Moody’s: Dade praat nou harder as woorde

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. Foto: ANA

Die Suid-Afrikaanse regering gaan dringend stappe moet doen om nuwe lewe in die ekonomie te blaas. Dít was die reaksie van verskeie ekonome nadat die kredietgraderingsmaatskappy die land se kredietgradering onveranderd gelaat en sy vooruitsig van negatief na stabiel verander het.

Die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schussler, sê die regering se optrede gaan nou nie net by woorde kan bly nie.

“Hulle sal nou die woord by die daad moet voeg,” sê hy.

Volgens Schussler het die aanstelling van ʼn nuwe bestuur vir Eskom, die kabinetskommeling en die skorsing van die SA Inkomstediens se hoof, Tom Moyane, bewys gelewer dat die regering nou deursigtig gaan wees. Hy voeg by dat staatsbeheerde ondernemings van korrupsie ontslae moet raak en help om ekonomiese groei te rugsteun.

Schussler sê nog ʼn uitdaging vir die regering gaan die staatsdiens se looneise wees. Enige eis en skikking wat bo inflasie is, sal as negatief beskou word.

Schussler sê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gaan waarskynlik ʼn moeilike taak hê om Denel, Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en Transnet reg te ruk. Volgens Schussler het die maatskappye tydens die Zuma-presidensie grootliks weens staatskaping gebloei.

Daar heers ook nog kommer oor SAL se benarde finansiële situasie. Schussler meen dit is tyd dat die regering dit oorweeg om die lugdiens te verkoop. Enige finansiële waarborge vir die SAL sal deur graderingsmaatskappye as negatief beskou word.

Juis daarom kan Moody’s se besluit as ʼn mosie van vertroue in die nuwe regering van pres. Cyril Ramaphosa beskou word.

Die ekonomiese groep NKC Economic Research sê dat Moody’s se besluit welkom is en ʼn moontlike uitvloei van kapitaal uit die land vir eers gestuit het. Die groep beaam ook dat staatsbeheerde maatskappye nou ʼn positiewe ommeswaai sal moet toon en tot ekonomiese groei help bydra.

NKC voeg by dat die besluit nie net vir Suid-Afrika verligting gebring het nie, maar juis beleggersentiment sal ondersteun. Moody’s se besluit bring mee dat Suid-Afrika steeds in die Citi Wêreld-staatsuitgifte-indeks ingesluit sal wees.

Volgens NKC is die politieke ontwikkelinge in die land positief. Die kwessie wat wel by graderingsmaatskappye en beleggers gaan spook, is hoe die nuwe beleidsrigting ingestel en toegepas gaan word.

Die maatskappy sê ekonomiese groei, fiskale dissipline en sosiale kohesie is noodsaaklik. Hy waarsku egter die regering sal moet uithaal en bewys dat hy ʼn nuwe rigting inslaan. Anders kan dit ʼn negatiewe uitwerking op toekomstige graderings hê.

Die ANC staan dus voor groot uitdagings. En indien hy faal om die positiewe politieke boodskap toe te pas, gaan die wittebrood vir hom verby wees.

“Dit is egter ʼn goue geleentheid vir die regering om munt te slaan uit gunstige beleggersentiment,” sê die maatskappy.

Intussen het die rand teenoor die dollar verstewig. Die rand verhandel vanoggend teen 11.66 nadat dit Vrydag teen 11.75 gesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Selfbeskikking ·

Dinge gaan nie regkom nie, die verval word maar net vertraag ten beste. As ons wil oorleef moet ons soeke na eie effektiewe regering nie deur sulke eilandjies van valse hoop vertraag word nie, ons moet nou al begin sterk onderhandel met ons regering en buiteland vir selfbeskikking, dis regtig al wat gaan werk.

Lolla ·

Hulle kon dit nie doen in 24 jaar nie, hulle gaan dit ook nie nou skielik kan doen nie. Hoe lekker lag ek in my mou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.