Mondelinge voorleggings voor komitee oor onteiening nou moontlik

(Argieffoto)

ʼn Voorstel dat organisasies mondelinge voorleggings kan doen oor die voorgestelde wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is deur die parlement aanvaar.

Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die amptelike opposisie se parlementêre koukus, sê dr. Mathola Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, het die aansoek goedgekeur.

“Dit is belangrik om te besef dat ons nie vra vir nuwe voorleggings of openbare sittings nie. Die komitee gaan net mondelinge voorleggings hanteer van diegene wat in hul geskrewe voorleggings ʼn behoefte daaraan aangedui het.

“Ek wil benadruk dat ons nie die hele openbare deelnameproses heropen nie,” het Motshekga gesê.

Die komitee se spertyd is ook verleng tot einde Mei.

Lotriet sê die DA-lede wat op die komitee verteenwoordig is, het vroeër ʼn gesamentlike verklaring van beswaar uitgereik teen Motshekga se besluit om nie mondelinge voorleggings toe te laat nie.

“Ons het betoog dat die besluit ongekend is en afwyk van wat in die Grondwet verskans is. Die voorsitter se 180 grade-ommeswaai is nie juis verrassend nie omdat ons dit duidelik gemaak het dat indien die komitee misluk om mondelinge voorleggings toe te laat, dit sal neerkom op ’n moedswillige oortreding van die Grondwet,” sê Lotriet.

“Dit kan moontlik die openbare deelname in gedrang bring deur nie die wet na te kom nie.”

Sy sê openbare deelname is ’n sleutelkomponent van die demokrasie en die DA sou dit nooit toelaat dat die komitee sy grondwetlike bepalings afskeep net om die spertyd te haal nie.

“Ons sien nou uit om die voorleggings van belanghebbende organisasies rakende die wetsontwerp aan te hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Ek hoop maar dat die komitee-lede wakker sal bly tydens die mondelinge voorleggings. Ek het al te dikwels gesien hoe die agbare membas in die parlement sit en slaap.

Blomme

Onteiening sonder vergoeding… Is ons oppad na ń Zimbabwe situasie of is ek net swartgallig… Ek nou nie seker! En dan ook gaan die onteiende grond ook vir ander rasse beskikbaar wees of is dit net vir swart? Dalk verstaan ek nou nie die besigheid nie. Kan iemand dalk lig werp? Vir my klink die mondelingse voorlegging vooraf beplan om ‘boeties’ voorkeur te gee.

annie

Die idee is doodgebòre. Selfs CR het telkens na ‘n ‘famielie-kuier’ laat blyk dat dit ‘n feit soos ‘n koei is dat Afrika gaan vat wat hy wil vat. Natuurlik nie iets wat nog nie gedoen is nie. Hulle soek nou net weiveld vir die gevattes en ‘n lappie vir antie se kool. Diè mondelinge-pyniging sal soos die waarheids-en-onversoenbare kommissie verdere angs en ellende na die ’20-’21-hoogdrama meebring.
2021: Pandemie, leuens/verdigsels, rampspoed. 2022: Hongersnood, rampspoed.