Montana maak skokbewerings oor Guptas

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van Prasa. Foto: Twitter

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het Dinsdag aan die parlementêre ondersoekkomitee wat sake by Eskom ondersoek gesê hy het ʼn politieke poging weerstaan om ʼn nuwe raad by die instansie af te dwing wat ten gunste van die Gupta-broers sou wees en hulle sou help om kontrakte te beklink in ʼn lokomotief-tender wat as een van die grootstes ter wêreld geag is.

Montana het gesê na sy mening is daar waarheid in die wydverspreide persepsie dat die Gupta-familie, wat van Indië afkomstig is, die land se staatsentiteite op groot skaal by korrupsie betrek het. Hy het spesifiek na twee voormalige ministers en die regerende party se hoof van finansies verwys.

“As ʼn jaarlikse algemene vergadering gekanselleer word en die Guptas het my reeds twee weke vroeër [daarvan] gesê, dan dink ek daar is ʼn element van waarheid in daardie persepsie,” het Montana gesê ná meer as twee uur se getuienis voor die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings.

Hy het aan die komitee gesê hy het gedreig om in 2014 ʼn mediakonferensie te hou om die planne aan die lig te bring om die Prasa-raad te verander nadat die Gupta-familie nie ʼn kontrak met China South Rail gesluit het nie. Montana beweer dié planne is deur Dipuo Peters, die destydse minister van vervoer, en Zweli Mkhize, voormalige tesourier-generaal van die ANC, gedryf.

Die planne het ook glo ʼn voorstel bevat dat Jimmy Manyi, wat onlangs die Guptas se media-belange oorgeneem het, die voorsitter van Prasa word.

Montana het ook Ben Martins, die adjunkminister van openbare ondernemings, by die verdagte transaksies met die Guptas betrek. Volgens Montana het Martins hom aan Tony Gupta en Duduzane Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, in 2012 voorgestel.

Hy het gesê hy is daarom verras oor die sterkbewoorde ontkenning van Martins, die voormalige minister van vervoer, in sy getuienis voor die ondersoekkomitee. Martins het getuienis van Suzanne Daniels, geskorste hoof van regsdienste by Eskom, wat hom direk met die Gupta-broers verbind, ten sterkste ontken.

Montana, wat na Martins as ʼn vriend verwys het, het hom wel geloof vir goeie tegniese besluite wat hy geneem het toe daar op treine besluit moes word om Metrorail se verouderende voorraad te vervang, asook sy standpunt oor die raad.

Montana is in 2015 afgedank as Prasa se hoof en beweer dit was omdat hy teruggeveg het teen korrupsie.

Hy het beklemtoon dat hy volgehou het Prasa is ʼn plaaslike maatskappy en hy het nie gesien hoekom daar mense met paspoorte van Indië of Dubai op die raad moet dien nie – ʼn duidelike verwysing na die Gupta-broers. Montana het gesê hy is met dié sake na Sfiso Buthulezi toe, die destydse voorsitter van Prasa, en het aan hom gesê hy is bereid om te bedank, maar sou ʼn mediakonferensie hou om die knoeiery rondom die raad aan die lig te bring.

Hy het gesê hy het daarna laat in 2012 vir Martins by die Kaapstad-stasie ontmoet en hulle het mekaar daar op gemeenskaplike terrein gevind.

“Hy het aangedui dat Prasa moet voortgaan met sy verkrygingsproses en hy sal die raad verdedig. Hy het gesê hy sou saam met ons as sy comrades baklei en hy sal die saak na die kabinet toe neem vir goedkeuring,” het Montana gesê.

“Vandag kan hy die krediet daarvoor vat dat die treine wat hy verdedig het in gebruik geneem word.”

Mzwanele Jimmy Manyi. Foto: GCIS

Montana het homself ook verdedig teen berigte dat die lokomotiewe totaal onvoldoende was vir Suid-Afrika se infrastruktuur. Hy het selfs so ver gegaan om te sê mense wat dié berigte geskryf het, het onwetend in die hande van die Gupta-familie gespeel wat volgens hom probeer het om die tenderproses te ontspoor om hulself te verryk.

“Hulle sal nooit die wetenskap bevraagteken wat ek in hierdie ding ingesit het nie. Hierdie land het my opgelei en my oral heen gestuur om vaardighede te bekom. Dit is nie bygeloof nie.” Hy het gesê hy moet openbare lesings hou om die logistiek van die spooropknapping te verduidelik.

Montana het gesê hy het bewus geraak van die omvang van die korrupsie in staatstenders tydens ʼn sakereis na Berlyn toe verskaffers begin het om omkoopgeld te eis.

“Daar was by my geen twyfel dat die vet reeds in die vuur was nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die spanning oor die tenderproses was só erg dat hy op ʼn ander sakereis na Londen besef het hy word agtervolg. Hy het uiteindelik begin om ʼn vuurwapen by hom te dra. Hy het gesê daar was by hom geen twyfel nie dat hy dopgehou is om te kyk of hy enige geld aanvaar.

Montana het getuig hy het besef mense wou vasstel of hy enige geld vat en by wie.

“Ek wag vir die dag wat hulle gaan sê dit het gevloei na Montana toe,” het hy gesê en bygevoeg hy het geen buitelandse bankrekeninge of paspoorte nie.

“As Suid-Afrika brand, brand ek saam.”

Volgens die sogenaamde gelekte Gupta-e-posse het ʼn maatskappy met die naam Tequesta miljarde rande gemaak deur te dien as ʼn oorbodige agent op ʼn ooreenkoms tussen die staatvragoperateur Transnet en South China Rail vir meer as 1 000 nuwe lokomotiewe. Die ooreenkoms is opgestel deur Salim Essa, een van die Gupta-broers se hoofsakevennote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Hehehehehe. En so word elkeen se swart boekie oopgemaak en hardop voor gelees. Hy hulle dit dat wie weet wat, wassi ekki, is gese om te doen…

MASSAS info wat elke dag of nuut gedeel word of bevestig word, sonder enige opvolg of arrestasies? ZUPTOPIA RULES!

skande ·

Dit ALLES is Net N Groot Skande!! Ongelooflik. Maar God Slaap nie Wanneer die mens slaap. Nee Dit is vir Seker. Dit Kos net Een Persoon om met die HELE WAARHEID UIT TE KOM EN SIEDAAR, Suid Afrika SAL WEER SHINE, EN RYK WEES WANNEER AL HIERDIE KORRUPSIE VERHAAL WORD VAN WIE OOK AL DIE SKULDIGES IS!!!
2018 BETEKEN “NEW BEGINNINGS” En Baie Awesome Vir Al Hierdie Korrupsie om in n Tyd soos DIE ONTHUL TE WORD. OEEEEE God Slaap vir Seker nie.
VIVA SUID AFRIKA, Dit Kos n EERLIKE PERSOON OM OP TE STAAN VIR DIE WAARHEID!!!!! Ons Staan Saam …… Vir die Waarheid en Net die Waarheid.

Siepsop ·

Stem saam. Daarom word ek nie eers kwaad vir Zuma of n Marcus Jooste ens. Nie.
Niks is verborge vir God nie en sal die waarheid seevier. Die korruptes is in verre minderheid, daar is soveel goed en positief in ons land. Ek weier om op die negatiewe pessimistiese ” bandwagon” te spring! Viva SA!

Luister ·

Ek het nou die trein ‘n bietjie verpas. Praat hulle
hier van die lokomotiewe wat glo te hoog was vir
die infrastruktuur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.