Op dieselfde dag dat familie en vriende van Anisha van Niekerk (30), wat saam met haar vrou, Joey (32), verlede jaar in Mooinooi ontvoer en moontlik vermoor is, vir haar ʼn gedenkdiens gehou het, het die slagoffers se beweerde moordenaars in die Rustenburg-landdroshof verskyn in verband met nóg ʼn moord.
Dit volg nadat die sogenaamde “baasbrein” agter Anisha en Joey se verdwyning en sy 23-jarige werker Dinsdag in die Brits-landdroshof in hegtenis geneem is nadat hulle daar verskyn het vir hul voortslepende borgtogaansoek wat al op 18 Januarie begin het. Dié borgtogaansoek duur voort en is tot vroeg in April uitgestel.
Die “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, broers van onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, en twee ander mans staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.
Hul name word weerhou, aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.
Nadat die “baasbrein” en sy werker Dinsdag in hegtenis geneem is, is hulle na die aanhoudingselle van die Rustenburg-polisiestasie geneem. Hulle het Woensdag in die Rustenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en sakeroof. In dié saak word hulle daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om Mandie Jansen van Rensburg op 24 Junie 2014 op ʼn kleinhoewe, wat die “baasbrein” wou koop, buite Rustenburg te vermoor.
Sers. Ofentse Mokgadi, woordvoerder van die Rustenburg-polisie in Noordwes, het Woensdag aan Maroela Media gesê albei verdagtes het hul borgtogaansoeke in verband met dié saak laat vaar.
“Die saak is tot 29 Mei uitgestel vir verdere ondersoek en sodat die twee sake se dossiere gesentraliseer kan word. Hulle bly in aanhouding,” het Mokgadi gesê.
Intussen het talle geliefdes van Anisha om 09:00 ʼn gedenkdiens vir haar by die NG Moedergemeente Rustenburg gehou.
Volgens Wynand van Niekerk (34), Anisha se oudste broer en familiewoordvoerder, was die diens baie spesiaal en pragtig. Anisha laat Wynand en twee ander broers, Pieter (23) en Schalk (28), agter.
Wynand verduidelik dat Schalk soos reeds beplan saam met sy vrou na Australië gaan emigreer en dat hulle die gedenkdiens wou hou voor hy binnekort oorsee vertrek.
“Ons het besluit om dit nóú te doen sodat Schalk daar kon wees, selfs al het ons nog nie die DNS-uitslae nie. Die rede hoekom die gedenkdiens net vir Anisha was, is omdat Joey se familie verkies om nog te wag vir DNS-uitslae om uitsluitsel te kry voor hulle een vir haar gaan hou,” het Wynand gesê.
Volgens Wynand weet die familie glad nie hoe lank dit nog gaan duur voor die uitslae bekend gemaak word nie.
Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.