Monument gaan skenking vir waterprobleme gebruik

Die Voortrekkermonument.

Die Afrikanerbond het ʼn skenking van R100 000 aan die Voortrekkermonument gemaak.

Die monument het die afgelope paar weke, soos alle bewaring-, toeriste- en ander instellings, bloed gesweet om te oorleef.

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, het gesê die organisasie het die geld deur sy Christiaan de Wet-fonds bewillig. “Deur die bydrae wil ons help om die nood by die Voortrekkermonument te verlig.”

Die Voortrekkermonument is volgens Bosman ʼn kosbare erfenis vir Afrikaners. “Behalwe vir die finansiële ondersteuning dra ons die saak ook in gebed op. Net soos telkens in die verlede, waartydens Suid-Afrika groot onsekerhede ervaar het, weet ons dat die staat van inperking ʼn onsekere fase is, maar dat dit sal oorgaan en dat almal van ons opnuut sterker hier sal uitkom.”

Volgens Bosman is die skenking sonder enige voorwaardes gedoen en is dit aan die diskresie van die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting oorgelaat om die aanwending van die fondse te prioritiseer.

Dr. Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het na aanleiding van die skenking gesê hoewel hul omstandighede die afgelope twee maande ingrypend verander het, staan een feit soos ʼn paal bo water. “Die Voortrekkermonument gaan nêrens nie en dit is ons verantwoordelikheid om dit na die beste van ons vermoëns te bestuur. Die pre-Covid-19-bedryfsuitdagings het nie verdwyn nie en met die Afrikanerbond se bydrae gaan ons die projek aanpak wat die grootste verskil in die post-Covid-tyd gaan maak en dit is om die waterbestuur op die terrein onder beheer te kry.”

Die foto is tydens die waterdigtingsondersoek geneem.

Daar is onlangs met ʼn waterdigtingsondersoek by die Voortrekkermonument begin. Volgens Kruger is waterdigtingsprobleme by die monument bykans so oud soos die 80-jarige struktuur self. “Na die laaste reënseisoen het hierdie probleme egter so toegeneem dat drastiese stappe weereens geneem moes word.”

Verskeie duur, onsuksesvolle restourasiepogings oor die jare kon nie die probleem van swak waterafvoer oplos nie en volgens Kruger het dit daartoe gelei dat strukturele skade die integriteit van die gebou aantas en die veiligheid van besoekers en werknemers bedreig.

Die ondersoek sal na verwagting teen einde Mei afgehandel wees waarna die bevindinge geformaliseer, tenders vir die restourasie en instandhouding uitgereik en ʼn aansoek vir die nodige permit van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) gedoen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

en nog ‘n emmer vol geld wat dalk verlore sal gaan, baie broeksakke wat nog poog om gevul te word

Oom Hennie Pennie ·

Hoekom kan hulle nie geld skenk vir honger blankes wat nie kon werk gedurende die afsondering nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.