Mooinooi-plaasmoord: Beskuldigde se ma vertel van skok

hof-hamer

Argieffoto.

Die twee mans wat tereg staan vir die moord op Steyn Steenekamp (75), wie se liggaam op 31 Januarie op sy plaas naby Mooinooi in Noordwes aangetref is, sal Donderdag weer in die rondgaande hof in Marikana verskyn.

Maj. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Bertie Olckers (27) en Luan le Roux (29) staan tereg op aanklagte van moord en motordiefstal. Hulle sal na verwagting môre om borgtog aansoek doen.

Olckers en Le Roux is kort nadat Steenekamp se liggaam gevind is, in Fochville vasgetrek. Steenekamp se vermiste voertuig is in hul besit gevind. Volgens die polisie was Olckers en Le Roux werkers op Steenekamp se plaas.

Die polisie het vroeër gesê Steenekamp is vermoedelik verwurg en met ʼn ysterstaaf oor die kop geslaan. Sy hande en voete was ook vasgebind.

Belinda Olckers, Bertie se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy was baie geskok om van die aanklagte teen haar seun te hoor, maar glo hy is deur verkeerde mense in sy lewe beïnvloed. “Hy was altyd ʼn goeie kind wat altyd net ander wou help, maar toe het hy by ʼn vrou betrokke geraak wat ʼn baie slegte invloed op hom gehad het,” het sy gesê.

“Ek en sy pa het altyd vir hom gesê die vrou gaan hom nog in die tronk laat beland. Ons het net nooit geweet dit sal vir moord wees nie.” Sy het gesê haar seun het ook glo in ʼn stadium dwelms gebruik.

Volgens Belinda het sy die afgelope tyd baie min kontak met Bertie gehad het en sy ken nie sy medebeskuldigde, Le Roux, nie. Sy weet ook nie of die twee wel op Steenekamp se plaas gewerk het soos beweer word nie.

“Ek voel net so jammer vir [Steenekamp se] familie,” het sy gesê. “Toe ek die nuus hoor, het ek harder gehuil oor wat met hom gebeur het as oor die nonsens wat Bertie aangejaag het. Hy moes nie so gesterf het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daleen ·

Innige simpatie met Bertie se Moeder en ook Mnr Steenekamp se familie. Dit was ‘n tragiese gebeurtenis en dit net vir die volgende fix (as jy my vra!). Maak die dwelm duiwel dood en hierdie sinnelose moord en geweld sal drasties afneem. Glo my, ek weet!!!

Gesiggie ·

Mevrou ek kan jou seer verstaan, jy het jou kind tot die beste van jou hele lewe probeer groot maak, jy het hom nie van die slegte dinge geleer… n mens kan n kind van die lewe vertel, maar nie sy lewe vir hom lei.. om deur iemand anders beinvloed te word is n keuse wat net jy self kan neem… n mens kan n perd tot by die water vat… maar hom nie maak drink. Ek voel so jammer vir die Steenkamp Familie ek hoop dat die 2 wat so n daad gepleeg het… verdien wat hul toekom.

andre ·

Soveel soos ek simpatie het met die moeder, gaan dit nie help om die vinger te wys en die blaam op die meisie te plaas nie, haar ouers plaas nie die blaam op hom nie. Volgens die berig is hy mooi groot en moet hy verantwoordelikheid vat vir sy eie besluite. Om n ou man te vermoor, en op so n wrede manier boonop wek geen simpatie vir hom of sy vennoot nie. jammer vir hulle ouers? Ja, beslis: Vir hulle? Nee, kry wat jou toekom. julle is niks beter as enige ander plaasmoordenaar nie.

DPJ ·

Ons innige empatie met Steyn Steenekamp se familie en met Bertie se moeder en pa.
Al wat ‘n mens kan doen is om jou kinders aan God drie-enigheid elke dag in gebed op tedra en vra vir Sy beskering elke dag. Gebed verander sake.

Karma ·

Meegevoel aan die slagoffer se familie en vriende. André, hierdie moeder se hart is gebreek omdat sy haar kind na die beste van haar vermoë opgevoed en gelei het (glo ek). Maar toe het iets in die jong man se lewe verkeerd geloop en het hy ‘n wrede misdaad gepleeg, waarvoor (ek glo, weer eens) hy sy straf soos ‘n man moet vat. Maar nog steeds is niemand anders te blaam daarvoor as jy verkeerd optree nie; daarmee stem ek volmondig saam. Die ma kan nou nie haar seun se vriende blameer vir sy wandaad nie. Hoe dit ookal sy: hierdie storie is hartseer, hoe mens ookal daarna kyk. ‘n Onskuldige ou man is dood, sy familie en vriende in rou gedompel, ‘n Ma se hart is gebreek en twee jong mans se lewens vir ewig opgemors.

Takkie Takuuza ·

En op die vorige berigte skreeu ons plaasmoord en teroriste want ons is al so gewoond daaraan, net om nou nog kwater te word, want dit was ons eie mense wat die oom doodgeslaan het. Skuim!!

Elbie ·

Liewe sus! My hart breek. Jy is in my gedagtes en my gebede! Onthou net, wat gebeur het, is nie julle skuld nie, maar ek verstaan jy is stukkend;-( altyd lief vir jou, jou sus E:-*

Peet J ·

Wonder of die twee misdadigers nie dalk gehuur is vir die daad nie want hulle het seker gemaak die slagoffer moet dood wees, niks gesteel nie en net met sy voertuig gevlug.

Jdutoit ·

Bertie en Luan Moes lankal in die tronk gewees het.Hulle het by my broer ook gebly in n woonstel in die erf en een aand my broer Se huis oopgebreek en ook sy werkskamer en duisende rande Se masjienerie gesteel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.