In diepte: Monumentale fiasko om die geskiedenis weg te vandaliseer

Foto: UCT/Facebook

Argieffoto: UCT/Facebook

James Kemp en Susan Lombaard

Die vandalisering van standbeelde het die nuus vroeër vanjaar oorheers, tot talle debatte gelei en groot ongemak veroorsaak in ’n land waar rasseverhoudings reeds broos is. Maar wat is die eintlike redes agter die beskadiging van standbeelde? En is dit iets wat eie is aan Suid-Afrika?

Die standbeeld van Cecil John Rhodes sit al sedert 1934 peinsend en tuur oor die rugbyvelde van die Universiteit
van Kaapstad, sy blik in die rigting van donker Afrika. Vir sommiges is Rhodes die heroïese 19de eeuse politikus, mynmagnaat en sakeman, vir ander weer die gevoellose kapitalis-imperialis, afhangend van jou perspektief.

Aktiviste by dié universiteit kla reeds die afgelope twee jaar of wat toenemend oor die teenwoordigheid van die standbeeld op hul kampus. Dit is egter eers in Maart vanjaar dat hulle aksie geneem het deur menslike ontlasting oor die kunswerk te smeer en só maksimum publisiteit vir hul haat jeens dié beeld te verseker. Volgens studente wat aan die “Rhodes must fall”-veldtog deelgeneem het, is die standbeeld ’n sogenaamde simbool van wit oorheersing. Vroeg in April het die universiteitsraad onder die druk geswig en aangekondig dat die standbeeld verwyder gaan word en veilig bewaar sal word totdat Erfenis Wes-Kaap (EWK) besluit het wat om daarmee te maak.

Intussen het dié vorm van protes egter vlamgevat en versprei na ander groeperings wat hul aversie teenoor ander standbeelde en waarvoor dit volgens hulle sou staan, te kenne gegee het. In ʼn vlaag soortgelyke voorvalle het verskeie standbeelde deurgeloop, waaronder die oorloggedenkstandbeeld op Markplein in Uitenhage en Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria, wat onder die groen verf van vandale deurgeloop het. Die vandalisering van die Kruger-standbeeld het gevolg op die EFF se uitspraak dat hy alle standbeelde van “apartheidsikone” in die stad sal vernietig, insluitend die Kruger-standbeeld.

Sommige Afrikaners het wel in hul mou gelag toe die standbeeld van Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad met verf bygekom is. Die woorde #rhodesmustfall is in groot rooi letters daarop geskryf. Kommentaar op sosiale netwerke het daarop gedui dat sommige Afrikaners hulle verlekker in die vandalisering en latere verwydering van Rhodes se standbeeld. Enkeles het egter daarop gewys dat ander erfenisstukke sou volg en nie net Britse imperialiste sou deurloop nie.

Hulle was reg.

Mbuyiseni Ndlozi, nasionale woordvoerder van die EFF, het in ’n televisieonderhoud geweier om verantwoordelikheid te neem vir die vandalisering van standbeelde. Hy het egter ook geweier om diegene wat daarvoor verantwoordelik was, vas te vat. Die EFF het immers kort tevore hulself amptelik geskaar by diegene wat vra vir die verwydering van alle standbeelde wat “’n kolonialistiese geskiedenis” het. Meer spesifiek het hulle die verwydering van genl. Louis Botha se standbeeld voor die parlement geëis. Enkele ure later is ook dié standbeeld gevandaliseer. Talle ander standbeelde het oor die volgende paar dae gevolg – van Koningin Victoria se standbeeld en die perdegedenkbeeld in Port Elizabeth tot dié van Andrew Murray in Wellington en adv. J.G. Strijdom in Krugersdorp. Later is selfs ’n standbeeld van Mahatma Gandhi gevandaliseer.

Die vreemdste vandalisering was waarskynlik dié van die Saartjie Baartmangedenkteken in Hankey in die Oos-Kaap wat aan die einde van April met wit verf bygekom is. Baartman was ’n Khoi-vrou wat in 1810 na Europa geneem en daar tentoongestel is omdat Europeërs deur haar groot agterstewe en velkleur gefassineer was. Ná haar dood is haar liggaam vir wetenskaplike en mediese navorsing gebruik voordat haar oorskot uiteindelik in 2002 na Suid-Afrika teruggebring is. Dis nog nie duidelik of die vandalisering van dié gedenksteen verband hou met die voorafgaande voorvalle van vandalisering nie.

Hoekom die herrie?

Die herrie oor standbeelde het begin met pres. Jacob Zuma se uitlatings aan die begin van die jaar oor geskiedenis, en meer spesifiek oor die feit dat Jan van Riebeeck vir al die probleme in die land verkwalik moet word, sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. “Dit het die klimaat geskep waarbinne historiese gebeure en figure, soos vergestalt in standbeelde en monumente, as sondebokke uitgebeeld kon word deur anargiste en populiste wat die debat vir hul eie ideologiese agendas gekaap het. Die debat wat die meeste aandag getrek het, was die een rakende die Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad. Uit die argumente van die studente wat die verwydering van Rhodes geëis het, is dit duidelik dat hulle transformasie van die universiteit se studentekorps, personeel en leerplanne eis en dat die standbeeld maar ’n klein deeltjie van ’n maklike teiken – deur vandalisme kan die ideoloë mediadekking kry en die aandag gerieflik aflei van hul gebrek aan volhoubare beleide en interne magstryde en korrupsie.”

Standbeelde versinnebeeld die samelewingsorde van die tydvak toe die beelde opgerig is, en die afbreek van beelde kom neer op die simboliese omverwerping van daardie orde, skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, in ’n artikel wat in April vanjaar op Maroela Media gepubliseer is. “Die feit dat dit nie net Afrikanerstandbeelde uit die apartheidsera is wat onder skoot is nie, maar selfs Engelse standbeelde uit die koloniale era, wys dat hierdie afbreekaksies eerder anti-Westers as anti-Afrikaner is. In die koppe van hierdie kulturele vandale beweeg die land waarskynlik van ’n postapartheidsera na ’n postkoloniale era. Omdat hulle hierdie standbeelde as oorblywende simbole van die era van Westerse oorheersing sien, is hul strewe om dit om te gooi terselfdertyd tekenend van die strewe om die Westerse stelsels in die land omver te werp. Die vraag is dus of die eintlike dryfveer agter die vernieling van die standbeelde nie eerder ’n opstand teen verwestering is as net ’n drang om te vernietig nie.”

Verset teen die verset

Verskeie organisasies het hulle teen die vandalisering begin uitspreek en veldtogte van stapel gestuur om dit teen te werk. AfriForum het ’n afvaardiging na Kaapstad gestuur wat daar ’n memorandum aan die owerhede oorhandig het. Hulle het ook ’n banier om die standbeeld van Jan van Riebeeck gehang met die woorde “Ek het help bou my ou”, om Jan van Riebeeck se bydrae tot die uitbou van Suid-Afrika se infrastruktuur te bemark.

Die Orania Beweging het daarop gewys dat die veranderende demografie in ag geneem moet word wanneer oor die toekoms van standbeelde besluit word. Volgens die uitvoerende hoof van die Orania Beweging, Jaco Kleynhans, kon diegene wat 30 jaar gelede op Kerkplein verby die standbeeld van Paul Kruger gestap het, baie sterk met hom assosieer. Vandag is dit nie meer die geval nie. Indien die standbeelde verskuif word, is dit belangrik om die demografie in ag te neem wanneer daar oor ’n nuwe tuiste besluit word, het hy gesê.

’n Boerassic Park?

Waarheen nou met die “aanstootlike” standbeelde? Daar is verskeie maniere waarop die probleem aangepak kan word, verduidelik Alana Bailey. “Die beelde kan bly waar dit is en ons kan net sorg vir die bewaring daarvan, of dit kan na veiliger omgewings verskuif word. Daar moet egter ten alle koste gewaak word teen oorhaastige besluite na enige kant toe, wat geneem word onder die druk van die kulturele terroriste wat standbeelde teiken. Ons kan nie toelaat dat die Afrikaner se geskiedenis uit die openbare oog verwyder word, verder verdraai word, of in ʼn vyandige konteks uitgebeeld word nie.”

Om ook oor dié kopkrapper te besin, het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ’n beraad gereël waar rolspelers insette kon lewer oor die toekoms van monumente en standbeelde. Ná afloop van die beraad het sy departement ’n paar resolusies opgestel en dit ’n paar dae later aan die afgevaardigdes voorgehou. Die voorstelle het die indruk geskep dat die minister van die afgelope tyd se vandalisme gebruik wou maak om sommige standbeelde uit die openbare oog te verwyder. Een van die resolusies het voorgestel dat Afrikanerstandbeelde na ’n park verskuif word om daar vertoon te word. Daar is op sosiale media spottenderwys hierna as “Boerassic Park” verwys. Terwyl hierdie oplossing op die oog af na ’n sinvolle een klink, het pres. Jacob Zuma klaar die geleentheid raakgesien om die standbeeldedebakel en ʼn sogenaamde “Boerassic Park” uit te buit om ’n bepaalde agenda te dien. “Deur die standbeelde te vernietig, rig skade aan die bewaring van die geskiedenis van die land, insluitend die afstootlike koloniale apartheidsgeskiedenis,” het hy by die 22ste herdenking van Chris Hani se sluipmoord gesê. “Toekomstige generasies moet weet gesê. “Toekomstige generasies moet weet wie ons land gekolonialiseer het en wie apartheid ingestel het wat uiteindelik deur die Verenigde Nasies as ’n misdaad teen die mensdom verklaar is.”

Dr. Blade Nzimande, uitvoerende hoof van die SAKP, praat van “apartheidsparke” waarheen standbeelde geskuif kan word “sodat Suid-Afrika opgelei kan word oor sy geskiedenis. Ons verwelkom die debat oor simbole van koloniale en apartheidsverdrukking,” het hy gesê. “Ons stem saam dat die standbeelde nie vernietig moet word nie. Ons moet dit na ’n park toe skuif sodat ʼn mens kan deurstap en iemand jou telkens kan verduidelik wat en wie dit is.”

Dis duidelik dat die debat oor standbeelde, en alles waarvoor dit staan, nog lank nie verby is nie. Net die toekoms sal leer waar Rhodes en Kruger oor ’n klompie jaar van nou af hul staan sal kry.

  • Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Pretoria FM se Vasbyt-tydskrif Winter 2015.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hein ·

Dit gaan maar alles oor die heersende regime wat tog so graag hulle stempel wil afdruk. Hulle wil nou standbeelde oprig van hoe hulle die teenoorgestelde regkry met die onderdrukking van hulle kant af; waar die straat en dorpnaam hernoemings vandaan kom. Ongelukkig is dit nog steeds ‘n kommunistiese terroriste-organisasie wat in beheer van die land staan, en soos wat dit tipies is met hierdie organisasies gaan is dit beter om iets wat funksioneel, mooi en skoon met ‘n Europese naam was, te laat verval in ‘n disfunksionele, vuil en korrupte iets met ‘n trotse Afrika naam. Ons sal altyd onthou hou hoe dat die klein dorpies, alhoewel die stadsrade nie massas geld gehad het nie, statig en funksioneel was. Nou is dit hernoem en ‘proudly disfunctional’! Hulle sal nie daarin slaag om die ware geskeidenis uitgewis te kry nie!

Ekke ·

Ja dit kan jy weer se – Om die standbeelde te vernietig, skuif of vandaliseer gaan nie die geskiedenis verwyder nie ….. hulle skryf ‘n nuwe geskiedenis – een van totale wanorde en vernietiging van strukture – ‘n tipiese voorbeeld van hoe Suid Afrika vandag daar uit sien en dit gaan nog erger word – Hulle gaan seker nou met die museums begin want dis deel van die wit Suid Afrikaner se erfenis – Die monument in Pretoria! is een
Ek klink seker pesimisties maar ek weet nie waar alles gaan eindig nie – Heelwaarskynlik iets soos in die fliek The book of Eli van Denzil Washington……..

Jolene ·

Hierdie is net nog n demonstrasie van hul onvermoë om vooruitgang te fasiliteer. Dis eenvoudig lagwekkend.Alhoewel ek dit terdee geniet om ons trotse Suid Afrikaanse geskiedenis in die vorm van beelde aan my eie kinders te vertel,herhinner ek myself dat dit net beelde is.Ek onthou baie goed hoe die ou Stem die mooiste en wonderlikste lied was wat ons as klein kindertjies geleer het.Daai diepe trots wat nooit jou hart Sal verlaat nie en dit kan niemand met verf of watookal bemors nie. Dankie tog vir n oordentlike opvoeding waar God die middelpunt is.

Johan 2 ·

Wil net graag my kinders ook trots maak met n goeie vooruitsig, maar…

arie steyn ·

ek voel dit het tyd geword om die anc en sy trawante te vra of hulle daarvan sal hou as ons die mandelabeelde gaan wit verf, ek kry die gevoel hulle het nie n benul wat in die land aangaan nie en ook nog minder waar kom als vandaan wat in s a is nie .

Johannes Meintjes ·

As voorstander van die Nuwe Boerassic of Boerassic Park, kan die perseel vir “Apartheid” simbole en standbeelde as onlosmaaklike deel van die geskiedenis, dan besmoontlik sommer ook Volkstaat heet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.