Monument spog met replika van Voortrekker-veldslag

Die replika van Coert Steynberg se oorspronklike beeld in Heilbron. (Foto: Verskaf)

Op die vooraand van die 185ste herdenking van die Slag van Vegkop, sal ʼn miniatuur-replika van die Vegkopmonument in die trekroetetuin by die Voortrekkermonument in Pretoria onthul word.

Dié replika is deur Jaco van Niekerk, ʼn beeldhouer van Hartbeespoort in Noordwes, gemaak.

Die oorspronklike beeld is deur Coert Steynberg gemaak en staan tans op Heilbron.

Dit beeld ʼn Voortrekkerman uit wat met sy voorlaaier ʼn assegaai afweer. In sy ander hand klou hy aan ʼn Bybel vas.

“Geskiedenis is van jongs af al my passie. Hierdie is deel van ons geskiedenis en ʼn mens moet dit lewendig hou,” sê Van Niekerk.

Die Slag van Vegkop naby Heilbron in die Vrystaat is in die geskiedenisboeke van die Afrikaner opgeteken as een van die grootste militêre prestasies van die Groot Trek. Sowat 40 Voortrekkers het op 16 Oktober 1836 hul man gestaan teen ʼn mag van sowat 4 000 Ndebele-vegters.

Hoewel al die vee tydens die aanval gebuit is, het die trekgeselskap teruggetrek na Thaba Nchu van waar die Groot Trek verder ontplooi is.

Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sê hierdie veldslag, net soos die Slag van Bloedrivier, is besonder betekenisvol vir die vesting van die Christelike-Westerse beskawing in die binneland van Suid-Afrika.

Die miniatuur-beeld sal binnekort in die gerestoureerde trekroetetuin uitgestal word, saam met ses ander replikas van onder meer Bloukrans, die Bybelmonument, Geloftekerk, Retief-klip en Ohrigstad-fort.

Die historiese trekroetetuin word tans gerestoureer en sal binnekort weer met die vyf Voortrekkerroetes, wat aanvanklik in die 50’s daar uitgelê is, spog. Dié voorstelling van die roete is aanvanklik in 1963 voltooi en sal eersdaags weer dien as ʼn fokustuin, waar besoekers die Groot Trek kan herleef.

“Die Voortrekkermonument is baie opgewonde oor die herstel van die historiese trekroetetuin en die aanbring van historiese Groot Trek-bakens,” sê dr. Danie Langer, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

“Die bakens bevestig belangrike oomblikke tydens die Groot Trek. Deur GPS-koördinate by die miniatuur-modelle van die Groot Trek-monumente te voeg, hoop ons om besoekers aan te moedig om die bakens ook in die Vrystaat en in Natal te besoek.”

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vier Saterdag die herdenking van die Slag van Vegkop deur ʼn tydkapsule by die Voortrekkermonument te begrawe met briewe van kinders en lede van die gemeenskap daarbinne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Ek wil net graag vra of daar ‘n projek is, om die Groot Trek en verskeie veldslae aan te dui op Google maps.

Samuel

Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sê hierdie veldslag, net soos die Slag van Bloedrivier, is besonder betekenisvol vir die vesting van die Christelike-Westerse beskawing in die binneland van Suid-Afrika.
As ek kyk hoe sommige van die nuwe demokrate mekaar vermoor en verkrag,
Wonder ek of die opoffering van ons miskende, helde voorvaders, met die verspreiding van die evangelie, enige impak op party mense gemaak het

Skuilnaam

Ai! Die arme siele wat maar net nie verby die Groot Trek kan kom nie. Lewe in die verlede, en krepeer in die huidige.

AW

Verkoop van daardie replika’s

Julle sal geld lekker in vorder

Ek self sal een koop .

Diline

Ten minste is daar nog mense daarbuite wat omgee oor hulle kultuur en voorgeslagte! Ek is en sal altyd ‘n TROTS afrikaner bly.