Mooinooi-saak: Aanklagte teen 3 beskuldigdes teruggetrek

Koos Strydom en een van die Mosambiekse broers tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media

Drie van die agt mense wat aangekla is van die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi in Noordwes, kon vandag vry uit die Brits-landdroshof stap nadat al die aanklagte teen hulle teruggetrek is.

Christine Molautsi, die staatsaanklaer, het die hof ingelig dat die aanklagte teen Maroeca Opperman, Moses Rakubu en Vincent Strydom teruggetrek is. Vincent se pa, Koos Strydom (52), sal egter steeds in die saak aangekla word.

Saam met Koos in die beskuldigdebank is Alex Modau (36), Mercia Strydom (22), Koos se vrou, en twee broers van Mosambiek, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud. Dié twee broers se name kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien hulle ook van verkragting aangekla word.

Al vyf beskuldigdes word aangekla van twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering, drie aanklagte van diefstal en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Twee aanklagte van verkragting is ook teen die twee Mosambiekse broers aanhangig gemaak. Hulle moet dus eers op die aanklag pleit voordat hul name bekend gemaak kan word.

In die akte van beskuldiging voer die staat aan dat Koos die baasbrein agter die Van Niekerk-egpaar se moord was. Volgens die staat het Koos ʼn winkel op Joey en Anisha se kleinhoewe gehuur. Hy wou die kleinhoewe by die vrouens koop en het ʼn koopkontrak laat optrek.

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige hofverskyning voordat die aanklagte teen drie van hulle teruggetrek is. Foto: Maroela Media

Die staat voer aan Koos het besluit dat Anisha gedwing moes word om die koopkontrak te teken. “Die beskuldigde se voorneme was dat beide van die oorledenes vermoor sal word nadat die kontrak geteken is. Die beskuldigde het die ander beskuldigdes vir hierdie doel genader om hom te help,” lui die akte.

Op 10 Desember verlede jaar het Joey en Anisha na Koos se plaas gegaan. Hier is Anisha volgens die staat gedwing om die kontrak te teken voordat die twee vroue “brutaal aangerand en uiteindelik vermoor is”.

Die staat voer aan albei vroue is ook meer as een keer deur die Mosambiekse broers verkrag.

“Die liggame van die twee oorledenes is aan die brand gesteek. Gedurende die aanranding is die twee oorledenes se bankkaarte met geweld by hulle afgeneem. Die twee oorledenes het ook hul PIN-nommers aan die beskuldiges gegee. Die voertuig van die twee oorledenes is voorts deur die beskuldigdes geneem en aan die brand gesteek,” lui die akte.

Volgens die staat het van die beskuldigdes geld uit die vroue se bankrekeninge getrek en dit gebruik om goedere mee te koop.

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige hofverskyning voordat die aanklagte teen drie van hulle teruggetrek is. Foto: Phillip Bruwer

Tydens die ondersoek is ʼn vuurwapen in Koos se huis gevind en Koos het glo nog ʼn vuurwapen aan iemand anders gegee om dit vir hom te hou. Volgens die staat sal hy bewys dat al die beskuldigdes in verskillende stadiums in besit van hierdie twee vuurwapens was.

Die staat het ook bevestig dat Anisha se oorskot gevind is, maar die oorsaak van haar dood kon nie vasgestel word nie. Joey se oorskot is nooit gevind nie.

ʼn Lys van 36 getuies is by die akte van beskuldiging aangeheg.

Die saak is na later vandeesmaand uitgestel. Al die beskuldigdes sal in aanhouding bly, behalwe Mercia, wat vroeër op borgtog vrygelaat is.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Belaglik ·

En so word die kriminele, ongestraf, terug gesirkuleer in die samelewing. Net om binnekort weer inhegtenis geneem te word wanneer hulle verder gaan moor en onnodig nog onskuldige mense se lewens verwoes het.

Hoe Nou ·

Kon Vrydag vry uit die hof stap? Is dit nou verlede vrydag of more?

Mariné Lourens ·

Dagsê

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

LHS ·

Een oorskot gevind, nou waar sou die tweede dan wees, waarom nog nooit gevind nie. Ek kry skielik die gevoel dat die staat se saak besig is om uitmekaar te val. Wat se bewyse is daar dat die vroue verkrag is as die oorsaak van dood nie eers bepaal kon word nie. Waarom het die vroue na vuilbaard se lappie grond gegaan op daardie dag as hulle dan nou oppad Pretoria toe moes wees vir n begrafnis. Die groot vraag is, waar is die ander vrou?

Abe ·

LHS,
Wie is “vuilbaard”? Ek verstaan nie jou skryfwyse nie.

LHS ·

Waar is die bewys dat albei aan die brand gesteek is, dan sou albei se beendere tog bymekaar gewees het.

Abe ·

LHS,
Bewyse vir dit wat in die akte gestel word moet nog tydens die hofsaak bewys word. Die akte is wat die staat aanvoer wat gebeur het, daar hoef nie nou bewyse voor te wees nie.

jaco ·

In die denkpatroon van ons anti-wit polities-korrekte regstelsel word die volgende seker gedink: “Die 2 slagoffers was wit, so dis nie so erg nie. Hulle het mos ook in elk geval ‘n plaas besit. Hulle dood maak onteiening sonder vergoeding net soveel makliker”.

Landi ·

Nee, Jaco. Dis jy wat so dink en met jou vuil stewels deur ander mense se gedagtes stap. As mense minder fantaseer oor wat anders moontlik dink, sal ons ver kan kom in hierdie land.

Abe ·

Jaco,
Nee, ek dink nie enigiemand dink soos jy jou voorstel nie en ek dink ook nie ons regstelsel kan getipeer word as ” anti wit polities korrek ” nie. Lees ook wat Landi se. Hoe op aarde jy by grondonteiening sonder vergoeding uitkom weet nugter alleen.

E.K. die eerste ·

Hoekom word net die een man se gesig uitge”blur” op die foto’s?

honourable member ·

Hierdie is een van daai sake wat nooit opgelos gaan word nie en so gaan almal wegkom met alles.

wonder ·

Vincent was by toe die kar aan die brand gesteek is en Maruchca was saam toe Anisha se oorskot weggegooi was. Die deler is net so goed soos die steler. Gaan soek Joey se oorskot op die Barnardsvlei pad naby die bruggie.Uit die mond van n suigeling…

Gesiggie ·

E.K die eerste… wil dieselfde vraag vra? hoekom word sy gesig nie gewys?? ja ek stem hierdie saak gaan nog lank vat? wanneer gaan die Familie ooit berusting kry…

LHS ·

Waarom sou beide oorskotte nie op dieselfde plek weggegooi wees nie, Was hulle dan nie saam vermoor en verbrand nie? Iets klink net baie onlogies hier. Waarom is daar so ontsettend baie teenstrydighede met die media se aanvanlike berriggewing en dit wat nou voorgehou word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.