Mooinooi-saak: Hof hoor oor suur, WhatsApp en briewe

Van links is beskuldigde 1 tot 8 in die Brits-landdroshof (1 Maart 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die ondersoekbeampte in die veelbesproke Mooinooi-saak het Maandag in die Brits-landdroshof verder getuig oor die rolle wat agt verdagtes na bewering in die verdwyning en moontlike moord op Anisha en Joey Van Niekerk gespeel het.

Kol. Isaac Tlhapi, ondersoekbeampte in dié saak, is die staat se tweede getuie wat geroep is om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan. Dit was sy derde dag in die getuiebank.

Die 52-jarige beweerde “baasbrein” agter die misdaad, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers en twee ander mans, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Tlhapi het voorheen getuig die 52-jarige man het die hele komplot beplan en die medebeskuldigdes het elkeen ʼn rol in Anisha en Joey se verdwyning gespeel.

Tlhapi het getuig die vermeende baasbrein se seun se meisie was saam met haar kêrel en van die ander beskuldigdes toe die menslike oorskot van die plaas verwyder is en in die veld van ontslae geraak is.

“Volgens ʼn getuie wat op dieselfde plaas as van die beskuldigdes gebly het, is sy die dag nadat die slagoffers wreed verkrag, vermoor en aan die brand gesteek is, deur beskuldigde 2 [die ‘baasbrein’] opdrag gegee om die toneel op te ruim waar die liggame verbrand is.”

Die getuie het glo dié dag die menslike oorskot gesien en die “baasbrein”, by wie hy blyplek gehuur en ook voorheen gewerk het, in kennis gestel.

Tlhapi het voorts getuig dat die meisie en haar kêrel moontlik met getuies en bewyse kan inmeng indien hulle op borgtog vrygelaat word.

Die beskuldigdes in die hof (30 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media

“Ons het tydens ons soektog in hul aanhoudingselle op ʼn selfoon van die paartjie afgekom. Dit was in beskuldigde 7 [die 18-jarige meisie] se besit. Volgens die polisie se intelligensie-eenheid het sy na bewering ʼn oproep van die foon af gemaak en met iemand gereël dat ringe, horlosies en ander goed wat aan die oorledenes behoort, verwyder moet word.”

Tlhapi het gesê daar is glo ʼn WhatsApp-boodskap op die foon gevind waarin die “baasbrein” se seun glo ʼn boodskap aan ʼn vriend gestuur het. “My pa het iemand vermoor en ons het ʼn ernstige probleem,” het die boodskap glo gelees.

Die “baasbrein” se vrou se beweerde rol is daarna uitgelig. “Die ‘baasbrein’ het uit geldgierigheid die slagoffers oortuig om die kleinhoewe, vanwaar hy sy duikklopperonderneming bedryf, aan hom te verkoop. Beskuldigde 2 [die ‘baasbrein’] het ʼn koopkontrak deur ʼn prokureur laat opstel. Die polisie is in besit van die kontrak as bewysstuk,” het hy gesê

“Beskuldigde 8 [die ‘baasbrein’ se vrou] het die koopkontrak aan die slagoffers oorhandig. Die slagoffers is met ʼn vuurwapen gedreig om die kontrak te onderteken. Beskuldigde 8 het volgens ooggetuies gesien hoe die slagoffers verkrag is. Sy is die een wat suur gaan koop het om oor die oorledenes se liggame te gooi.”

Die hof het daarna gehoor dat Tlhapi in besit is van afskrifte van vyf briewe wat die “baasbrein”,  terwyl hy in aanhouding was, vermoedelik na sy vrou laat uitsmokkel het.

“Die briewe is tydens ʼn soektog in sy sel in die beskuldigde se besit gevind. Hy het die briewe begin met ‘Hi my skat’, ‘hi baby’, en in een van die briewe is sy broer se naam ook genoem,” het Tlhapi getuig.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het beswaar gemaak dat die inhoud van die briewe as bewysstukke ingelees word omdat hulle meen die egtheid en oorsprong van die briewe moet eers bewys word. Hulle het ook aangevoer dit is nie duidelik presies aan wie die briewe gerig is nie.

Landdros Semakuleng Thamage wou nie toelaat dat die inhoud van die briewe voorgelees word nie, aangesien dit te laat voorgehou is.

Die uitgebrande motor van Anisha en Joey van Niekerk. Foto: Verskaf

Tlhapi was van mening dat geen van die verdagtes borgtog moet kry nie, want vele van hulle het nie meer ʼn vaste werk of blyplek nie. “En as daar na die ernstigheid van die misdryf gekyk word, en die swaar vonnisse wat daarmee gepaard sal gaan sou hulle skuldig bevind word, kan hulle moontlik vlug en dalk hul verhoor ontduik.”

Hy het ook voorheen aangedui die beskuldigdes betrek mekaar nou in die saak en hulle kan mekaar vermoor, en moet dus in aanhouding bly vir hul eie veiligheid.

Thamage het die saak tot Dinsdag uitgestel wanneer Tlhapi kruisondervra sal word.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Justice ·

Dit lyk vir my meer asof die “baasbrein” eerder `n “siekbrein” het.

Alida ·

Liewe genade dit lyk of die hele spul van die duiwel besete is. Geen borg en ALMAL moet vir die res van hul lewens in die tronk bly. Hulle is nie rehabiliteerbaar nie. Siek almal van hulle.

Elvira ·

Ek stem saam. Niks minder as n lang aaklige lewe in die tronk en daarna n ewigheid in die hel nie.

Yankee ·

Hierdie is die mees gruwelikste misdaad uit Suid-Afrika waarvan ek ooit gehoor het!!##!

Wonder ·

Hoe hartseer is dit nie vir die twee vroue se familie nie, om hierdie wreed weereens te hoor nie.

vissie ·

Nog geen DNS uitslag? Belaglik! Wie slaap of wie doen nie sy werk nie?

Marianne ·

Ek hoop hierdie vieslike 8 gaan nooit weer uit die tronk gelaat word nie. Kry hulle parool sal hulle vlug. Die 8 is onmenslik en behoort permanent uit die samelewing verwyder te word. Ek wens ons land het die doodstraf gehad want hulle verdien dit werklik.

Mariaan ·

Ons lewe in ‘n baie siek wêreld. Ek kan myself nie indink deur watter hel daardie arme meisies moes gaan nie. Nie net het hulle reeds die trauma van die afsterwe van ‘n ouer beleef nie, maar moes boonop self ook die wreedste trauma ooit beleef. Hoe lank is dit reeds en steeds kan hulle familie nie uitsluitsel kry of hulle te ruste lê nie.

Landi ·

Sjoe dis skokkend om te weet sulke genadelose wrede mense lewe tussen ons. Maar ja die hof moet hulle eers skuldig bevind voor ons klippe gooi, maar ek voel ook dat hulle maar moet sit en glad nie borg kry nie, klink maar vir my dat hulle uit die samelewing moet verwyder word. Sjoe ek kry die familie van die 2 vroue jammer wat na al hierdie wrede getuienisse moet luister of aanhoor

fm ·

Hierdie is beslis een van die mees brutale en wrede moorde nog. Ongelooflik onmenslik en genadeloos. Hierdie mense moet nie loskom nie want hulle sal net weer moor.

VanAfrika ·

Die 8 het daardie twee meisies verniet vermoor want Julius kom nou daardie grond vat sonder vergoeding.

Magda maritz ·

Ek volg hierdie saak van die Van Niekerks van dag een af. Daar is nie woorde om die brutaliteit te beskryf nie. Die trauma waardeur die familie gaan moet afgryslik wees. Ek is in Sjina en speechless ek het ook op n tyd daar gebly en het nog vriende daar. Gaan die soort misdaad ooit tot n einde kom? Ek voel vir die familie

RH ·

daar is genoeg maar wat my kop maak draai is dat Siam-Lee se ligaam, wat verbrand is, na n week deur weefseltoetse positief ge-identifiseerd. Hoe kan dit na amper 3 maande nog nie getoets wees nie? Is dit privaat gedoen en betaal teensoor die vroue wat seker maar staat gedoen word? Iets is van die begin nie lekker en nik klop nie. Name is lankal genoem & weer “terug gehou” weens verkragting, ASOF verkragting erger is as die moorde??? Die familie soek net antwoorde & hoekom word die klomp almal beskerm??? 2 vrouens is dood!!! Gee tog net die familie berusting en gaan aan met die saak! Daar le nog 2 begrafnisse voor vir hulle en dit word net langer uit gerek om berusting te kry en gee.

LB S ·

Ag nee, Vinkels, het jy die artikel mooi gelees? Bewyse op hul selfone, die getekende kontrak….

joan ·

Dit is so onnodig. Ek het aanvanklik jammer gevoel vir die 21 jarige vrou en gedink sy is onskuldig ingesleep by die gemors. Nou blyk dit anders te wees. Hoe staan jy en kyk dat 2 mense vekrag en gemartel word? Dit is onmenslik verby en skokkend.

Susan ·

Ek dink tronkstraf vir enige misdadiger is dalk beter…. Dit hou aan en aan en aan. Daar huil mense krokodiltrane oor die misdaad wat hulle gepleeg het as hulle met die tronklewe gekonfronteer word. Piekniek is dit nie.

Elvira ·

Hoe meer ek hieroor lees hoe hartseerder word ek. Joey en Anisha moes erg gely het. Ek kan my nie voorstel wat hulle deurgemaak het nie. Hierdie mense moet nooit ooit borg kry of vrygelaat word nie.

apie ·

Hoe meer mens te wete kom oor die saak, hoe slegter voel mens. Dit maak ‘n mens siek om jou dit in te dink. As die slagoffers my familie was sou ek die DNA toetse privaat laat doen. Innige simpatie aan hulle. Ek weet nie hoe herstel mens van so iets nie. Daar is nie woorde nie

Andre ·

Kol. Thlapi en sy span ondersoekers van Mooinooi SAPS verdien elk ‘n goue medalje met hul ondersoek van hierdie aangeleentheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.