Mooinooi-saak: ‘Meesterbrein’ glo ook by ander moord betrek

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die laaste beskuldigde wat verdink word van die verdwyning en moontlike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, het Dinsdag sy borgtogaansoek in die Brits-landdroshof afgehandel.

Ses mans en twee vroue, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Al die beskuldigdes het tydens hul borgtogaansoeke aangedui hulle gaan onskuldig pleit op al die aanklagte teen hulle. Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit. Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Staatsaanklaer Christine Molautsi het die staat se eerste getuie, ao. Jannie van der Walt, verbonde aan die Rustenburg-polisie, geroep om te getuig om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan.

Van der Walt het getuig hy ondersoek ʼn saak van sakeroof en moord teen beskuldigde no. 1, ʼn werker van die beweerde 52-jarige baasbrein, asook die “meesterbrein” [beskuldigde no. 2] self. Hy het ook genoem dat een van die beskuldigdes [beskuldigde no. 5] ʼn getuie in sy ondersoek is.

Dié twee beskuldigdes se regsverteenwoordigers, die broers Ofentse en Pontsho Raikane, het beswaar gemaak dat die polisiebeampte geroep is om te getuig aangesien die beampte nie direk by die ondersoek na Anisha en Joey se verdwyning betrokke is nie. Hulle het aangevoer sy getuienis is irrelevant tot dié betrokke borgtogaansoek en hulle het ook nie agtergrond oor die ondersoek nie, wat tot nadeel van hul kliënte kan wees.

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Molautsi het gesê dit is belangrik dat die beampte getuig om te wys dat die publiek in gevaar kan wees sou die beskuldigdes borgtog kry en ook om die moontlike ooreenkomste tussen die beampte se ondersoek en Anisha en Joey se saak uit te wys.

Landdros Semakuleng Thamage het beslis dat die beampte se getuienis toegelaat word.

Van der Walt het getuig die twee beskuldigdes word verdink van ʼn voorval wat op 24 Junie 2014 op ʼn kleinhoewe buite Rustenburg plaasgevind het. Die “meesterbrein” se werker het glo die slagoffer, Mandie Jansen van Rensburg, op dié dag in haar werkswinkel op die kleinhoewe beroof en doodgeskiet. Beskuldigde no. 5 het glo gesien hoe die werker weghardloop.

“Beskuldigde no. 2 het die slagoffer se plot gekoop. As gevolg van die koop van die plot moes hulle ʼn polis in hul name uitneem. Die polisse is in beskuldigde no. 2 se naam uitgeneem. Net twee maande nadat die polis uitgeneem is, is die oorledene by haar winkel beroof en ook na bewering deur beskuldigde no. 1 doodgeskiet. Die polis van R1,8 miljoen is aan beskuldigde no. 2 uitbetaal.”

Jansen van Rensburg is vermoor nog voor sy die koopkontrak van die kleinhoewe kon onderteken en die eiendom is dus nooit op beskuldigde no. 2 se naam geplaas nie.

Die skeepsvraghouer waar Joey en Anisha van Niekerk glo ure aaneen gemartel en verkrag is. Foto: Mia Spies / eNuus

Van der Walt het gesê daar was destyds nie genoeg bewyse om enigiemand vir die moord te vervolg nie. Die dossier is na die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gestuur om op rekord te bly.

“Op 26 Januarie 2017 het ʼn getuie na ons toe gekom en ons inligting gegee oor die verdagte [beskuldigde no. 1] wat ons soek. Hy is die dag daarna om 02:15 op die plaas van beskuldigde no. 2 in hegtenis geneem,” het Van der Walt getuig.

Beskuldigde no. 1 het daarna in die hof verskyn en is borgtog in die Rustenburg-landdroshof toegestaan. Die moordsaak is destyds tydelik van die hofrol geskrap aangesien daar nie genoeg bewyse was nie.

“Die DOV het my gevra om nog ʼn getuie te soek. Ek het die getuie in die Vrystaat opgespoor. Die getuie het daar gaan wegkruip aangesien sy glo gedreig is. Sy het aan my gesê beskuldigde no. 2 het haar gedreig,” het Van der Walt gesê.

Van der Walt het getuig toe inligting van Anisha en Joey se verdwyning aan die lig gekom het, het hy opdrag van die DOV gekry om die werknemer weer in verband met die Rustenburg-saak aan te keer. Die beskuldigde moet op 3 Maart vanjaar weer in verband met dié saak in die hof verskyn. Die “meesterbrein” is nooit amptelik in hegtenis geneem in dié verband nie, aangesien die polisie nog vir bewyse gewag het voordat hy in verband met Anisha en Joey se verdwyning in hegtenis geneem is.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

“Dink u die publiek se veiligheid gaan in gedrang wees as beskuldigdes borgtog kry,” het Molautsi gevra.

“My eerlike opinie is, as ek in hulle [die beskuldigdes] se skoene was, sou ek nie teruggekom het hof toe as ek borgtog gekry het nie. En soos die getuie gesê het, sy is gedreig so hulle kan ʼn gevaar vir die publiek inhou,” het Van der Walt geantwoord.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Showahed ·

Het Jannie van der Walt na Roux verander of mis ek iets?

Justice ·

Staan aan almal voorwaardelike borg toe en sluit hulle dan dadelik in daardie skeepvraghouer op Mooinooi toe. Die sleutel kan dan maar weggegooi word.

Alida 2 ·

Stink storie die. Dit kring al weier uit.
Die borg aansoeke verwar my. Nou word daar die vraag gevra of die publiek se veiligheid in gedrang sal wees indien borg toegestaan word.
In hoeveel gevalle word borg aan moordenaars en verkragters toegestaan? Male sonder tal.
Baie van die mense pleeg weer ‘n misdaad voor hulle verhoor word.
Borg word in baie gevalle toegestaan met slegte gevolge.
Doen ondersoeke gouer en handel sake af.

Sue ·

Goeie ding ek is nie in daardie hof (of enige ander hof) “for that matter” nie want iemand moet my so n ongeletterde vraag vra ” dink ek hulle hou gevaar in vir die publiek” dan sal ek nou waaragtig myself in die tronk kry met n enkele antwoord. Ek glo dis seker maar formaliteid om so n sinnelose vraag te vra na al die klagtes. Ek kan nie glo hoe boos sommige mense is nie; nou maak dit tenminste sin waar die mense soveel geld vandaan kry.

Hans ·

Aan jou dade sal jy geken word, Hierdie hele klomp is ‘n bedreiging vir ons samelewing.

Charlotta ·

Weet julle, ek glo die twee vroue is dood. So die gereg moet asb wakker skrik, hulle werk doen, dan kan die familie vrede kry. My innige simpatie met die familie.

Pop ·

Die eerste keer wat ek gruwelike saak omder oe gekry het, toe se ek vir my man. Die man het dit al voorheen gedoen. Iemand wat so wreedaardig kan optree het dit al gedoen. Mens word nie net wakker een oggend en dan pleeg jy die dade nie. Vuilgoed moet almal dieselfde behandeling kry. Maar helaas, so gaan hulle nou vakansie hou op ons belasting geld.

Yankee ·

Die “meesterbrein” se naam was al verskeie male genoem. Lees jy nie?

Andre ·

Die toets is nie so moeilik nie. Roux werk aan die Mev Mei se 2014 moord saak wat toe nie opgelos was nie en AO Jannie van der Walt aan die Mooinooi moorde.

Wonder ·

Hoe hartseer is dit nie, om vermoor te word vir wêreldsgoed nie.
Hoop hulle bly in aanhouding. Nou wonder ek net, hoe voel ‘n prokureur om ‘n moordenaar te verdedig? Veral as die moordenaar skuldig is en los kom met net ‘n nee op ‘n vraag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.