Mooinooi-4 skuldig

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. (Foto: Facebook)

Die vier beskuldigdes in die sogenaamde Mooinooi-saak is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind op die aanklagte teen hulle.

Mercia Strydom (23), Aaron James Sithole (26), Jack Sithole (20) en Alex Modau (36) is onder meer aangekla van sameswering om Anisha en Joey van Niekerk te vermoor, roof, ontvoering en diefstal. Die vier is op al dié aanklagte skuldig bevind.

Die Sitholes is ook skuldig bevind aan verkragting, terwyl Mercia Strydom bykomend skuldig bevind is aan die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Anisha en Joey het in Desember 2017 spoorloos verdwyn uit die huis waarin hulle op ʼn kleinhoewe in die Mooinooi-omgewing gewoon het. ʼn Soektog na die vroue is van stapel gestuur en ongeveer ʼn week later is hulle wit Nissan X-trail-sportnutsvoertuig in die Magaliesburg-omgewing gevind.

Dit het later aan die lig gekom hulle is op grusame wyse verkrag en vermoor.

Koos Strydom, die vermeende baasbrein in die moord op die Van Niekerk-egpaar, is in September verlede jaar bewusteloos in sy enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis gevind en na ʼn hospitaal geneem. Hy is deur masjiene aan die lewe gehou en is vier dae later dood.

Die staat het aangevoer die Van Niekerk-egpaar is vermoor omdat Koos Strydom hulle kleinhoewe wou bekom.

Rina Payne, Joey se suster, het ná afloop van die hofverrigtinge gesê sy het gemengde gevoelens, maar is tevrede dat geregtigheid geskied.

“As dit van my afhang, sal hulle lewenslange tronkstraf kry. Hulle mense kan vir hulle in die tronk gaan kuier, maar ons het nie meer daardie voorreg nie. Dit is van ons weggeneem,” het Payne gesê.

Wynand van Niekerk, Anisha se broer, het ook die skuldigbevindings verwelkom en het gesê daar is uit verskeie oorde, van die polisie se ondersoekspan tot die staatsaanklaers en die families, hard gewerk om die saak tot op dié punt te dryf.

“Dit is ʼn proses van drie en ʼn half jaar wat nou ten einde loop. Dit kom saam met ʼn mate van vrede en rustigheid en dit maak die afgelope paar jaar minstens draaglik,” het Van Niekerk gesê.

Hy het gesê niks kan egter die twee vroue se dood regverdig nie.

Die vier word in Oktober gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Hierdie sask het baie lank gesloer en ek sal grasg wil hoor wat hulle vonnis sal wees. Volgens my beskik SA nie oor gepaste vonnis nie. Hiervis mense lewe goedkopp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.