Mooinooi-saak: Beskuldigdes hoor oor borgtog

Die beskuldigdes in die Brits-landdroshof (26 April 2018). Foto: Landi Slatter

Daar is Donderdag in die Brits-landdroshof in Noordwes uitspraak gelewer in die onderskeie borgtogaansoeke van die agt verdagtes wat verdink word van die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi.

Landdros Semakuleng Thamage het borgtog aan drie van die beskuldigdes toegestaan, terwyl die ander vyf beskuldigdes se borgtog geweier is.

Christine Molautsi, die staatsaanklaer, het by die aanvang van die dag se hofverrigtinge gesê die uitslae van die DNS-toetse wat gedoen is op beendere wat weke ná die Van Niekerk-egpaar se verdwyning gevind is, is ontvang.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het later buite die hof bevestig dat die DNS-uitslae ontvang is, maar het gesê hy kan nie in dié stadium bekendmaak aan wie die beendere behoort nie. “Ons is steeds besig met ons ondersoek,” het hy gesê.

Die beskuldigdes in die Brits-landdroshof (26 April 2018). Foto: Landi Slatter

Die beweerde “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, Mosambiekse broers van onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, en twee ander mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Die borgtogaansoeke, wat sedert 18 Januarie sporadies voorgekom het, is as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moes bewys dit is in die belang van geregtigheid en dat daar buitengewone omstandighede bestaan hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.

Oor beskuldigde no. 1 (die 25-jarige Mosambiekse man) het Thamage gesê hoewel die beskuldigde drie minderjarige kinders het en sy meisie swanger is, kan dit nie as buitengewone omstandighede geag word nie. Die beskuldigde het vroeër aangedui dat hy tydens die verhoor onskuldig gaan pleit en dat hy nie die identiteite van die staatsgetuies ken nie, maar Thamage het gesê dit is nie in belang van geregtigheid dat hy op borgtog vrygelaat word nie. Sy borgtogaansoek is geweier.

Oor beskuldigde no. 2 (die sogenaamde baasbrein), het Thamage getuienis wat tydens die hofverrigtinge gelewer is herhaal, onder meer dat die man R40 000 per maand verdien deur motors te koop en te verkoop en dat hy beweer dat hy drie eiendomme besit wat nog nie op sy naam geregistreer is nie omdat “die prokureurs nog besig is met die oordrag”. Die staat het egter volgehou dat al drie dié eiendomme volgens munisipale rekords in ʼn Paul van Niekerk se naam geregistreer is.

Die beskuldigdes in die Brits-landdroshof (26 April 2018). Foto: Landi Slatter

Hoewel die verdagte onderneem het dat hy nie “probleme sal veroorsaak” indien hy op borgtog vrygelaat word nie en dat hy aan ʼn chroniese siekte ly, is sy borgtog ook geweier.

Beskuldigde no. 3 (die 18-jarige Mosambiekse man en broer van beskuldigde no. 1) het aangedui hy is wel ʼn Suid-Afrikaanse burger en dat hy nie weet wat met sy geboortesertifikaat gebeur het nie aangesien hy sy ma gevra het om sy sertifikaat vir hom te bring.

Hy was volgens die staat een van die beskuldigdes wat die slagoffers losgemaak het van waar hulle gehang het, hulle verkrag het en weer gehang het.

Sy borgtogaansoek is ook geweier.

Beskuldigde no. 4 (die 36-jarige man) se borgtogaansoek is ook geweier aangesien ʼn vorige oortreding van huisbraak teen hom aanhangig gemaak is. Hy het tydens sy borgtogaansoek aangedui dat hy onskuldig gaan pleit tydens die verhoor, dat hy die pa van twee kinders is en dat hy aan MIV ly en nie die nodige behandeling in die tronk hiervoor sal ontvang nie. Die redes het egter nie Thamage oorreed om borgtog aan hom toe te staan nie.

Beskuldigde no. 5 (die 33-jarige man) is nie getroud nie, maar is die biologiese pa van vyf kinders. Hoewel hy geen vorige oortredings teen hom het nie en ook van voorneme is om tydens die verhoor onskuldig te pleit, het sy borgtogaansoek ook misluk.

Beskuldigde no. 6 (die “baasbrein” se seun), het die oorledenes geken, maar het beweer dat hy geensins betrokke was by die misdaad nie. Thamage het borgtog van R10 000 aan hom toegestaan. Beskuldigde no. 6 se vriendin (die 18-jarige meisie), is ook op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Foto: Landi Slatter

Die twee beskuldigdes het hand om die lyf in die beskuldigdebank gestaan.

Die agtste beskuldigde (die 21-jarige vrou van die vermeende baasbrein) is borgtog van R20 000 toegestaan. Sy het in haar nagklere in die hof verskyn.

Die borgtog aan die drie beskuldigdes is toegestaan op voorwaarde dat hulle Maandae en Vrydae tussen 06:00 en 18:00 by die Rustenburg-polisiestasie moet aanmeld, dat hulle nie Brits en/of Rustenburg mag verlaat sonder die ondersoekbeampte se toestemming nie en dat hul nie plot 171, Buffelsfontein, waar die misdrywe na bewering gepleeg is, mag besoek nie.

Die hof het ook gehoor een van die staatsgetuies in dié saak is in ʼn getuiebeskermingsprogram geplaas.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha, wat drie jaar getroud was, is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Die DNS-uitslae word terug gehou om op een of ander manier òf verdoemende getuienis te lewer of om gapings toe te stop. Die manier waarop dit hanteer word is steeds ‘n raaisel.

Koos ·

As die staat reeds DNS-uitslae het watter voordeel kan hulle trek deur dit nie te noem nie? Hulle moet dit mos bekend aan die beskuldigdes voor die verhoor begin, nie waar nie?

leser ·

hoe kan borgtog toegestaan word aan medepligtiges van moord, verkragting, ens, en dit vir r10 000 en r20 000, landdros jy het ‘n groot oordeelsfout gemaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.