
Denise Ganas het Maandag nog gesê sy sou aanhou baklei tot Momentum haar man se R2,4 miljoen lewensversekering uitbetaal. Foto: Facebook
Momentum het geswig voor die druk om ʼn lewensversekeringseis uit te betaal aan die weduwee van ʼn man wat nie bekend gemaak het dat hy verhoogde bloedsuikervlakke gehad het nie.
Trouens, volgens ʼn verklaring wat die lewensversekeraar Dinsdag uitgereik het nadat hulle dae lank kwaai onder skoot gekom het oor hul weiering om die R2,4 miljoen aan Denise Ganas van Durban te betaal, sê Momentum hulle sal voortaan die volle sterftevoordeel tot R3 miljoen uitbetaal wanneer ʼn kliënt weens ʼn geweldsmisdaad sterf, ongeag die persoon se mediese geskiedenis.
In die versekeraar se vorige poging om Ganas te paai, het hulle aangebied dat sy die R50 000 begrafnisvoordeel kon hou wat hulle kort ná haar man se dood betaal het, maar daarna van haar teruggeëis het omdat Nathan Ganas (42) volgens die versekeraar nie oop kaarte gespeel het oor sy mediese toestand nie.
Ganas is in Maart verlede jaar doodgeskiet toe hy sy vrou, Denise, teen kapers beskerm het. Sy is buite die egpaar se huis in Shallcross, Durban, deur ʼn groep gewapende mans oorval toe sy tuisgekom het. Momentum het Denise se eis vir R2,4 miljoen in lewensversekering afgekeur al het sy dood nie met die voorafbestaande toestand verband gehou nie.
Denise het Maandagaand in ʼn telefoniese onderhoud met die Gautengse radiostasie 702 vertel ene Stephen van Niekerk van die lewensversekeraar het haar Maandag 15:00 gebel om haar in te lig “hulle het besluit om nie die R50 000‑begrafnisvoordeel [wat hulle kort ná haar man se dood uitbetaal het] terug te vra nie”.

Momentum sê die nuwe reëling geld ook terugwerkend.
Van Niekerk het ook gesê “hulle het ʼn besluit oor die premies geneem” en wil die premies wat Denise en haar man elke maand betaal het, in haar bankrekening terugbetaal. Sy het volgens haar vir Van Niekerk gesê: “Stephen, ek aanvaar nie jul premies nie. Ek stry nog met Momentum.”
Intussen het sosialemediagebruikers Momentum uitgetrap oor hul besluit om nie die R2,4 miljoen aan Denise uit te betaal nie.
Dinsdagmiddag het die versekeraar eindelik kopgegee. “Dit is duidelik uit die markreaksie die afgelope twee dae dat onder sekere omstandighede,” skryf hulle in ʼn verklaring, “bestaande bedryfspraktyke die indruk skep dat versekeraars redes soek om nie eise uit te betaal nie.
Bestaande bedryfspraktyke skep onder sekere omstandighede die indruk dat versekeraars redes soek om nie eise uit te betaal nie.
“Dis Momentum se besigheid om eise uit te betaal; daarom het ons die kritiek ter harte geneem. Ons het ʼn oplossing geskep wat ʼn bedrag gelykstaande aan die sterftevoordeel (tot R3 miljoen) sal betaal in geval van geweldsmisdade, ongeag mediese geskiedenis. Dit geld vir alle bestaande sowel as toekomstige lewensdekkingskliënte.”
Momentum sê die uitbetalings sal gefinansier word uit die maatskappy se wins en nie uit kliënte se premies nie. Hulle behou wel steeds die reg voor om enige bedrieglike eise te verwerp.
In ʼn toegewing wat spesifiek op Ganas gemik is, sê Momentum die nuwe reël is ook terugwerkend van toepassing. “Ons is besig om kliënte te identifiseer wat hierdeur geraak sal word en sal hul families nader om betaling te reël. Dit geld ook vir mev. Ganas.”
Die maatskappy sê volledige en eerlike bekendmaking tydens ʼn aansoek kan kwalik oorbeklemtoon word. “Die enigste tyd wanneer jou gesondheidstatus saak maak, is wanneer jy om dekking aansoek doen. Dan moet jy al jou gesondheids- en mediese inligting deel.”
Lees alle vorige berigte oor Momentum op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
131 Kommentare
Well done Denise Ganas!
Ag kan my vorige werke my nie ook try opspoor vir aandele/gelde of pensioen of erfgelde waarvan ek nie eers weet nie . . .
Nietemin ….. eks bly Denise kry wat sy moet kry! Dankie Momentum
Nou gaan die eerlike ouens se premies sterk styg
Nou moet werknemers betaal vir iemand wat lieg op n aansoekvorm
Nou is dit reg om te lieg. As jy uitgevang word maak net ‘n reuse bohaai op sosiale media. En alle polishouer gaan betaal.