Mooinooi-skietery: Nóg ʼn beloning om vermiste man op te spoor

ʼn Beloning word deur ondersteuners van Benson en nou ook die polisie aangebied aan enigiemand wat Tebogo Ndlovu kan opspoor. Foto: Verskaf

Die Noordwes-polisie het ʼn R100 000-beloning uitgeloof in ʼn poging om Tebogo Ndlovu (24) op te spoor wat sedert Augustus vermis is nadat hy glo op ʼn plaas buite Mooinooi in Noordwes geskiet is.

Matthew (Bennie) Benson (24), wat aangekla word van die beweerde moord op Ndlovu en poging tot moord op sy twee vriende, is steeds in aanhouding nadat sy borgtogaansoek op 29 September in die Brits-landdroshof van die hand gewys is.

Ndlovu, van Majakaneng, en sy vriende is glo op 2 Augustus na Benson se plaas naby Mooinooi om lemoene en skrootmetaal te steel, toe Benson hulle opgemerk en op hulle geskiet het om hulle te verjaag. Ndlovu is glo tydens die voorval in die been geskiet. Sy vriende het hom opgetel en probeer weghardloop, maar hom glo agtergelaat aangesien hy te swaar was.

Hulle beweer hulle het hom onder ʼn boom gelos en na ʼn berg gehardloop. Toe hulle terugkyk, het hulle Benson en ʼn groep mense glo gesien waar hulle Ndlovu gelos het. Ndlovu het daarna vermis geraak. Bloed is glo op die toneel gevind, maar sy liggaam is nog nie opgespoor nie. Sy familie het hom op 4 Augustus as vermis aangemeld.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het Sondag inligting oor die beloning bevestig. “Enigiemand met inligting wat kan help om Ndlovu op te spoor, word versoek om lt.kol. Isaac Tlhapi by 082 416 0767 te bel.”

Benson moet Dinsdag weer in die Brits-landdroshof verskyn vir die voorverhoorverrigtinge.

Maroela Media het vroeër berig Benson se vriende, verloofde, Scharlene Oosthuizen (21), en haar ma, Marianna Audrey, is oortuig Ndlovu lewe nog en het sedert Benson se inhegtenisneming op 16 September geld ingesamel om ʼn beloning aan te bied aan enigiemand wat Ndlovu opspoor.

Marianna het vroeër gesê hulle het geen twyfel dat Benson onskuldig is nie.

“Ek het aanvanklik ʼn R10 000-beloning aangebied en die nuus wyd bekend gemaak. Een van sy vriende het my daarna geskakel en gesê hulle wil geld bydra. Teen Oktober het ons R51 000 gehad wat ons uitloof,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle het die beloning op Facebook en in die plaaslike koerante geadverteer. Plakkate is ook by verskeie winkels opgeplak en daar is vroeër honderde pamflette in die omliggende nedersettings versprei.

“Ons het al baie goeie leidrade gekry, maar dit was altyd te laat. Daar is selfs iemand wat ons geskakel het om te sê dat Ndlovu glo in Pretoria by sy meisie gesien is. ʼn Vrou beweer ook sy het die dag van die voorval gesien hoe paramedici ʼn man met ʼn wond aan sy been langs die pad behandel het, maar niemand weet wie die paramedici was nie.”

Matthew Benson. Foto: Molaole Montsho / ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

SjN ·

Benson word aangehou sedert 16 September, hoekom nie borg nie, geen bewys, geen saak. Daar sal mos bloed onder die boom wees as hy in die been gewond is. Sy makkers loop vry rond, hul behoort mos te weet waar hul tjom is.

Kiepie ·

Verstaan ek reg, die polisie reik ‘n beloning uit om ‘n slagoffer van ‘n moordsaak op te spoor? Kan ek dan aflei dat die polisie ook dink die slagoffer leef nog en indien wel, waarom dan ‘n aanklag van moord?
My tweede vraag: Wat is die gemiddelde beloning wat die polisie uitreik om aanvallers/verdagtes by plaasaanvalle te identifiseer? Toemaar, ek ken die antwoord.

Bennie ·

Nie vermis kruip weg verhoog die beloning na 200 000 vra vir borge van Afrikaner instansies

snoefie ·

voordat die sapd belastingbetalers se geld wil rondgooi, onderwerp sy huilende, treurende familie en sy medepligtiges aan n leuenverklikkertoets.

Cherokee ·

korreksie gesê Snoefie maar ek dink nie die resultate van ‘n leuenverklikkertoets word as bewys beskou in ‘n hofsaak nie.

anton ·

n leuenverklikker toets word dalk nie in ons hof aanvaar nie, vir watter rede kan mens nie verstaan nie, maar tenminste sal dit n aanduiding wees of hulle waarheid praat of nie!!!
Dit is bykans 0.001 persent dat iemand die toets ore kan aansit. Dit is baie akkuraat.

Pieter ·

Steeds in aanhouding op ń klag van moord:
Geen liggaam, geen wapen, sonder borg?
Die polisie moet solank hulle nuwe DIK tjekboeke gaan kry vir die siviele eis wat kom.

Griki ·

Waarom loof die polisie ‘n beloning van R100 000.00 uit om iemand op te spoor wat waarskynlik nie eens geskiet is nie, maar ek sien nooit dat die polisie enigiets uitloof om plaasmoordenaars op te spoor nie?

Tanya Kruger ·

MM, help my asseblief. Wat is ‘n aanstaande verloofde?

Dalene de Vente ·

Dagsê Tanya

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Me ·

Almal lees die artikel net halfpad. Dis sy aanstaande se ma wat die beloning aanbied, nie die polisie nie :-)
#sêmaarnet

Maar ek stem saam – die gronde waarop hy aangehou word is verregaande.
Geen wapen, geen liggaam, geen konkrete bewyse.
Ruil weer die situasie om….
Ag tog.

Debbie Al-Ali ·

Nee, gaan lees weer, die Noordwes Polisie het R100 000 beloning beloof.

Andrea ·

Sterkte meneer Benson. Sodra dit bewys word die knaap is springlewendig, lê jy n klag teen die polisie en alle betrokkenes by hierdie storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.