Monument opgerig vir drie oorlede Voortrekkertjies

Van links: Ronel Engelbrecht, Marli van der Vyver en Nina Strydom (Foto: Danie Langner, Facebook)

“Ons wil hiermee bevestig dat julle vir altyd ʼn plekkie in ons harte sal hê en ons sal julle vir altyd onthou.”

Só sal die Kruithoring Voortrekkers hul mede-Drawwertjies, Ronel Engelbrecht, Nina Strydom en Marli van der Vyver, onthou wat in Desember verlede jaar in ʼn tragiese motorongeluk oorlede is. ʼn Monument is Woensdag ter herinnering aan dié leerders by die Laerskool Menlopark in Pretoria opgerig. Die drie sou vanjaar in gr. 6 in dié skool gewees het.

Maroela Media het vroeër berig die meisies was die middag van 6 Desember op pad terug huis toe van ʼn Voortrekkerkamp in die Belfast-omgewing in Mpumalanga toe die voertuig vermoedelik ʼn meganiese fout ondergaan het. Ronel se ma, Mariëtte Engelbrecht, wat die motor bestuur het, het glo beheer oor die voertuig verloor. Sy was ook die afgelope tien jaar by Kruithoring Voortrekkers betrokke en was 25 jaar lank ʼn Voortrekker.

Die drie meisies en die ma het in die ongeluk omgekom.

Kruithoring Voortrekkers het die spesiale monument by Laerskool Menlopark opgerig en Mariëtte se seun Christiaan het Woensdag amptelik die monument onthul. Die families, vriende en medeleerders van die oorledenes het die inhuldiging bygewoon.

Familie en vriende het Woensdag die inhuldiging van die monument bygewoon (Foto: Danie Langner, Facebook)

Denina Bernard, kommandoleier van die Kruithoring Voortrekkers, vertel hulle het besluit om die monument ter herinnering aan die meisies en Mariëtte op te rig.

“Met hierdie monument wil ons graag aan die meisies die erkenning gee wat hulle toekom. Ons het ook besluit om die monument op te rig om vir hulle te sê dat ons hulle onthou en nooit sal vergeet nie,” vertel Bernard.

In die monument is ʼn klomp spoelklippies ingebou waarop mede-Voortrekkers se name opgeskryf staan. Daar is ook ʼn staalplaat waarop Mariëtte, Ronel, Nina en Marli se name, geboortedatums en sterfdatums aangedui is.

“Ons harte is stukkend en die leemte groot. Mag soet herinneringe vertroosting bring. Ons groet julle met die volgende woorde: ‘Hou koers dan tot ons weer ontmoet, tot ons weer ontmoet. Hou Koers’,” lui die inskrywing op die plaatjie.

Die meisies se Voortrekkerbaadjies met hul kentekens – wat geraam is – is aan hul ouers oorhandig (Foto: Danie Langner, Facebook)

Tydens die inhuldiging het ʼn groep gr. 6-seuns in ʼn erewag met fakkels gestaan. Die fakkels is aangesteek as simbool dat die Voortrekkers onderneem om die lig vir die meisies vir altyd te skyn.

Die monument is onder ʼn koraalboom, wat vir die Kruithoring Voortrekkers se 65ste verjaarsdag geplant is, opgerig.

“Aan die einde van die winter dra die boom rooi blomme, wat ʼn oorwegende vaal landskap verkleur. Ons het op hierdie boom besluit omdat ons dit beskou as ʼn simbool van hoop. Daarom is dit gepas dat ons onder ons boom van hoop ook ons gedenk-en-onthousimbool gebou het.”

Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het ook ʼn toespraak gelewer en daarna die meisies se Voortrekkerbaadjies met hul kentekens – wat geraam is – aan hul ouers oorhandig. Mariëtte het ook haar silwer toekenning vir 25 jaar getroue diens postuum ontvang.

“Rondom die skool het die spitsverkeer gewoel, ʼn groep seuns het rugby op die veld langsaan geoefen, maar vir ʼn kort oomblik was dit asof tyd voor die ouers se hartseer en trane gestol het. Geen woorde kan regtig troos nie. Die troos lê in die hartklop en warm omgee waarmee die plaaslike Voortrekkers en skoolgemeenskap die ouers steeds omarm. Waar die Here is, is daar ʼn dieper vrede,” vertel Langner.

Op die monument is daar ook ʼn staalplaat waarop Mariëtte, Ronel, Nina en Marli se name, geboortedatums en sterfdatums aangedui is. (Foto: Danie Langner, Facebook)

Hierdie monument is opgerig ter herinnering aan die oorledenes (Foto: Danie Langner, Facebook)

Die fakkels is aangesteek as simbool dat die Voortrekkers onderneem om die lig vir die meisies vir altyd te skyn (Foto: Danie Langner, Facebook)

Kruithoring Voortrekkers het die spesiale monument by Laerskool Menlopark ter herinnering van die meisies opgerig (Foto: Danie Langner, Facebook)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cindy

bitter hartseer, en so spesiaal

Ria

So baie hartseer en so mooi gebaar. Mag daar berusting in almal se harte kom.

Vonnie

die een meisiekind het my verjaardag gedeel!! sal haar nou altyd onthou

Tiptol

Ons innige simpatie.

Pitbul

So so hartseer… het nog steeds my Voortreker hempie van 1977. Jacob Lichthelm komando gewees.