Momberg voer aan daar is met bewyse gepeuter

‘n Skermskoot uit die video wat deur eNCA op YouTube gelaai is.

Vicki Momberg (48), die eiendomsagent wat in die sop beland het oor rassistiese uitsprake, het Maandag in die Randburg-landdroshof vertel hoe daar met die beeldmateriaal wat as bewysstukke gebruik word, gepeuter is.

Dit kom nadat ʼn video aan die lig gekom het wat wys hoe Momberg op 3 Februarie 2016 op haar selfoon praat en die k-woord gebruik en vir iemand sê swart mense in Johannesburg is “verskriklik” en sy is keelvol daarvoor.

Die video is geneem oomblikke nadat ʼn grypdief haar motorvenster stukkend geslaan het.

“Ek het na die video gekyk en ek voel daar is daarmee gepeuter, alles wat ek gesê het was trauma, ek kan nie verduidelik nie….”

Adv. Joe Davidovitz wat vir Momberg optree het sy kliënt gevra of sy kan onthou dat sy een van die polisiebeamptes ʼn klomp rassistiese beledigings toegesnou het. Momberg het geantwoord dat sy nie kan onthou nie.

Sy staan tereg op vier aanklagte van crimen injuria vir haar beweerde uitlatings.

Yusuf Baba, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die media het ʼn aansoek gebring dat die verhoor uitgesaai moet word. Momberg het egter gesê sy is glad nie gemaklik om te getuig sou daar kameras teenwoordig wees tydens die hofverrigtinge nie.

Momberg het gesê sy het nie tans ʼn vaste adres nie en dat sy by verskillende mense woon. Sy werk nie tans nie. Sy het aangedui sy het ʼn matrieksertifikaat, ʼn diploma in modeontwerp asook talle sertifikate wat verband hou met die eiendomswêreld.

Toe Davidovitz haar vra hoe sy gevoel het ná die voorval het sy stil geword en begin huil. Die hof het vir ʼn wyle verdaag sodat sy kon kalmeer.

Toe die hofverrigtinge voortgesit is, het sy getuig dat sy drie mense onthou, wat ʼn wit polisiebeampte insluit, wat haar eerste genader het.

“Hy [ʼn swart beampte] het my genader asof hy my wil slaan en bly vra wat het gebeur. ʼn Klomp mense het my toe gebel,” het Momberg gesê.

“Ek het vir hom bly vra of iemand my net huis toe kan neem,” Davidovitz het haar toe gevra of sy kan onthou dat sy 10111 gebel het en die operateur beledigings toegesnou het.

“Ek kan nie onthou wat ek gesê het nie, ek was kwaad, ek wou in daardie stadium net hulp gehad het,” het Momberg laat hoor. Davidovitz het haar gevra of sy al voorheen die k-woord gebruik het en sy het gesê sy kan nie onthou dat sy dit op ʼn daaglike basis gebruik het nie. “Natuurlik is dit ʼn neerhalende woord, dis nie deel van ʼn beskaafde woordeskat nie,” het Momberg gesê.

Davidovitz het haar herinner dat sy die k-woord ʼn paar keer in die video en die noodoproep-opname gebruik het. “Kan jy vir die hof sê waarom jy daardie woord gebruik het?”

“Nee, ek kan nie,” het sy geantwoord.

Baba het dit aan Momberg gestel dat hoewel sy gesê het sy nie ʼn rassis is nie, sy op kamera gevang is waar sy die k-woord 48 keer gebruik het. Momberg het gesê sy voel dat dit oordryf is en blykbaar gelag voordat sy gesê het sy wou nie ʼn swart mens naby haar hê nie.

Baba het ook verwys na ʼn soortgelyke saak waarin Momberg aangekla en vrygespreek is in Durban toe sy in 2006 gevra het dat enigiemand behalwe ʼn swart mens haar help by ʼn polisiestasie. Baba het haar gevra oor die 10111-opname en die video en waarom sy sê die staat het glo net sekere video’s gekies.

Momberg het gesê na haar opinie is daar met die video gelol. “Ek was ʼn slagoffer, ek het al talle traumatiese ervarings gehad en niemand is nog ooit vasgetrek daarvoor nie, ons regstelsel is onregverdig.”

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Danie ·

Baie makliker om die slagoffer te vervolg as om die misdadigers te vervolg. Ek kan nie onthou of enige iemand wat wit kapitaal of wit boere of kolonialistiese nalatenskap as rede vir hulle woede al ooit vervolg is nie.

Ben Prinsloo ·

Hier lees ek al weer van n rassistiese voorval wat in n hofsaak uitgeloop het van blanke rassisme teenoor swartes. Kan iemand asseblief vir my sê hoeveel voorvalle van swart rassisme teenoor blankes al op n hofsaak uitgeloop het.

Michael ·

Geen regverdigheid nie die dag as almal gelyk en regverdig behandel word sal ek weer in die stelsel glo en vertrou

Cherokee ·

En slegs een enkele sinnetjie, een sin alleen, wat verwys na ‘n grypdief wat die oorsaak was van al die drama waarmee sy nou opgeskeep is. Dink enigeen daaraan? As ek hierdie berig geskryf het sou ek uitgebrei het oor wat haar dit laat doen het.

TDW ·

Dis om van te huil! Die dame was aangeval, haar ruit gebreek, sy het nie geweet of sy gekaap gaan word of wat nie, wanneer mens so groot skrik is daar nie ‘n wag voor jou mond nie! Maar nou word SY hof toe gesleep en die grypdief lag te lekker. ‘n Verpleegster weet (of is veronderstel om te weet) dat as ‘n pasiënt (al is dit die dominee) in pyn is hy sal vloek soos ‘n matroos! Dit maak nie van hom ‘n matroos nie. Netso behoort die polisie te weet as iemand beroof word, is hy kwaad, en dinge word gesê, dit maak nie van iemand ‘n rassis nie! Ek is so kwaad! Ek kan nie glo dat hierdie vrou 2 keer verontreg word nie!

Sonja ·

Die grypdief moes aangekla wees, nie sy nie, n mens se soms goed op die ingewing van die oomblik, veral as jou stresvlakke hoog is. Arme vrou, hulle gaan haar ry tot by oom Daantjie in die kallerhok.

Scalla ·

Ek reken baba het deur mekaar geraak met die hoeveelheid gebruik van die k woord, let wel 48 is wel haar ouderdom,

Frik ·

Wat n vreeslike oortreding dat tot die media vra dat die saak uitgesaai moet word. Het die media ook gevra dat die plaasmoord sake uitgesaai word of die van Malema of is dit n heksejag op wittes?

Scalla ·

Die woord is glo 48 keer gebruik, hul het deurmekaar geraak met haar ouderdom.

Sam ·

Ek het ook daai video gesien. Die vrou het daardie woorde gesê. Maar wat ek sien is iemand wat die blaam op alles wil skuif , in plaas om te erken dat sy wel daardie woorde gebruik het. Niemand het met die opnames gepeuter nie. Wees volwasse en vra onverskoning soos mens behoort te doen. Sy was uiters onbeskof teenoor die swart polisie man, wat haar mooi gevra het kan hy help. Maar almal staan agter haar. Mense, daar is so iets soos reg en verkeerd in die lewe. Haar optrede was beslis nie reg nie.

Carla ·

Een daar word dit weer onder die mat gevee…

Haar reaksie spreekboekdele : ONS MENSE IS GATVOL!!! Daar word ‘n groter bohaai gemaak oor “wat” sy gesê het as “WAT WAS DIE OORSAAK”.

Vaderland sou jy so kalm gebly het as so iets met jou moes gebeur???

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons hoor net van die dame wat ander beledig het. Wat het geword van die kern van die probleem: DIE SKELM WAT HAAR RUIT STUKKEND GESLAAN HET? Ons moet nooit die frustrasie uit die oog verloor van mense wat ‘n saak wil aanmeld, of hulp vra, in ‘n kriminele oortreding nie. Verskonings soos: vul self die vorm in want ons klerk kan dit net in sy taal doen, ons het nie nou ‘n voertuig om na die misdaadtoneel te gaan, ………… dit terwyl jy aanbied dat hul jou voertuig kan gebruik, of as jy hulp soek met ‘n indringer op jou erf en TWEE dae later daag die polisie by jou op. Mense vergeet van frustrasies met polisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.