Mooinooi-‘meesterbrein’ pleit onskuldig in ander moordsaak

Koos Strydom in die hooggeregshof in Mogwase (18 September 2018). Foto: Landi Slatter

“Onskuldig.” Só het Koos Strydom, die man wat van die moord op Mandie Jansen van Rensburg aangekla word, Dinsdag in die hooggeregshof in Mogwase op al vyf aanklagte teen hom gepleit.

Strydom en sy medebeskuldigde word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besig van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Strydom staan ook tereg op ʼn addisionele aanklag van intimidasie.

Strydom se medebeskuldigde is ook sy medebeskuldigde in die opspraakwekkende moordsaak van Joey en Anisha van Niekerk, beter bekend as die Mooinooi-moorde.

Strydom se medebeskuldigde het ook skuld ontken op alle aanklagte teen hom. Sy naam kan nie bekendgemaak word nie aangesien hy teregstaan op ʼn klag van verkragting in die Mooinooi-saak.

Staatsaanklaer Rodger Muraume het Dinsdag in die hof gesê dat Jansen van Rensburg ʼn deel van haar kleinhoewe aan Strydom sou verkoop en die twee het lewenspolisse ter waarde van R1,8 miljoen op elkander uitgeneem as sekuriteit.

Strydom het gevolglik ná Jansen van Rensburg se moord op 24 Junie 2014 die R1,8 miljoen ontvang. ʼn Amptelike nadoodse ondersoek het bevind dat Jansen van Rensburg gesterf het as gevolg van ʼn skietwond aan haar kop. Sy is doodgeskiet in ʼn voorval wat aanvanklik as ʼn plaasaanval bestempel is.

Die staat se eerste getuie, wat nie geïdentifiseer wil word nie, is vandag na die getuiebank geroep. Sy het lank saam met die tweede beskuldigde in die saak vir Strydom gewerk en hul verhouding was volgens haar goed.

Volgens die getuie het die tweede beskuldigde die oggend van 25 Junie aan haar erken dat hy vir Mandie doodgeskiet het, glo in ruil vir ʼn voertuig wat Strydom vir hom sou gee en R10 000 wat hy sou ontvang. Hy was volgens haar dronk toe hy haar van die misdaad vertel het. Sy het ook getuig dat die tweede beskuldigde sover haar kennis strek kort ná Jansen van Rensburg se moord ʼn wit bakkie by Strydom ontvang het, wat later weer verkoop is.

“Ek weet nie van die geld nie,” het sy gesê.

Strydom se medebeskuldigde het sy kop herhaaldelik geskud tydens haar getuienis en het by monde van sy prokureur alles ontken.

Die getuie het ook vertel dat “baas Koos” gereeld grappies gemaak het dat Jansen van Rensburg “nie Desember 2014 sal sien nie”. Die hof het verder gehoor dat Strydom haar glo by meer as een geleentheid ʼn motor en R10 000 aangebied het om nie teen hom te getuig nie.

“Ek het dit nie gevat nie.”

Strydom het haar glo ook gekontak terwyl hy in aanhouding was tot so onlangs as twee weke gelede.

ʼn Ander man, wat ook nie nou geïdentifiseer kan word nie aangesien hy ook op die staat se getuielys is, het haar glo ook een maal gebel en gesê sy moet versigtig wees want Strydom wil haar, haar kêrel en haar kinders “uithaal”.

Sy het nie enigiets by die polisie aangemeld nie, glo omdat Strydom haar belowe het hy sal haar doodmaak. Daar was ook ʼn rooftog by die skrootwerf op Jansen van Rensburg se kleinhoewe in die tyd toe sy daar werksaam was. Sy sê Strydom se medebeskuldigde het haar tydens die rooftog in ʼn toilet toegesluit en gekeer dat die rowers by haar uitkom. Sy was swanger ten tyde van die voorval.

“Toe ek vir Koos van die voorval vertel, het hy vir my gesê ‘ja, hulle was eintlik vir jou bedoel’.”

Adv. Tiro Gonyane, die regsverteenwoordiger vir Strydom se medebeskuldigde, het die getuie daarvan beskuldig dat sy dié inligting vir vier jaar vir haarself gehou het en gevra hoekom sy dit gedoen het. “Ek het na die polisie toe gegaan… Ek was die hele tyd bang omdat hy my gedreig het.”

Gonyane het aangevoer sy kliënt praat net Tsonga en kan nie ʼn vlot gesprek in “fanagalo” voer nie. “Hy hét Engels met my gepraat en vir my vertel wat gebeur het,” het die getuie hierop geantwoord.

Adrian Nell, Strydom se regsverteenwoordiger, het die getuie kortliks ondervra voordat die hof verdaag het vir die dag.

Die saak sal Woensdag voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elsa ·

Waar het ek dit al van tevore gehoor:”I did nothing wrong”.

Liberaal ·

Dis waarom ons linkses, die dienaars van die NWO, hom so sal beskerm met misdadigerregte.

Theresa B ·

Die belastingbetalers se geld word nou net gemors. Kry klaar met die man……………….

Niklaas ·

Ek twyfel of hierdie Koos enige berou het vir hierdie beweerde dade. As dit waar is en hy is skuldig , moet geregtigheid seëvier. Die doodstraf was een goeie afskrikmiddel in die verlede….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.