Mooinooi-4 tot lewenslank gevonnis

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Anisha en Joey van Niekerk se vier moordenaars is Donderdag onder meer lewenslange tronkstraf opgelê.

Mercia Strydom (23), Aaron James Sithole (26), Jack Sithole (20) en Alex Modau (36) is Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die wrede moord op Anisha en Joey in 2017.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die vier beskuldigdes is verder elkeen 15 jaar tronkstraf opgelê op een aanklagte van roof met verswarende omstandighede, tien jaar elk op twee aanklagte van ontvoering en drie jaar elk op drie aanklagte van diefstal.

Die Sitholes is ook elkeen tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklagte van verkragting terwyl Strydom ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê is vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Al vier is ’n verdere tien jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van dwarsboming van die gereg.

Maroela Media het vroeër berig Anisha en Joey het in Desember 2017 spoorloos verdwyn uit die huis waarin hulle op ʼn kleinhoewe in die Mooinooi-omgewing gewoon het. ʼn Soektog na die vroue is van stapel gestuur en ongeveer ʼn week later is hul wit Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig in die Magaliesburg-omgewing gevind.

Dit het later aan die lig gekom hulle is op grusame wyse verkrag en vermoor.

Koos Strydom, die vermeende baasbrein in die moord op die Van Niekerk-egpaar, is in September verlede jaar bewusteloos in sy enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis gevind en na ʼn hospitaal geneem. Hy is deur masjiene aan die lewe gehou en is vier dae later dood.

Die staat het aangevoer die Van Niekerk-egpaar is vermoor omdat Koos Strydom hulle kleinhoewe wou bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Lewenslank + soveel + soveel maar word aaneenlopend uitgedien, dit is dus net op papier

Charmaine ·

Beste nuus ooit. Net jammer Koos Strydom het so maklik daarvan afgekom. Mag hulle al hulle dae in die tronk hê, ‼️

Spook ·

Ek hoop van harte dat lewenslank wel lewenslank is, en nie gou-gou na 5 jaar uit die tronk uit

LANA is ELANè ·

Selfs al roep ons in die uur van nood die Here se naam aan sal Hy ons in liefde toevou. Baie mooi getuienis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.