Mooinooi-vroue: ‘Baasbrein’ vas vir nóg ʼn moord

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die sogenaamde 52-jarige “baasbrein” agter die verdwyning en moontlike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, is amptelik aangekla van nóg ʼn moord. Dié moord is in 2014 op ʼn kleinhoewe buite Rustenburg gepleeg.

Sers. Ofentse Mokgadi, woordvoerder van die Rustenburg-polisie in Noordwes, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die “baasbrein” en sy 23-jarige werker is Dinsdag in die Brits-landdroshof in hegtenis geneem waar hulle dieselfde dag verskyn het tydens hul voortslepende borgtogaansoek wat al op 18 Januarie begin het.

Die “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, broers van onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, en twee ander mans staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

“Die twee verdagtes is in Brits in hegtenis geneem en na die aanhoudingselle van die Rustenburg-polisie geneem sodat hulle vandag [Woensdag] in die Rustenburg-landdroshof kan verskyn op aanklagte van moord en sakeroof,” het Mokgadi gesê.

Ao. Jannie van der Walt, die ondersoekbeampte van die Rustenburg-polisie wat vroeër deur die staat geroep is om te getuig om die verdagtes se borgtogaansoek teen te staan omdat hy meen dat hulle ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou, het self die inhegtenisneming uitgevoer.

Van links is beskuldigde 1 tot 8 in die Brits-landdroshof (1 Maart 2018). Foto: Phillip Bruwer

Van der Walt het vroeër getuig hy ondersoek ʼn saak van sakeroof en moord teen Beskuldigde 1 [die 23-jarige werker] en Beskuldigde 2 [die “baasbrein”]. Hy het ook genoem dat een van die beskuldigdes [Beskuldigde 5] ʼn getuie in sy ondersoek is.

Van der Walt het getuig die twee beskuldigdes word verdink van ʼn voorval wat op 24 Junie 2014 op ʼn kleinhoewe buite Rustenburg plaasgevind het. Die “baasbrein” se werker het glo die slagoffer, Mandie Jansen van Rensburg, op dié dag in haar werkswinkel op die kleinhoewe beroof en doodgeskiet. Beskuldigde 5 het glo gesien hoe die Beskuldigde 1 van die toneel weghardloop.

“Hy [die ‘baasbrein’] het die slagoffer se plot gekoop. As gevolg van die koop van die plot moes hulle ʼn polis in hul name uitneem. Die polisse is in sy [die ‘baasbrein’] se naam uitgeneem. Net twee maande nadat die polis uitgeneem is, is die oorledene by haar winkel beroof en ook na bewering deur Beskuldigde 1 doodgeskiet. Die polis van R1,8 miljoen is aan hom [die ‘baasbrein’] uitbetaal.”

Jansen van Rensburg is vermoor nog voor sy die koopkontrak van die kleinhoewe kon onderteken en die eiendom is dus nooit op die “baasbrein” se naam geregistreer nie.

Van der Walt het gesê daar was destyds nie genoeg bewyse om enigiemand vir die moord te vervolg nie. Die dossier is na die direkteur van openbare vervolging (DOV) gestuur om op rekord te bly.

“Op 26 Januarie 2017 het ʼn getuie na ons gekom en ons inligting gegee oor die verdagte [Beskuldigde 1] waarna ons soek. Hy is die dag daarna om 02:15 op die plaas van Beskuldigde 2 (die ‘baasbrein’) in hegtenis geneem,” het Van der Walt getuig.

Beskuldigde 1 het daarna in die hof verskyn en is borgtog in die Rustenburg-landdroshof toegestaan. Die moordsaak is destyds tydelik van die hofrol geskrap aangesien daar nie genoeg bewyse was nie.

“Die DOV het my gevra om nog ʼn getuie te soek. Ek het die getuie in die Vrystaat opgespoor. Die getuie het daar gaan wegkruip aangesien sy glo gedreig is. Sy het aan my gesê Beskuldigde 2 het haar met die dood gedreig,” het Van der Walt gesê.

Van der Walt het getuig toe inligting van Anisha en Joey se verdwyning aan die lig gekom het, het hy opdrag van die DOV gekry om die werknemer weer in verband met die Rustenburg-saak aan te keer. Die “baasbrein” is egter nooit amptelik in hegtenis geneem in dié verband nie, aangesien die polisie nog vir bewyse gewag het voordat hy uiteindelik Dinsdag in hegtenis geneem kon word.

Die beskuldigdes se borgtogaansoeke in Anisha en Joey se saak word weer in April in die Brits-landdroshof aangehoor.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie.

Die hof het tydens die borgtogaansoeke gehoor die vroue is glo aan hul hande in ʼn skeepsvraghouer opgehang waar hulle na bewering verkrag en vermoor is. Suur is daarna glo oor hul liggame gegooi en hulle is aan die brand gesteek voordat van die beskuldigdes glo die oorskot in ʼn beboste gebied gaan stort het.

Die voorval hou na bewering verband met ʼn eiendomstransaksie. Die hof het vroeër gehoor die “baasbrein”, ʼn paneelklopper wat sy werkswinkel op Anisha se kleinhoewe bedryf en gehuur het, het R1 000 000 kontant in sy besit gehad wat hy in sy plaashuis aangehou het. Hy het glo die koopkontrak laat opstel en die vroue voor hul verdwyning gedwing om dit te onderteken.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wonder ·

Geen genade moet teenoor hulle getoon word nie. Al sy bates moet verkoop word en aan die geld aan Mandie se familie gegee word.

Veritas ·

‘Baasbrein’ is al 52 jaar oud. Hy het eenmaal weggekom met moord en dit toe weer probeer. Was die vorige keer wel die eerste keer? Dit sal dalk die moeite werd wees om nog bietjie langer terug te gaan rondkrap.

Gesiggie ·

Nee kyk hierdie baasbrein het seker gedink hy is baie slim, maar nou is hy mooi uitgevang… en ja Wonder ek stem daai geld moet aan die familie gegee word… maar glo my hy het dit al lankal seker geblaas.. hoe siek moet n mens wees op iemand so wreed te vermoor, nou kom al sy ander dade ook uit? dat jou gewete jou nie pla , Jy is n siek mens, maar jou dag sal kom… ek is net bly die saak word nou amper afgehandel sodat die familie van Joey en Anisha ook net vrede kan kry….

Me ·

Volgens my, ENIGE iemand wat vir moord aangekla word moet nie eens oorweeg word vir bail nie.

Blom ·

“Oh my word”.
Hoe leef mens met jouself saam na so ‘n daad?

Liezl ·

Abe, Dis…..Oh my word, word gebruik in ‘whatsapp taal’

E ·

“O my wêreld !” of “O my word !”.
m.a.w. dit is vreeslik erg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.