Montecasino-moord: Verhoor tot 2015 uitgestel

Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan tydens 'n vorige verskyning in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die twee mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn man vermoor en sy liggaam in die kattebak van ʼn motor by Montecasino gelos het, se moordverhoor sal eers in 2015 hervat nadat dit Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, uitgestel is.

Maruschka Robinson, ʼn voormalige ontkleedanseres, en haar kêrel Jean-Pierre Malan word van die moord op Dustan Blom beskuldig.

Die twee het voor hofverrigtinge begin het, vanuit die beskuldigdebank met familielede in die openbare galery gesels.

Die amptelike verhoor sou Maandag afgeskop het, maar dit is deur regter Tshifiwa Maumela tot 13 April uitgestel nadat die staat vir meer tyd gevra het om voor te berei. “Weens druk op die hofrol en ander omstandighede het ons nie genoeg tyd om die verhoor nou klaar te maak nie,” het staatsaanklaer Zaais van Zyl aan die hof gesê.

Van Zyl het bevestig hy het reëlings getref dat die verhoor as ʼn voorkeurgeval gemerk word, wanneer dit volgende jaar begin.

Albei beskuldigdes bly in aanhouding in ʼn gevangenis in Johannesburg.

Blom se motor is in September 2013 in die parkeerterrein van Montecasino opgespoor nadat veiligheidsbeamptes ʼn slegte reuk geruik het.

Robinson is op 24 September verlede jaar in hegtenis geneem en Malan op 26 September.

Lees meer oor die Montecasino-moord hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.