Montecasino-moord: Blom was gebroke man ná vrou se dood, hoor hof

Dustan en sy vrou Talita op hul troudag in 2010. Foto: Facebook

Dustan en sy vrou Talita op hul troudag in 2010. Foto: Facebook

Dustin Blom, wie se liggaam in die kattebak van sy motor by Montecasino gevind is, was ʼn gebroke man nadat sy vrou dood is tydens die geboorte van hul tweeling, het die hooggeregshof in Johannesburg, wat in Palm Ridge sit, gehoor.

Ryan Pickford, ʼn vriend van Blom, het gesê Blom was gebroke ná sy vrou se dood in Maart 2013. Pickford het gesê Blom het baie geld geërf ná die dood van sy vrou waarna hy erg begin drink het. “Dustin sou opstaan en die meeste middae by die Dros in Olivedale kuier. Hy was gebroke oor wat met sy vrou gebeur het, en het sy tyd begin deurbring saam met gesellinne en in ontkleeklubs.”

Pickford het gesê hy het Maruschka Robinson, wat saam met JP Malan aangekla word van Blom se moord, twee keer ontmoet – een keer by Blom se huis en die ander keer by die Lollipop- ontkleeklub.

Pickford het getuig dat hy Blom die laaste keer op 23 Augustus 2013 gesien het. Volgens Pickford was Blom se vriende bekommerd oor sy geestestoestand. Blom sou glo op 17 September saam met ʼn vriendin na Bali vertrek het. Blom het egter nooit die land verlaat nie. Vriende kon hom nie in die hande kry nie en het begin bekommerd raak.

Pickford het in ʼn stadium vir Robinson gebel en gevra wat aangaan. Volgens hom was Robinson baie senuweeagtig. Pickford is kort hierna deur ʼn polisiebeampte ingelig dat hulle moontlik Blom se liggaam gevind het waarna hy die liggaam moes gaan uitken.

Blom se liggaam is op 22 September 2013 in sy motor in die parkeerterrein van Montecasino opgespoor nadat veiligheidsbeamptes ʼn slegte reuk geruik het. Robinson is op 24 September in hegtenis geneem en Malan op 26 September. Die saak duur voort.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.