Momberg se regspan wil haar nie verteenwoordig

‘n Skermskoot uit die video wat deur eNCA op YouTube gelaai is.

Vicki Momberg, die vrou wat verlede jaar op videokamera vasgevang is toe sy ʼn Johannesburgse polisiekonstabel die k-woord genoem het, se regspan het Dinsdag aan die hof gesê hulle wil haar nie meer verteenwoordig nie.

Momberg se regspan het ʼn aansoek in die Randburg-landdroshof gebring om te versoek dat hulle van die saak kan onttrek. Adv. Yusuf Baba, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê hy het ʼn nota van adv. Joe Davidovitz van die verdediging ontvang waarin hy aandui hulle wil hul dienste onttrek, aangesien die situasie tussen die regsfirma en Momberg onhoudbaar geword het en sy geen vertroue in hulle het nie.

Davidovitz het dit op rekord gestel dat hy ʼn etiese verpligting het om te onttrek. “Ek vind dit onhoudbaar om voort te gaan. Me. Momberg gee vir my teenstrydige instruksies van hoe die betooghoofde aangebied moet word. Ons het dit nie voorberei nie,” het hy gesê.

“Ek is tevrede om hul onttrekking te aanvaar,” het Momberg aan landdros Pravina Raghoonandan gesê toe sy haar reaksie gevra het op haar regspan se versoek. “Hulle verteenwoordig my nie en hulle kom nie afsprake na nie. Hulle volg nie instruksies nie en die prokureur het vir hierdie hof gelieg. Hulle het nie hul verpligtinge teenoor my nagekom nie,” het sy gesê.

Raghoonandan was ooglopend geïrriteerd met Momberg wat nie haar samewerking gegee het nie en self vir die landdros gesê het om te “wag” toe sy haar vrae vra. “Jy grens aan minagting van die hof. Sit neer daardie pen! Aanvaar jy hul onttrekking of nie?” het Raghoonandan aan Momberg gevra.

Baba het aan die hof gesê: “Niks verbaas my nie, maar ons moet eties wees. Twee weke gelede het ek mnr. Davidovitz gekontak en hom die elektroniese betooghoofde gegee en ek het haar Vrydag laat kom om te teken dat sy die transkripsies ontvang het.”

Baba het daarna die verskillende kere genoem wat Momberg van regsverteenwoordigers verwissel het en gesê dit is ʼn “duidelike tendens” dat sy nie met enige prokureur oor die weg kom wat saam met haar werk nie.

“Daar kan slegs een keer kennis gegee word,” het hy aan die hof gesê. “Die rekord is vanselfsprekend. Die rekord sê een ding en sy sê ʼn ander ding. Me. Momberg is die probleem.”

Momberg het aangehou om haarself te verdedig en haar regspan daarvan beskuldig dat hulle by ʼn kroeg was toe sy hulle gebel het om die saak te bespreek. Raghoonandan het daarna die verdediging se aansoek om te onttrek geweier.

Momberg is in Februarie 2016 op beeldmateriaal vasgevang waar sy beweerde rassistiese uitlatings teenoor ʼn polisiebeampte maak nadat ʼn grypdief haar motorvenster stukkend geslaan het. Tydens haar vorige hofverskyning het die staat gesê sy het die k-woord 48 keer in die video gebruik.

Sy staan tereg op vier strafregtelike aanklagte van crimen injuria vir haar beweerde uitlatings.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

christa ·

Ek kan my indink hoe sy gevoel het toe die skelm haar handsak gryp, ek was al in dieselfde boitjie en buite myself van woede en het net so opgetree. Sy moet darem netbesef die regsmense wil haar bystaan en haar kant bring.

Cherokee ·

Ek hou van jou benadering Christa. Jy is heeltemal reg. Soos jy sê, sy was woedend en buite haarself maar sy sal moet kophou en na kundiges luister.

Wit hond ·

Gelukkig is daar niemand wat ‘n wit hond genoem is want dan was daar nie ‘n saak nie.

msp ·

Ek dink malema doen honderdmaal erger dinge en niks gebeur met hom nie. Vervelige nuus die…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.