Montana nou ‘nes Myeni, Zuma’ oor Zondo-kommissie

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van Prasa. (Foto: Twitter)

Die DA sê Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap (Prasa), het hom nou by oudpres. Jacob Zuma en Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, aangesluit deur twyfel oor die integriteit van die Zondo-kommissie te probeer skep.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste, sê Montana se optrede is ʼn duidelik georkestreerde plan om die kommissie – wat staatskaping ondersoek – aan te val deur aan te voer hy word onregverdig geteiken.

Montana het vandeesweek uitgevaar nadat hy voor die kommissie moes getuig het. Sy verskyning is egter gekanselleer.

Hy het in ʼn verklaring gesê die kommissie se sekretariaat het aangevoer sy aanhangsels was nie gemerk nie, nie genommer nie of onvolledig – wat hy betwis. Volgens hom is dit ʼn rookskerm om te keer dat “verdoemende” getuienis oor die kommissie self bekend gemaak word.

Montana beweer ook die kommissie het op 8 Desember dokumente by sy huis opgelaai en dat hy ʼn week later ingelig is dat die aanhangsels terugbesorg sou word. Dit is afgelewer terwyl hy nie tuis was nie. Hy beweer toe hy die dokumente later nagegaan het, het hy gevind daar is met die dokumente gepeuter en afskrifte daarvan gemaak, terwyl sommige van die aanhangsels vermis was.

Breytenbach sê dit is duidelik dat indien hulle adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, nie regstreeks kan aanval nie – soos Zuma doen wat aanvoer daar is vooroordeel teenoor hom – word ʼn aanval geloods op die kommissie se regspan of ondersoekers.

“Dit sal interessant wees om te sien of hulle plan eindelik is om in ʼn posisie te wees om te sê die kommissie het nie elke moontlike bewys gehad nie. Hulle berei dus reeds voor om die finale verslag te diskrediteer,” het sy gesê.

Die kommissie het nog net ʼn paar maande oor om sy werk af te handel.

“Die DA veroordeel hierdie onderduimse taktiek. Die kommissie is al twee jaar lank besig en die bewerings kom nou eers na vore, noudat sake begin warm raak.”

Breytenbach sê Zondo het uit die staanspoor ʼn algemene uitnodiging aan mense gerig om na vore te kom met enige bewyse sodat dit ondersoek kan word.

“Nou, met enkele maande oor, kom nuwe bewerings skielik na vore.”

Breytenbach sê dit was nog altyd Zuma se strategie om sy getuienis te vertraag, nie net by die Zondo-kommissie nie, maar in ander hofsake ook, as ʼn manier om geregtigheid te omseil. “Sy meelopers het uit sy voorbeeld geleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.