaliteit van onderrig dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.