Moneyweb vs. Fin24: Só het hof beslis

hof-hamer

Argieffoto

Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdag uitspraak gelewer in die saak van Moneyweb wat Fin24 vir kopieregskending gedagvaar het.

Moneyweb, Caxton se sakenuus-webwerf, het Fin24, ʼn sakenuus-webwerf van 24.com, ’n afdeling van Media24, daarvan beskuldig dat laasgenoemde sy inhoud oorgeneem en as sy eie aangebied het – sonder die nodige erkenning. Moneyweb het sewe artikels in die hof voorgehou wat Fin24 volgens Moneyweb onregmatig gebruik het.

Waarnemende regter Daniel Berger het in sy uitspraak individueel na die sewe artikels verwys. Hy het bevind dat daar met vier van die artikels nie bewys kon word dat dit ʼn oorspronklike werk is nie. Moneyweb se joernaliste het self die artikels geskryf en het om dié rede aangevoer dat dit oorpronklike werk is. Van die artikels is egter geskryf na aanleiding van uitlatings wat deur ʼn spreker by ʼn perskonferensie gemaak is of wat in ʼn mediaverklaring gesê is. Volgens die regter is dit dan moeilik om te bepaal watter gedeeltes van die artikels is die verslaggewer se eie werk en watter dele is bloot herhalings van wat iemand anders gesê het.

Berger het wel bevind dat drie van die artikels oorpronklike werk is aangesien die verslaggewers beslis nie net iets oorgeskryf het of gekopieer het nie en van verskeie bronne gebruik gemaak het. Die regter moes toe beslis of Fin24 ʼn beduidende gedeelte van die oorspronklike artikels gebruik het vir sy weergawe van die berig. Hy het beslis dat Fin24 wel met een van die artikels meer as ʼn beduidende gedeelte gebruik het en die artikel woord vir woord oorgeskryf het sonder om self inligting by te las.

Moneyweb moet nou binne 20 dae bereken wat die skade van die kopieregskending tot gevolg gehad het waarna Fin24 teenargumente kan indien en ʼn beslissing gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.