Mooinooi-saak: 5 weer in hof

Van links is Mercia Strydom, Alex Modau en Koos Strydom tussen die twee Mosambiekse broers wie se identiteite weerhou moet word. Foto: Mia Spies/eNuus

Die vyf beskuldigdes wat aangekla word van die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi in Noordwes, het Dinsdag weer in die Brits-landdroshof verskyn.

eNuus berig Koos Strydom (52), sy vrou, Mercia Strydom (22), Alex Modau (36) en twee broers van Mosambiek, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, het vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 27 September uitgestel wanneer die saak vermoedelik na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas sal word. Al die beskuldigdes sal in aanhouding bly, behalwe Mercia, wat vroeër op borgtog vrygelaat is.

Die twee broers se name kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien hulle ook van verkragting aangekla word.

Tumelo Menyatso, woordvoerder van die polisie, het buite die hof aan eNuus gesê die ondersoek is afgehandel en dat al vyf beskuldigdes se DNS met die moordtoneel verbind kan word.

Die aanklagte teen Maroeca Opperman, Moses Rakubu en Vincent Strydom is vroeër die maand teruggetrek. Vincent is Koos se seun.

Koos Strydom. Foto: Mia Spies/eNuus

Al vyf beskuldigdes staan tereg op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering, drie aanklagte van diefstal en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die Mosambiekse broers staan ook tereg op twee aanklagte van verkragting.

In die akte van beskuldiging voer die staat aan dat Koos die baasbrein agter die Van Niekerk-egpaar se moord was. Volgens die staat het Koos ʼn winkel op Joey en Anisha se kleinhoewe gehuur. Hy wou die kleinhoewe by die vroue koop en het ʼn koopkontrak laat optrek.

Die staat voer aan Koos het besluit dat Anisha gedwing moes word om die koopkontrak te teken. “Die beskuldigde se voorneme was dat beide van die oorledenes vermoor sal word nadat die kontrak geteken is. Die beskuldigde het die ander beskuldigdes vir hierdie doel genader om hom te help,” lui die akte.

Op 10 Desember verlede jaar het Joey en Anisha na Koos se plaas gegaan. Hier is Anisha volgens die staat gedwing om die kontrak te teken voordat die twee vroue “brutaal aangerand en uiteindelik vermoor is”.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Die staat voer aan albei vroue is ook meer as een keer deur die Mosambiekse broers verkrag.

“Die liggame van die twee oorledenes is aan die brand gesteek. Gedurende die aanranding is die twee oorledenes se bankkaarte met geweld by hulle afgeneem. Die twee oorledenes het ook hul PIN-nommers aan die beskuldiges gegee. Die voertuig van die twee oorledenes is voorts deur die beskuldigdes geneem en aan die brand gesteek,” lui die akte.

Volgens die staat het van die beskuldigdes geld uit die vroue se bankrekeninge getrek en dit gebruik om goedere mee te koop.

Tydens die ondersoek is ʼn vuurwapen in Koos se huis gevind en Koos het glo nog ʼn vuurwapen aan iemand anders gegee om dit vir hom te hou. Volgens die staat sal hy bewys dat al die beskuldigdes in verskillende stadiums in besit van hierdie twee vuurwapens was.

Die staat het ook bevestig dat Anisha se oorskot gevind is, maar die oorsaak van haar dood kon nie vasgestel word nie. Joey se oorskot is nooit gevind nie.

ʼn Lys van 36 getuies is by die akte van beskuldiging aangeheg.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

Anoniem ek stem saam met jou, wil hom nie in dag raakloop nie, wat nog te in die nag.

LHS ·

Iets maak nie sin rondom die oorskot wat nog nie gekry is nie. Iets hieromtrent mag dalk die sleutel inhou van n ander donker scenario. Die polisie sal moet aanhou krap tot daardie deel ook openbaar is. Ja nee kyk die tronklewe vat maar aan ou Koos so op die oog af. Hy sal regtig eintlik net goed lyk in n Amerikaanse elektriese stoel, eers net saggies sodat hy al die gebeure mooi kan vertel, ook die gebeure rondom die ander moordsaak waarby hy ook skynbaar betrokke was en dan al die ander booshede wat nog nie uitgevind is nie . Glo my teen daardie tyd sal hy sommer begin bieg vir wat hy in die toekoms ook sou doen. Daarna kan hy gaan was en skoon aantrek.

Stuiwertjie ·

Jammer, my kommentaar was eintlik vir die Clicks voorval bedoel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.