Moloto-ongeluk: Transitovoertuig het glo beheer verloor

Foto: Netcare 911

Blade Nzimande, minister van vervoer, het sy medelye betuig met die familie en vriende van die ses persone wat Maandagmiddag omgekom het in ʼn ongeluk op die R574 Moloto-pad in Kameeldrift, Pretoria.

ʼn Putco-bus, SBV-pantservoertuig en ʼn Toyota Avanza was in die botsing betrokke. Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) was 80 persone op die bus waarvan 23 na hospitale geneem is en vier gesterf het. Twee persone het in die Toyota gery en drie persone het in die transitovoertuig gery waarvan twee beseer is en een oorlede is. ʼn Sesde persoon het Dinsdagoggend in die hospitaal gesterf.

“Die bestuurder van die SBV-voertuig het na bewering beheer verloor oor die voertuig en eers die bus reg van voor getref waarna die Avanza die bus getref het,” het Ishmael Mnisi, woordvoerder van die departement van vervoer, gesê.

Nzimande het die RTMC versoek om die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk te bespoedig en die Padongelukkefonds versoek om die nodige ondersteuning en vertroosting aan die familie van die oorledenes en die beseerdes te verskaf.

“Alle pogings word aangewend om die naasbestaandes van die oorledenes op te spoor en in kennis te stel,” het Nzimande gesê.

Die 160 km stuk pad wat deur Gauteng, Mpumalanga en Limpopo strek, word daagliks deur sowat 60 000 pendelaars gebruik.

“Sanral is besig om die pad in Mpumalanga en Limpopo op te knap teen ʼn bedrag van R4,5 miljard. Dit sluit verbetering aan padveiligheidsmaatreëls in,” het Nzimande bygevoeg.

Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, het in ʼn verklaring sy medelye aan almal wat deur die botsing geraak word uitgespreek. “Ek deel SBV se diepste simpatie met die oorledenes se gesinne en wens diegene wat beseer is, ʼn spoedige herstel toe,” lui die verklaring. Volgens Barret is die maatskappy nie in staat om verdere besonderhede bekend te maak oor die presiese oorsaak van die ongeluk nie, aangesien SBV nog wag op die uitslag van ʼn volledige ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tinker ·

My suster se seun is op daai pad dood ook in n ongeluk omdat mense jaag. Maar daarvan was nie eers n klein berig nie. Daai pad is gevaarlik, punt

Dries du Toit ·

Hulle kan daai pad maar 8 bane both ways maak,solank as verkeerspersoneel nie hulle werk doen nie,voertuie wat se PWS al in1959 verval het wat tn 6km/u aankruie sonder ligte en roekelose bestuurders wat sero voel vir padreels of sy medemens,sal daar altyd ongelukke wees.n Pad veroorsaak nie ongelukke nie,hys n dooie ding.

GM ·

Hulle kan maatreëls in plek probeer sit soos hul lus het, party mense hoort net nie agter die stuur nie.

Sterkte aan die oorledenes se naasbestaandes. Mag die beseerdes gou herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.