Mooinooi-‘meesterbrein’ in hof vir nóg ʼn moord

Koos Strydom in die hooggeregshof in Mogwase (18 September 2018). Foto: Landi Slatter

Koos Strydom (52), die beweerde baasbrein in die moord op Joey en Anisha van Niekerk, het Dinsdag in die hooggeregshof in Mogwase naby Rustenburg in Noordwes verskyn in verband met die moord op Mandie Jansen van Rensburg in Junie 2014.

Strydom het ʼn sakeonderneming van Jansen van Rensburg se eiendom af bedryf. Jansen van Rensburg is doodgeskiet in wat aanvanklik as ʼn plaasaanval bestempel is.

Strydom se medebeskuldigde in dié saak is ook een van sy medebeskuldigdes in die Van Niekerk-moordsaak. Dié man mag in dié stadium nie geïdentifiseer word nie aangesien hy teregstaan op ʼn klag van verkragting in die Mooinooi-saak.

Strydom het ʼn skrootwerf op Jansen van Rensburg se kleinhoewe bedryf en wou dus dié kleinhoewe by haar koop. Sy is kort daarna doodgeskiet.

In die akte van beskuldiging in die Mooinooi-saak voer die staat aan dat Strydom die moord op Joey en Anisha georkestreer het nadat hy glo ook Joey en Anisha se kleinhoewe wou koop. Strydom het ʼn winkel op Joey en Anisha se kleinhoewe gehuur.

Koos Strydom in die hooggeregshof in Mogwase (18 September 2018). Foto: Landi Slatter

Die staat voer aan Strydom het ʼn koopkontrak laat opstel en besluit dat Anisha gedwing moes word om dit te teken. “Die beskuldigde se voorneme was dat albei oorledenes vermoor sou word nadat die kontrak geteken is. Die beskuldigde het die ander beskuldigdes vir hierdie doel genader om hom te help,” lui die akte van beskuldiging.

Strydom en sy medebeskuldigde word aangekla van moord en sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Strydom staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van intimidasie. Dié intimidasie het glo tussen Junie 2014 en September 2018 plaasgevind teenoor drie van die getuies wat in die Jansen van Rensburg-saak gaan getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Reg ·

As daar nog doodstraf was………is hierdie lankal stop gesit.

Annamarie Olivier ·

In hierdie geval is die doodstraf nodig.
Hy sal net weer en weer moor

jaco ·

die man was baie dom. lees hy nie koerant nie. kyk hy nie TV-nuus nie. selfs al het sonder moord die 2 dames se plaas op sy naam gekry, is dit net so 1 of 2 jaar, dan word hy onteien sonder vergoeding.

Ek skree ook ·

Ek skree ook doodstraf, hy kan nie rehabiliteer word nie en gaan net die belastingbetaler ‘n klomp geld kos om hom te verdedig en te voer in die tronk.

leser ·

en nou gaan sy grootmaak jare weer te voorskyn kom
sluit toe en gooi sleutel vêr, baie vêr weg

muis ·

maar in ruil vir die inligting, gaan sy medebeskuldigde vry wegloop.

christa ·

geen versagting nie, grootword jare of te nie. Hy is groot en weet wat is reg en verkeerd. Hyt genoeg tyd gehad om sy boekie te herskryf, maar toe gaan hy net aag op die selfde vuil blaaie

Kokkie ·

Die doodstraf vir moordenaars, verkragters en kindermolesteerders. Oor en uit.

alida ·

As die Hof dagga kan wettig kan hulle die doodstraf ook wettig. Daar gaan net meer en meer moorde gepleeg word. Die skurke kry borg en doen dit net weer.

Peet J ·

Nogal eienaardig dat al die aantuigings teen die baasbrein nou skielik op die lappe kom tot datum ontbreek die nodige bewyse want met al die hofsake kon nog niks bewys word nie net spekulasie .

skielik

kas ·

Muis ongelukkig gaan hulle nie wegkom nie.Hulle het geen pleitooreenkoms met die staat aangegaan nie en kan nie vrywaring kry ingevolge artikel 204 van die strafproseswet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.