Monument spog met bekende kunstenaar se beelde

Hennie Potgieter (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting is nou die trotse bewaarders van beeldhouwerk van Hennie Potgieter, een van die mees bekende beeldhouers in Suid-Afrika.

Agt beelde van brons en gips is vandeesweek op ’n bruikleen-ooreenkoms aan die monument oorhandig. Die beelde sal binnekort vir lede van die publiek uitgestal word.

Die beelde sluit in ’n kleiner replika van die beeld Meisieskool Oranje, die kenteken van dié Hoërskool in Bloemfontein, in. ’n Kleiner replika van Buffelkop, wat bo die monument se ingang hang, maak ook deel uit van die beelde wat aan die monument geleen is.

Buffelkop maket (Foto: Verskaf)

Potgieter se dogter, Kitta Potgieter, wat in Skotland woon, het versoek dat die monument die beelde bewaar nadat haar ongetroude suster, Olga, verlede jaar oorlede is.

Getemde Vryheid maket (Foto: Verskaf)

“Ek wou ’n plek gehad het waar daar na my pa se beelde omgesien gaan word en waar mense sy beeldhouwerk kan waardeer en sien,” het Kitta gesê.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Voortrekkermonument is Potgieter in 1916 naby Paul Roux in die Vrystaat gebore en sy liefde vir beeldhou het reeds op ’n vroeë ouderdom begin.

Potgieter het in 1987 ’n medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is vier jaar daarna (in 1992) oorlede.

Gerard de Kamper, kurator van versamelings by die Universiteit van Pretoria (UP) se museums, sê die meeste van Potgieter se werke het gehandel oor die werker en werkersklas in sy leeftyd.

“Potgieter word beskou as ’n kulturele en monumentale beeldhouer, aangesien hy baie beelde vir monumente gemaak het,” het De Kamper gesê.

Van Potgieter se ander bekende beelde is Saaier en Maaier, wat by die Willem Prinsloo-museum staan en die Koos de la Rey-standbeeld in Lichtenburg.

Die Klipspringer (Foto: Verskaf)

Kitta sê haar gunstelingbeeld is Klipspringer, ’n uitbeelding van dié klein boksoort wat op ’n klip staan. “Dit was vir my ’n emosionele proses om dié beeld te laat gaan.”

“As ek van oorsee af kom kuier, het ek altyd gevoel ek kom huis toe omdat my pa se beelde hier (by haar suster se huis) was, maar nou gaan ek nie weer daardie gevoel hê nie,” het Kitta vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

Wagte sal aangestel moet word om die Monument gebou te beskerm. Kriminele kaders steek dit maklik aan die brand. Die spesie is gek oor vuur en verwoes.

Marius ·

Hoeveel van die mooi beeldhouwerke is nou al vernietig of verwyder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.