Mooinooi-saak: 18-jarige verdagte ‘is genadeloos’

Van links is beskuldigde 1 tot 8 in die Brits-landdroshof (1 Maart 2018). Foto: Phillip Bruwer

Nie net is die 18-jarige werker van die sogenaamde “baasbrein” in die veelbesproke Mooinooi-saak glo onwettig in die land nie, hy is ook “genadeloos vir ʼn seun van sy ouderdom”.

Só het kol. Isaac Tlhapi, die ondersoekbeampte in die saak rakende die verdwyning en moontlike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk, Donderdag in die Brits-landdroshof getuig.

Hofverrigtinge het Donderdag laat begin aangesien Tlhapi ook in ʼn saak in die Pretoriase hooggeregshof moes getuig.

Tlhapi is die staat se tweede getuie wat geroep is om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan. Die 52-jarige “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, insluitend dié 18-jarige verdagte, en twee ander mans, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Al die beskuldigdes het tydens hul borgtogaansoeke aangedui hulle gaan skuld ontken op al die aanklagte teen hulle. Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Die 18-jarige [beskuldigde 3] het tydens sy borgtogaansoek gesê hy werk al van ʼn 14-jarige ouderdom vir die “baasbrein” en hy bly ook in ʼn kamer op sy werkgewer se plaas.

Volgens Tlhapi is beskuldigde 3 die boetie van beskuldigde 1 en het die polisie ʼn verslag van die departement van binnelandse sake ontvang wat bevind het hy is onwettig in die land.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Tlhapi het gesê die beskuldigde is ʼn vlugrisiko. “Hy het van Mosambiek af in die land ingekom sonder ʼn spoor en sal die land kan verlaat soos wat hy ingekom het en verdwyn,” het Tlhapi gesê.

“Hy was genadeloos vir ʼn seun van sy ouderdom vir die beweerde dade wat hy gepleeg het. Hy het na bewering albei vroue verkrag. Hy was daar toe hulle aan hul hande opgehang is. Hy was daar toe hul beendere by die stroom weggegooi is en daar is besittings in sy besit gevind wat met die vroue se bankkaart gekoop is,” Tlhapi gesê.

“Hy was betrokke by ʼn baie ernstige misdaad en kan swaar gestraf word as hy skuldig bevind word.”

Tlhapi het aangevoer die bogenoemde is genoeg rede waarom die beskuldigde nie borgtog moet kry nie. “En ek benadruk wat ek voorheen gesê is. Die beskuldigdes betrek mekaar in die saak en hulle kan mekaar doodmaak as hulle borgtog kry.”

Volgens Tlhapi het hy self vir beskuldigde 3 in hegtenis geneem waartydens die beskuldigde aan Tlhapi gesê het hy is ná Anisha en Joey se verdwyning R800 belowe om vir tyd en wyl te vlug. “Dit self dui ook daarop dat dit vir ons moeilik gaan wees om hom op te spoor as hy borgtog kry.”

Tlhapi het met verwysing na beskuldigde 4, wie se suster in ʼn verhouding met beskuldigde 1 is, gesê beskuldigde 4 het ʼn vorige veroordeling. Hy is in 2001 skuldig bevind op ʼn aanklag van diefstal en is tot 12 maande tronkstraf gevonnis wat vir vier jaar opgeskort was.

Dié beskuldigde was ʼn werknemer by ʼn myn, maar het sedertdien sy werk verloor vandat hy in aanhouding is. Hy word met Anisha en Joey se verdwyning verbind nadat hy op ʼn uitspattige inkopietog met die slagoffers se bankkaart gegaan het. Thlapi het gesê die beskuldigde het onder meer geld getrek, brandstof ingegooi en verskeie ware, waaronder inkopies, gaan koop sonder om om te gee hoeveel geld hy spandeer. Die ondersoekbeampte beweer die beskuldigde het geweet die bankkaart behoort aan die slagoffers.

Die uitgebrande motor van Anisha en Joey van Niekerk. Foto: Verskaf

Tlhapi is van mening as dié beskuldigde op borgtog vrygelaat word, hy met die getuies sal kan inmeng. “Van die getuies is kollegas van sy vriend [beskuldigde 1] en hy het gereeld by hul werkwinkel (wat die “baasbrein” op Anisha se kleinhoewe gehuur het) gaan kuier. Hy weet ook waar hy orals die bankkaart gebruik het en sal ʼn gevaar vir die gemeenskap wees omdat hy dalk dié getuies kan gaan doodmaak.”

Landdros Semakuleng Thamage het die saak daarna tot Maandag uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

LHS ·

Ag nee, ag nee, almal weet dit vat nie so lank vir DNS toetsing nie

Wonder ·

Nou wonder ek alweer! Hoekom word die klomp nie saam in ‘n sel gesit nie!? Dit kan ons belastingbetalers mos baie geld spaar.

Tanzie ·

Alle respek aan Kol. Tlhapi. Hy sien die gevaar in dat sou hierdie mense los kom, hulle nie weer gesien sal word nie.

Theresa ·

Baie respek vir ‘n man met insig en visie.
‘n Ekstra klag van onwettig hier wees in sonnige Suid-Afrika sal verwelkom word.

Anke Botes ·

In Suid Afrika verbaas niks my meer nie… My innige simpatie met die vriende en familie van Joeye en Anisha. Ek dink nie daar kan n straf erg genoeg wees vir die mense nie. My vraag is dit die man het vir soveel jare weg gekom met soveel goed. Hoe het hy dit reg gekry????? En wie is die mense wat hom gehelp het om weg te kom met alles, want hulle is net so aanspreeklik vir wat met Joeye en Anisha gebeur het.

Ronelle ·

My hart is stukkend vir die familie van hierdie twee dames ….

ontevrede leser ·

ongelooflik hoe maklik iemand in en uit sa kan kom, daars soveel voorbeelde (guptas, mugabe(ms) ens

lizl ·

Ons kan dankbaar wees die polisie is rerig op hul tone met die saak

kas ·

Dit klink vir my die baasbrein vat wat hy wil he al moet mense sterf en dit blyk dat hy nie ‘n skoon lewe gelei het nie.Die hofsaak gaan baie opspraakwekkend wees maar ekj wonder of almal skuldig is veral moord en verkragting en of almal saamgesweer het tot die misdade.Siam Lee se liggaam is ook verbrand maar haar DNS is afgehandel.

kas ·

Vol punte aan Kolonel Tlhapi.Hy dek alle waarskynlikhede in sy getuienis oor hoekom borg nie toegestaan moet word nie.Nie een van die verdagtes het buitengewone redes gegee hoekom hulle op borgtog vrygelaat moet word nie volgens die skedule ses omstandighede nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.