Montecasino-moord: Oorledene dood aan oordosis, hoor hof

Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan tydens 'n vorige verskyning in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Dustin Blom, wie se liggaam in die kattebak van sy motor by Montecasino gevind is, is dood aan ‘n dwelmoordosis, het die hooggeregshof in Johannesburg, wat in Palm Ridge sit, gehoor.

JP Malan (33), wat saam met Maruschka Robinson (25) aangekla is van die moord op Blom, het in ‘n verklaring aan die hof gesê hy het Robinson gehelp om die liggaam te skuif, aangesien hy die dwelms verskaf het wat tot Blom se dood gelei het.

Blom se liggaam is in September 2013 in sy motor in die parkeerterrein van Montecasino opgespoor nadat veiligheidsbeamptes ʼn slegte reuk geruik het. Volgens Malan het hy dwelms aan Robinson gegee waarmee sy Blom bedwelm het om toegang tot sy bankkaarte te kry.

Robinson het egter in haar verklaring aan die hof gesê Blom is deur Malan verwurg sodat hy sy bewussyn sou verloor. Robinson het gesê sy het saam met Blom in sy huis gewoon en dat sy ‘n hegte verhouding met hom gehad het.

Blom het glo by verskeie geleenthede vir Robinson sy bankkaart en geheime kode gegee sodat sy geld kon onttrek. Volgens Robinson het sy en Malan gereeld geld by Blom gesteel.

Die hof het gehoor Robinson en Malan was die oggend van 18 September by Blom se huis en dat hulle dwelms gebruik het. Blom het glo by die huis aangekom en op ‘n bank aan die slaap geraak. Volgens Robinson het Malan voorgestel dat hy Blom wurg totdat hy sy bewussyn verloor waarna hulle sy bankkaart kan vat en geld gaan trek.

Volgens Robinson is Malan na die onderste verdieping van die huis en het sy geluide gehoor wat geklink het soos iemand wat meubels rondskuif. Malan het glo kort hierna teruggekeer met Blom se bankkaart en gesê hy gaan geld trek. Malan het later teruggekeer saam met ‘n man genaamd Terrence. Malan het toe glo vir Robinson gesê om na die onderste verdieping te gaan, waar sy gesien het Blom se neus bloei. Sy het probeer vasstel of hy nog asemhaal. Sy het glo later eers gehoor Blom is dood.

Terrance het glo ‘n ruk hierna gery en Robinson het glo gesê hulle moet die polisie bel. Volgens Robinson aan haar gesê sy sal ʼn verdagte wees omdat sy saam met Blom gebly het. “Ek was baie bang. Beskuldigde nommer twee [Malan] het toe voorgestel dat ons die liggaam in die motor sit en êrens gaan aflaai.”

Hulle het glo Blom se liggaam in die motor gelaai en na Montecasino gery waar hulle geld getrek en daarna dwelms gekoop het. Hulle is toe glo na Dion Wired by Cedar Square waar hulle goed gekoop het, waarna Malan glo vir Robinson by die Randburg Inn afgelaai het. “Hy het later by my aangesluit en gesê hy het die motor by Montecasino gelos.”

Robinson en Malan het vroeër ontken dat hulle Blom vermoor het. Albei het egter skuldig gepleit op aanklagte van bedrog. Die saak duur voort.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henriette Van Eck ·

Dit is verbasend hoe moordenaar gemors met hulle snedige gevrete in die hof sit,asof hulle niks verkeerd gedoen het.Tot by vonisopleging dan wil die vuilgoed kwansuis jammer wees,doodstraf dit is wat in die land nodig is.

Charles ·

Ons land is vol van die dwelms gemors mag julle vrot wens doodstraf was nog hier

Leeutjie ·

Die oorledene moes hulp gekry het na sy vrou se dood. Met al die geld wat hy gehad het waarom is hy nie na ‘n organisasie toe gestuur nie nie? Moenie op my tone trap nie, maar as ‘n vriend of vriendin van my in so ‘n situasie was sou ek geveg het om te help. Hierdie man is gefaal en nou is ‘n 2ling se mamma en pappa oorlede. Hy het die keuse van 2 opsies gehad en ongelukkig die verkeerde een gekies. As sy vriende en ouers dalk vrugteloos uitgereik het vra ek verskoning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.