Mooinooi-vroue: Agt verdagtes in hof

Die agt verdagtes verskyn in die Brits-landdroshof in verband met die verdwyning en vermoedelike moord op Anisha en Joey van Niekerk. Hul name word voorlopig weerhou totdat hulle gepleit het. Foto: Phillip Bruwer

Die borgtogaansoeke van die beskuldigdes wat verdink word van die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi is Maandag weereens in die Brits-landdroshof uitgestel.

Die uitstel kom nadat ʼn 21-jarige vrou Sondag in Rustenburg in hegtenis geneem is. Die vrou is in hegtenis geneem nadat die polisie vroeër ʼn soektog na haar van stapel gestuur het aangesien sy “inligting gehad het” wat die polisie in hul ondersoek kon bystaan.

Voor haar inhegtenisneming is altesaam sewe verdagtes op verskillende tye in Desember in hegtenis geneem nadat die Van Niekerk-egpaar op 10 Desember verlede jaar vermis geraak het. Persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in van die verdagtes se besit gevind toe hulle in hegtenis geneem is.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg.

Ses mans, ʼn 18-jarige vrou en die 21-jarige vrou se name word weerhou aangesien daar intussen ook ʼn klag van verkragting ondersoek word en die beskuldigdes dus eers in die hof moet pleit.

Die 21-jarige vrou het Maandag die eerste keer in die hof saam met die medebeskuldigdes verskyn. Hofverrigtinge het laat begin aangesien sy van Rustenburg af na Brits gebring moes word. Sy is in ʼn romantiese verhouding met die vermeende meesterbrein agter die saak.

Laurens Pretorius, die vrou se regsverteenwoordiger, het aan landdros Semakuleng Thamage gesê hy was onder die indruk sy kliënt sou net van dwarsboming van die gereg aangekla word en hy is eers Maandag ingelig dat sy teregstaan op al die aanklagte.

“Dit plaas my in ʼn moeilike posisie. Ek benodig behoorlike opdragte van my kliënt in verband met die ander aanklagte,” het hy gesê. Hy het ʼn uitstel versoek om volledige opdragte te kry.

Die Brits-landdroshof was volgepak waar agt verdagtes verskyn het in verband met die verdwyning en vermoedelike moord op Anisha en Joey van Niekerk (15 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Ofentse Raikane, beskuldigdes een en drie se regsverteenwoordiger, het aan Thamage gesê die modus operandi van die saak is om die beskuldigdes se borgtogaansoeke uit te stel elke keer dat daar ʼn nuwe verdagte in hegtenis geneem word.

“Die beskuldigdes se regte word geskend. Hulle kan nie bekostig om in aanhouding te bly nie. Geregtigheid wat vertraag word, is so goed soos om [die beskuldigdes se reg op] geregtigheid te ontsê. Ons is gereed om voort te gaan en versoek dat die uitstel nou finaal is,” het hy gesê.

Pontsho Raikane, vir beskuldigde twee, ses en sewe, asook Kgomotso Moagi, beskuldigde vier en vyf se regshulpprokureur, het Raikane se sienswyse beaam en bygevoeg hulle is ook gereed om voort te gaan.

Thamage het saamgestem dat die borgtogaansoek dringend is, maar bygevoeg gegrond op die geskiedenis van die saak is daar geen bewyse dat die staat opsetlik vertragings veroorsaak het nie. “Dit is waar dat geregtigheid wat vertraag word, so goed is om geregtigheid te ontsê. Tog moet die gereg ook nie aangejaag word nie. Daar moet ʼn balans wees.”

Thamage het finale uitstel in die saak toegestaan en gesê die borgtogaansoeke sal Donderdag en Vrydag aangehoor word. Die verdagtes bly tot dan in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Twee weke gelede is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oordra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Elvira bothma ·

Now word hulle rebate aangeraak. Liewe genade waste regte? Het daai twee vrouens wat so erg mishandel was nie regte gehad nie.EK wens ek was die regter in hierdie saak danhet ek hulle mooi gewys wat regte beteken.

Gesiggie ·

Die beskuldigdes se regte word geskend?hulle kan nie bekostig om in aanhouding te bly nie??gaan voort kry die saak verby… die Familie gaan deur HEL” hoeveel verdagtes wil jul nog opspoor”en die gereg moet nie aangejaag word… regtig man , ons praat van 2 dogters wat gemartel is…verkrag is en toe vermoor is.. GET IT OVER, LAAT HUL KRY WAT HUL VERDIEN.

Snip ·

Wil jy nou mee. Die beskuldigdes se regte word geskend. Hulle kan nie bekostig om in aanhouding te bly nie. Is dit hoe die wet werk???? Gross, ek kan nie glo wat ek lees nie.

WOES ·

RERIG?? Ek haal aan “die beskuldigdes se menseregte word geskend”!! Het hulle ooit vir een oomblik aan die vroue se “menseregte” gedink toe hulle die twee gemartel en doodgemaak het? Bring terug die doodstraf – dit is al wat sal help. GEEN tronkstraf nie, dis te maklik en buitendien, met goeie gedrag dien hulle dalk net 4 of 5 jaar uit, kom dan uit en kan dan weer voortgaan met hulle booshede!

Linda ·

Daar word gepraat van die beskuldiges se reg…….waar is geregtigheid vir Joey en Anisha ????

PJC ·

As hulle alles aan die twee slagoffers gedoen het wat tot dusver gerapporteer is verdien hulle nie om ooit weer die buitelug te sien nie.

SjN ·

Kan nie bekostig om in aanhouding te bly nie, wil jy nou meer, mag die ondersoek lank en deeglik gedoen word, hul moes gedink het voor die sinnelose optredes.

Boos ·

Bou Eers meer tronke, Stel n Polisie in working Wat werk, sif die kriminele uit ons samelewing dan Kan jul free education kom.
Ons samelewing is onopgevoed en die mens like eienskappe Wat jou n goeie, voorvarende mens Maak is nie meer daar nie.
Hoop die regter sluit hulle lewens lank op.

oogies ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie .Die 2 vroue is oppad na n geliefde se roudiens en kyk wat gebeur met hulle. Ek sidder as ek my indink hoe het hulle gesoebat en gepleit toe hulle mishandel en verkag is en die * wat dit gedoen het het seker lekker gelag daaroor en alles saam gedoen. Nou word daar verwys na REGTE!!!!! wat wan die 2 mense se agterblywende familie wat nou met nog grooter hartseer sit se regte. Is daar dan geen reg vir hulle of die 2 vroue nie.EK sal glo almal leef in vrees vir hulle lewens. Sluit hulle almal in 1 sel toe en gooi die sleutel weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.