‘Monster’ swaar gestraf vir verkragtings

Sikhangele Mki. Foto: ANA

ʼn Reeksverkragter is Donderdag swaar gestraf in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Sikhangele Mki (34) is tot 15 keer lewenslange sowel as ʼn bykomende 120 jaar tronkstraf gevonnis. “’n Monster wat in die skaduwees rondsluip en meisies aanval, beroof en verkrag.” Só het adjunk-regter-president Patricia Goliath die verkragter se modus operandi beskryf.

Mki het vroeër die maand skuldig gepleit op 84 aanklagte, waaronder 30 aanklagte van verkragting, 27 van ontvoering en 12 van roof met verswarende omstandighede. Mki het in sy pleitverduideliking erken dat hy van sy slagoffers meer as een keer verkrag het. Nege van sy slagoffers was jonger as 16 terwyl die jongste net 11 jaar oud was.

Goliath het Mki beskryf as iemand wat “wreed en boos is” en ʼn gebrek aan empatie het. “Hy het vir vier jaar ʼn skrikbewind gevoer en die kwesbaarheid van sy niksvermoedende slagoffers uitgebuit en plesier gekry deur hulle af te takel.”

Mki het die misdade tussen 2011 en 2015 gepleeg en sy slagoffers is in gebiede tussen Khayelitsha en Delft aangeval.

Mki het in sy pleitverduideliking gesê hy het sy slagoffers in die aand of vroeë oggendure agtervolg voor hy hulle gegryp, met ʼn mes gedreig en selfone en geld by hulle geëis het. Hy het hulle dan na ʼn afgeleë plek geneem waar hy hulle verkrag het. In sommige gevalle het hy sy slagoffers aangerand as hulle om hulp geskree het of hulle met ʼn mes in die arm of been gesteek.

Mense buite die hof. Foto: ANA

Mki het in die hof vlugtig om verskoning aan sy slagoffers gevra. Goliath het egter gesê daar was geen rede om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Van sy slagoffers het onder meer gesê hul lewe het van geluk na bitterheid verander en dat die pyn nooit sal weggaan nie.

Mki is vasgetrek terwyl hy 11 maande tronkstraf uitgedien het vir aanranding met die doel om ernstig te beseer in 2014. Die polisie het DNS van veroordeelde gevangenes bymekaargemaak en dit getoets waarna Mki aan die verkragtings verbind is.

Goliath het gesê die vonnis moet ʼn boodskap oordra aan potensiële verkragters. Mki se naam sal op die lys van seksuele oortreders gevoeg word. Familielede van die slagoffers was verheug buite die hof.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die vonnis verwelkom. “Die beskuldigde het selfs een van sy slagoffers agter ʼn polisiestasie ingesleep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kobus ·

Hulle worry nie sal dit net weer doen.welcome to new south africa

Amanda ·

Ja nou gaan jy lekker warm slaap, kossies kry, toiletware kry ALLES VERNIET.

JG ·

Waar is die ANC Vroue-liga nou ?? OOO, ek het vergeet, hulle is nog by die KFC-saak….

JG ·

Waar is die ANC Vroue-liga nou ?? OOO, ek het vergeet, hulle is nog by die KFC-saak….seker gehoop op n “free lunch”….

Marcel ·

Is dit net ek wat voel dat dit so half nie genoeg is nie? Ja hy gaan dalk die res van sy lewe in die tronk wees maar wat daarvan… Hoekom doen hierdie mense nie dalk harde fisiese werk in die tronk nie? Nee hulle lê eerder heel dag rond, kry kos, oefening en kan nou sommer studeer as hy sou wou. Die tronk is eintlik aanloklik vir sekere mense op straat wat niks het nie, daar moet mos iets wees wat mense bang maak om tronk toe te gaan. Nou is dit so amper asof hulle nie omgee om gevang te word nie want hulle kan of ontsnap of hulle is bly om in die “hotel” te bly.

Alida ·

Hy gaan 10/1 weer “ontsnap” dit is mos nou mode en dan gaan hy net aan waar hy opgehou het.

Voortreflik ·

Ek dink aan die beste Afrikaanse woord om Adjunk-Regter-President Goliath te beskryf, jy is ‘n vrou van karakter, jy doen jou werk, jy kyk na al die dade en skade van die misdadiger, jy neem die regte wetlike besluit teenoor die misdadiger wat ook vir dogters en vroue hoop gee. Dit is nie regverdig dat hul verkrag en beroof word, dit neem ook nie die hartseer, vrees en leiding weg nie, maar dit bring beslis rustigheid dat hy dit nooit weer aan enige van hul of ander kan doen nie, dit gee ook hoop vir vroue teenoor ander verkragters. Dit stuur die boodskap aan verkragters dat dit verkeerd en teen die reg van ‘n vrou is. JY is absoluut ‘n Hero vir die regte ding en vir vroue/dogters.

Veritas ·

As dit nie was vir sogenaamde ‘human rights’ nie, was die ou die ideale kandidaat vir die galg. Geen rehabilitasie program gaan enige indruk op hom maak nie en ek glo nie hy stel daarin belang om verder te studeer nie. M.a.w. hy is niks werd vir niemand. Waarvoor hom aan die lewe hou ten koste van die belastingbetaler? Gooi hom vir die haaie.

Hennie ·

En na ‘n redelike tyd in die tronk word hy vrygelaat. Die waarheid is dat daar geen boodskap uitgaan na potensiele verkragters nie. Ons land is vol van hulle en hulle opereer sonder ophou. Slegs een boodskap sal uitgaan en dit is die doodstraf. Sommer in die openbaar sodat potensiele verkragters en moordenaars die een aan die galg se gesig dophou terwyl hy doodgaan. Baie beskou dit as uiters wreed, maar hoe wreed was hierdie verkragtings en ander moorde wat ons in ons land sien? Hy laat slegs wrakke agter met sy verkragtings.

Maria ·

Ek sê weer, vat die verkragters en moordenaars uit op see en voer hulle vir die haaie. Dit sal ons land baie kostes bespaar en ook sal daar dan minder haaiaanvalle wees.

Zumie ·

Voor julle bly word – dit beteken slegs 25jaar met die moontlikheid van parool na 20 – en hy lyk nog jonk….

Theresa ·

Dankie regter Goliath. Nou moet almal sorg dat hy nie ontsnap nie. Die vonnis is nie in totaliteit uitgevoer alvorens ALMAL sorg dat so ‘n persoon nie ontsnap nie. Alle voorregte moet weggeneem word vir so ‘n misdadiger.

Bytjie ·

Die ouens in die tronk haat kinder verkragters. Hulle gaan hom dood maak

Futi ·

Justice? Really?
Living (with rights) of tax money forever is justice?
Justice is a public hanging at dawn not keeping him comfy and feeding him until he expires at ripe old age.
Justice is just a word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.