Mooinooi-vroue: 18-jarige vertel van ‘polisie se belofte’

Die beskuldigdes in die hof (30 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media

“Die polisie het my ondervra en net gesê ek moet ja sê.”

Só het ʼn 18-jarige vrou, die meisie van die seun van die beweerde baasbrein agter die verdwyning en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, Dinsdag tydens haar borgtogaansoek in die Brits-landdroshof getuig.

Die vrou en sewe medebeskuldigdes, onder wie haar 29-jarige kêrel, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel.

Pontsho Raikane, die vrou se regsverteenwoordiger, het haar deur haar getuienis voor die hof gelei. Sy het aangedui dat sy met die begin van die gehoor onskuldig op al die aanklagte teen haar sal pleit.

Die vrou het gesê sy is in 1999 in Rustenburg gebore. Sy het nie familie of belange in die buiteland nie en besit nie ʼn paspoort nie.

Sy het twee adresse as haar vaste blyplek bekendgemaak. Een is die kleinhoewe in Buffelsfontein waar sy al langer as twee jaar saam met drie van haar medebeskuldigdes woon. Dit is haar kêrel, dié se 52-jarige pa (die beweerde baasbrein) en die pa se 21-jarige vrou, wat ook ʼn beskuldigde is.

Die ander adres is ʼn kleinhoewe naby Rustenburg wat aan haar ouma behoort. Haar ma bly ook daar. Haar pa is oorlede.

“As ek en boyfriend probleme sou optel, sou ek gewoonlik na my ouma se huis toe gaan om daar by hulle te bly,” het sy getuig.

Sy het gesê sy het geen vorige veroordelings of hangende sake teen haar nie. Sy het gesê sy is werkloos en is van haar kêrel en sy pa afhanklik vir ʼn dak oor haar kop.

Die vrou het gesê sy het in die helfte van gr. 10 haar skoolloopbaan opgeskort en was van plan om vanjaar weer haar hoërskoolloopbaan voort te sit.

Volgens die polisie is die vrou en haar kêrel op 29 Desember op haar ouma se kleinhoewe in hegtenis geneem. Vyf dae later het die polisie gebrande beendere, wat hulle vermoed die oorskot van Anisha en Joey is, in ʼn beboste gebied naby die R104, nie ver van Mooinooi nie, gevind.

Raikane het die vrou gevra of die polisie aan haar verduidelik het hoekom sy in hegtenis geneem is.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

“Nee, my ma het hulle gevra, toe sê die polisie vir haar ek word vir ondervraging ingeneem,” het sy geantwoord. Sy is al sedert haar inhegtenisneming in aanhouding.

Die vrou het getuig die polisie het haar regte vir haar in Engels voorgelees, maar Afrikaans is haar huistaal en “hulle het groot woorde gebruik wat ek nie regtig verstaan het nie”.

Die vrou het gesê sy het ʼn verklaring aan die polisie gemaak. “Ek het Afrikaans gepraat en hulle het dit in Engels neergeskryf. Daarna het ek nie weer die verklaring gesien nie en is nie bewus van die inhoud daarvan nie. Ek het die polisie vertrou om te skryf wat ek gesê het.”

Sy het verder getuig die polisie het haar glo belowe om haar “uit die saak uit te haal” as sy net “ja” sê.

“Hulle het vir my klomp goed gesê en gesê ek moet net ja sê. Hulle het gesê dat die vroumense in die container verkrag is en hulle het gesê die kar is uitgebrand.”

Hofverrigtinge is tot Donderdag uitgestel voordat die ander vrou se kruisondervraging kon begin aangesien die 21-jarige vrou se regsverteenwoordiger, Lourens Pretorius, aangedui het hy is siek.

Landdros Semakaleng Thamage het daarna die saak tot Donderdag uitgestel wanneer die vrou kruisondervra sal word. Die 21-jarige vrou moet nog haar borgtogaansoek voor die hof bring, asook beskuldigde drie, wie se aansoek vroeër nie kon voortgaan nie aangesien sy regspan vir uitstaande dokumentasie van sy familie wag.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Dit het later aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oor te dra.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Paula ·

Hoop maar van harte dat die polisie hul werk deeglik gedoen het en nie onskuldige mense aan die pen wil laat ry net om die saak afgehandel te kry nie.

Cherokee ·

En ek betwyfel sterk of jý noodwendig reg is, Marius. Een-sin kommentare lees ek gewoonlik met wantroue. Omdat ons weet wat in hierdie land aangaan glo ek daai girl wat sê sy het haar verklaring in Afrikaans gedoen en dat dit natuurlik toe in Engels neergeskryf is. Naïef wat sy is het sy geglo hulle het geskryf wat sy gesê het en dit geteken.

Adam ·

Ek kan julle verseker dat nie die SAPD, die staatsaanklaer, prokureurs of enige ander beampte van die hof opdrag gegee het dat die dames vermoor moes word nie. Desondanks daardie logiese afleiding word daar aanmekaar verskonings gesoek vir ‘n klomp kriminele.

Cherokee ·

Adam, lees gerus die kommentaar van Veritas effens ondertoeèr. Uiters van pas.

Adam ·

Cherokee, ek het so 35 jaar ondervinding in die beroep. Ondervinding en kennis lei later tot so bietjie “wysheid”. Nogal interessant waarmee kliente vorendag kom.

HPV ·

Baie siek klomp mense wat so iets aan die twee vroue kon doen. Hou hulle agter tralies.

Baasbrein ·

52 jarige pa en sy 21 jarige vrou???????
“I rest my case your Honor”

semaarnet ·

Klink vir my ook die Polisie het gehoop iemand sal praat en toe nou nie!

Gesiggie ·

Ek wens net die polisie kan die saak oor en verby kry… dat die mosters wat die twee meisies se lewe gevat het.. kan sit in die tronk… en die familie van Anisha en Joey kan tot ruste kom en hul familie hul afskeid kan neem elke dag nuwe stories- meer getuie?? laat die waarheid uit”” hierdie familie het genoeg gehoor”’

Boeremeisie ·

Ja daar is altyd twee kante van ‘n storie: die waarheid en die liegstorie wat opgemaak word as die waarheid onaangename gevolge vir jou gaan hê.

SA ·

So kom die een verskoning na die ander verskoning om net hulle uit die tronk te laat kom…..Julle moes gedink het voor julle doen wat julle gedoen het… so sit maar lewenslank.

Veritas ·

Suid-Afrika is seker die land met die meeste waarsêers ter wêreld. Hoekom wil die polisie nog tyd mors deur die saak te ondersoek. Net tussen die kommentators hier, is die saak reeds opgelos en vonnisse is opgelê.

Pop ·

As hulle sien die verskonings gaan nie help nie gaan iemand begin sing soos n kanarie. Wag en hou diè spasie dop. Daai merrie se ma se self sy en die boyfriend het uit die bloute daar opgedaag. Om weg te kruip sou ek sê

June ·

Wel, iemand in die binnekring het vertel wat gebeur het, hoe anders weet die speurders dat hulle verkrag, gemartel en vermoor is, en dit sonder hulle liggame. Die enigste sigbare bewyse teen die spul is die meisies se selfone en bankkaarte wat in hulle besit gevind is.

wondere ·

ek het ook gewonder hoe polisie op die inligting af gekom het sonder die vrou se lyke?
ek wonder maar net of n mens enigsins enigeiets kan glo wat dioe klomp se , kom voor of hulle stories “like”
hopelik sal geregtigheid geskied.
dis vreeslik hartseer.

Cherokee ·

Sou nogal graag wou weet hoe jy bitter gebruik om slim te beskryf.

Theresa B ·

Ja ek hoop ook maar die polisie doen hulle werk deeglik want hierdie mense het darem stories en stories.

Mike Kaapstad ·

sjoe klink na n probleem kind , as die wereld warm raak dan trek sy , sonder skool opleiding……….(hulle gebruik groot woorde)..

Levis ·

Is die 18 jarige dan Bang om voor die “Baasbrein” te praat. Haar Moeder het in die huisgenoot gese dat haar dogter vir haar gese het dat haar oe nou oop is ens soos almal gelees het hoekom dan nog stil bly? As jy 18 jarige enige menslikheid binne jou het praat asb sodat geregtigheid kan seevier! Sy weet van baie dinge klink vir my dat sy te bang is! Ek glo en bid dat wie en watokal verantwoordelik is en was vir die 2 meisies SAL hulle straf kry. Vat julle pak soos n man

bb ·

In die geval sal ek se die deler is net so sleg soos die steler. Dit was haar besluit om betrokke te raak by die verkeerde mense. Laat almal van hulle die swaarste straf opgele word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.